Bron: De Wekker. 2 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

2 Korintiers 5:1 - 'n Vaste Vertroue...

Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ʼn gebou het van God, ʼn huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele.

2 Korintiërs 5:1

bergklimmer

Vertroue op God is ’n baie kragtige Bybelse woord. Dit gee vastigheid in jou lewe. Jy hou daaraan vas. Die vraag is of dit klop met die werklikheid.

Hierdie perikoop is ’n oproep van Paulus om nie moed te verloor nie. Die gemeente in Korinte het onder verdrukking gelewe. ’n Tyd van verdrukking is ’n moeilike tyd waarin die geloof behoorlik in die spervuur kom. Selfs die dapperste soldaat kan dan moed verloor.

Maar is daar werklik rede daartoe? In die krag van die geloof sou mens sê: Nee. Maar as die geloof onder swaar druk kom, staan dit, as ons eerlik wil wees, heeltemal anders.

Die geloofslewe is onder ons dikwels kwynend en gebrekkig. Daarom is die gesonde leer, gegrond op die Skrif en die belydenis, so heilsaam; want dit is die Skrifte wat vir ons getuig van die vastigheid en betroubaarheid van die Woord van God. Deur die werking van die Gees van God kan ons sien dat die Woord aan ons sekerheid verskaf. Nie ’n sekerheid wat ons in óns het nie, maar ’n Bybels gegronde geloofsekerheid in Christus Jesus. Daarom kan ons die Here Jesus vol vertroue die vaste Rots van ons behoud noem; ons deel, ons ewige goed.

Helaas is hierdie sekerheid dikwels ’n skaars artikel onder ons. In die Middeleeue het die kerk van Rome dié sekerheid van die mense weerhou. Die gewone mens het in konstante onsekerheid en twyfel geleef. Veral Calvyn het hom fel daarteen verset. Hy het die ware geloof gedefinieer as ʼn ‘vaste en sekere kennis’. Die Heidelbergse Kategismus, Sondag 7, omskryf die ware geloof as 'n ‘vasstaande kennis en 'n vaste vertroue’. Wat wil ’n mens meer hê? Tog bly die geloofsekerheid, al word daar dikwels oor gepreek, ’n skaars artikel. Waarom?

Die Heiliges van die Bybel🔗

Hoe het die heiliges van die Bybel, soos Abraham, Job, Dawid, Johannes, Petrus en Paulus daaroor gedink? Hulle was nie mense wat baie van hulself gedink het nie. Hulle het hulself inteendeel laat ken as arme, verlore sondaars. Maar hulle hoop en verwagting was op die Here hulle God gevestig. Hulle het vol vertroue aan die beloftes van God vasgehou. Hulle kon dit van harte beaam. Abraham was beslis nie volmaak nie. Maar toe die Here hom roep om weg te trek uit sy land, het hy getrek. Hy het nie aan die belofte van God getwyfel nie; ook nie toe hy met Isak die berg Moria op is nie.

En Job, hoewel hy swaar beproef is, het God nie verloën nie, maar eerder die ontroerende belydenis uitgespreek “Maar ek, ek weet: My Verlosser leef” (Job 19:25). Op sy siekbed kon Dawid vol vertroue uitroep: “Geloofd sy die HERE, die God van Israel, van ewigheid tot in ewigheid! Amen, ja amen” (Psalm 41:14). En Petrus roep ons op om ons roeping en verkiesing vas te maak (2 Petrus 1:10).

Die Hebreërbrief wys na daardie pragtige simbool van hoop: “ʼn anker van die siel wat veilig en vas is” (Hebreërs 6:19). Johannes getuig: “Ons weet dat ons oorgegaan het uit die dood in die lewe..." (1 Johannes 3:14). Hoe ’n geweldige houvas het dié wete, hierdie vaste vertroue, nie in hulle lewe gegee nie.

anker

En dan Paulus. Hy kon in die brief aan die Romeine van die geloofsekerheid uitroep:

Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.Romeine 8: 38, 39

Die Sekerheid van ’n Ewige Huis🔗

Wanneer dit gaan om ons ewige bestemming, voer die sekerheid van die geloof dus by Paulus die botoon. As Paulus begin met: “Want ek is verseker...”, dan is dit die sekerheid van die vaste vertroue. Vir die apostel beteken dit dat wanneer die aardse tent waarin ons woon, ons aardse bestaan, afgebreek word en ons die aardse agterlaat, ons nie in ’n eindelose diepte val nie, maar dat ons vir ewig tuis kom. ’n Gebou van God wag vir ons in die hemel.

Geen mensehande het daaraan gewerk nie en dit het ook geen menslike tekortkominge of beperkings nie, want dit is ’n ewige huis. Dit het nie alleen onbeperkte ewigheidsbetekenis nie, maar elkeen wat die heil deelagtig is, sal daar ook ewig tuis voel.

Paulus verheug hom nou al daaroor dat dit hom te beurt sal val. Hy kan nóú in die sekerheid lewe en in dié sekerheid kan hy straks sterwe. Dit sal sy deurgang wees na die ewige vaderhuis by God. Paulus was verseker dat die lewe na die dood vir hom berei is en dat God hom sal opneem in sy heerlikheid.

Wat ’n vreugde vir die kinders van God om só, met vertroue op die beloftes van God, hierdie ongekende, ryk toekoms tegemoet te kan gaan. Laat dit ons hoogste verlange wees.