Het die kerk ʼn rand? Die vraag self is al besonders, asof ons daaroor moet besluit. En as dit moet, wie moet die knoop deurhaak? Iemand wat tot die kern behoort? Ek dink aan Jesus wat na sondaars toe gegaan het, en nie deur die “kernlede” van sy volgelinge verstaan is nie.

Jesus Christus vergader mense na Hom toe. Sommige van dié lyk asof hulle naby is, ander vêr. Maar as Christus herkenbaar is, sien ʼn mens iets van die kern van die kerk. Ons lees ook dat die lede van sy liggaam wat die swakste lyk, die noodsaaklikste is (1 Korinthiërs 12:22). Dit gee ʼn ander kyk op die sogenaamde “randlidmate”. Hulle is die meeste nodig — vir die hele liggaam!

ʼn Mens kom dit agter wanneer jy hulle opsoek en met hulle praat. Dan kom alles wat jy in Christus het en met hulle sou wou deel, na vore. Jy ervaar hoe ʼn wonder die geloof is. Iemand het gesê dat om aan die rand te trek, is soos om aan ʼn dooie perd te trek. Dit mag so wees, maar só dood was ons almal op ʼn tyd. Hierdie besef hou jou nederig en maak jou geduldig terwyl jy ʼn lewe probeer red.

Daar, op die grens tussen kerk en wêreld, klop die hart van die kerk wat hom wil ontferm. Wees eerlik; jy voel nie altyd die adrenalien terwyl jy in gesprek is met lidmate by wie alles in orde lyk nie.

Aan die rand is daar ook dikwels meer geleenthede. Vra aan iemand wat met sy geloof in ʼn doodloop straat is of hy kontak het met ander met wie dit net so gaan. Sommer gou het jy ʼn groepie bymekaar vir wie die Herder die res van sy kudde sou laat staan. Hy soek immers sy verlore skape op!

Is dit nie so dat daar op so ʼn manier baie “kern”-gesprekke by die rand sal plaasvind nie? En hoeveel van die gesprekke in die kern van die gemeente, gaan eintlik oor “rand”-sake?

 

B Luiten