Hoe is die kerk in die gemeenskap sigbaar?

Die kerk moet ongetwyfeld missionêr besig wees, maar moet nie so daarmee oorweldig word dat dit nie meer ʼn opvallend kenmerkende posisie, met ʼn onverskrokke boodskap en etiek, in die samelewing inneem nie.

Tim Keller se boek Center Church het bygedra tot die entoesiasme vir kerke met sterk leiers wat ʼn kerkleër laat opmars om die wêreld en die maatskappy van allerlei goddelose kwaad te bevry. Daarmee sou die kerk deelneem aan die groot onderneming van God om die wêreld te vernuwe. Inderdaad ʼn meevoerende en warm perspektief.

Tog word die vraag tereg gevra of dit nog in die kerk van die Nuwe Testament die geval is. Word die kerk nog opgesweep om op dié manier die wêreld in te gaan? Volgens die nuwe missiologie is die kerk die uitverkore instrument van God in sy herstel van die wêreld. God het die nuwe wêreld in die oog. Dit gaan nie (meer) oor die kerk nie, maar oor die wêreld. Die kerk moet saamwerk aan die missio Dei. Hulle moet die spore van die ingrepe van God in die wêreld ontdek en daarop inspeel. Daar waar protes is teen onderdrukking, armoede, agterlikheid en derglike, daar breek die ryk van God reeds aan. As die kerk nie God se trein wil verpas nie, moet sy sorg dat sy dáár is.

Die kenmerkende kerk

Aan die einde van sy lewe op aarde het Jesus oor die sending van sy apostels gepraat. Dit is indrukwekkende woorde wat die kerk haar eie moet maak. Ons lees niks oor planne vir wêreldverowering of -hervorming nie. Wel nadruklik, in al die evangelies, van die opdrag tot bekering, die ontvangs van die vergifnis van sonde en om as gelowiges in kerklike verband saam te werk. Die geskiedenis toon dat op hierdie manier ʼn suurdeeg die wêreld ingedra is. Bekering en kerkwees hét mense en kulture verander, maar dan wel in daardie volgorde.

Die kerk, met haar unieke Bybelse leer en onverskrokke etiek, was kenmerkend in ‘n samelewing; dikwels selfs die teiken van laster en vyandigheid. Daardie teenstanders wat ernstig kennis geneem het van die kerk en die kerklike lewe moes egter hulle menings grondig hersien.

Aangepas

Soos die kerk haar by die kultuur aangepas het dat die verskille met die wêreld en ander welmenende mense en gelowe verwater het, het haar kenmerkende plek verdwyn. Deur hervormings en herlewings het God die kerk telkens teruggeroep om weer haar unieke plek in te neem.

So ʼn hervorming is weer wêreldwyd aan die gang. In Europa en Noord Amerika word die kerk deur haar weggesakte identiteit geskud en geteister. In ander wêrelddele moet sy veg teen oppervlakkige bekerings met die oog op die maatskaplike welsyn, gesondheid en vernuwing.

ʼn Wyse les

Daar is baie redes om entoesiasties te wees oor al die aktiwiteite waarmee sonde en vloek teëgegaan word. Ons kan ons hoed afhaal vir die baie werkers, organisasies en gesagsfigure wat daagliks daarmee besig is. Laat die kerk in al die woelinge egter kenmerkend kerk wees. Laat sy haar by haar lees hou: oproep tot bekering, kwytskelding van sonde verkondig, die lof van God verkondig, die sakramente bedien, die gesamentlike verbondenheid in leer en lewe bewaar, die diens van barmhartigheid, waarmee goed gedoen word aan alle mense, maar in besonder aan geloofsgenote, wêreldwyd. In die loop van die geskiedenis het die kerk die wyse les geleer dat jy nie oral besig kan wees nie, hoe belangrik die aktiwiteite ook al mag wees – dat sy haar moet beperk tot kerklike sake.

Nie alles is sending nie

Die kerk moet mense stimuleer tot ʼn unieke, kenmerkende lewe én gekwalifiseerde uitgesoekte gelowiges uitstuur om doelgerig besig te wees om ongelowige mense tot bekering te lei. Sy moet nietemin daarop let om nie, uit vrees dat daar niks meer aan sending gedoen word, álles sending noem nie. Om nie met Goddelike sendingsywer en missionêr kerkwees, die aanklag van ongeloof teen die wêreld na te laat nie. Om mense nie onder die indruk te bring dat hulle in massas die strate moet ingaan, omdat hulle ‘almal sendelinge’ is nie. Dat die kerk deur eie insette die hemel op aarde wil bewerkstellig, of dat sy met haar dade heil moet bewerk, in plaas van om uit genade te lewe nie.

In Lukas 10, net na die gelykenis van die barmhartige Samaritaan, beskryf die Bybel hoedat Jesus die ywerige en jaloerse Marta pastoraal vermaan. Daarmee het Hy Maria, wat die één noodsaaklikheid gekies het – om na Hom te luister – beskerm. Sou die Gees die kerk toe al waarsku om nie met aktivisme op loop te gaan nie? Sodat die spreek van en lewe uit genade kenmerkend sal wees van die kerk?

Kees Haak

(Nederlandse Dagblad, 2013)