Bron: Die Kerkblad, 1986. 2 bladsye.

P. J. W. Schutte - 'n Leier van Formaat

Schutte

Vandag staan die huisie verlate en vervalle – ’n stille herinnering aan ’n groot figuur uit die geskiedenis van die Gereformeerde Kerk. Hier­die huis, minder as ’n uur se ry van Potchefstroom en naby die Gats­rand, was eens ’n trotse opstal op Buffeldoorns. Dit was die plaas van Philippus Jacobus Wilhelmus Schutte.

Hierdie man was ’n bittereinder van ’n ou waarheid. Gebore in 1805, het hy geleef toe die Liberalisme ’n aanslag op bykans alle lewensterrei­ne gemaak het. Daar was, op poli­tieke gebied, die stryd rondom die Slagtersnekrebellie (1815), die Swarte Ommegang en die vrystel­ling van slawe (1834). Die verengel­singsbeleid van Somerset beleef hy op sosiale terrein en hy hoor die ge­roep om sogenaamde “volksverlig­ting” wat nou orals weerklink. Op kerklike terrein is die sendingroe­ping destyds vermink tot ’n liberaal filantropiese omgang met anderskleuriges. Die kollegialistiese kerk­regeringstelsel kom in die plek van die Dordtse Kerkorde; die erediens raak al meer humanisties gekleur. Die invoering van Gesange is ’n voorbeeld van hierdie verval.

P.J.W. Schutte word egter in hierdie “verligte” tyd deur sy ouers opgevoed in die ortodoks Gerefor­meerde leer van die Calvinisme. Dit sou sy hele lewe deur vir hom ’n al­lesomvattende lewensleer bly. Op elke terrein van die lewe sou hy God se Woord altyd eerste plaas. Daar­om kan ons praat van Schutte die “kerkman” op elke terrein van die lewe. Twee fases van sy openbare lewe word nou eers bekyk.

1850 – 1855: Die Militêre Leier🔗

In 1849 vestig Schutte hom te Buffelsdoorns. (Dié plaas is oorspronklik as Buffelsdoorn geregistreer, in die volksmond word dit egter gou Buffelsdoorns en vandag is daar in dié omgewing die Gereformeerde Kerk Buffeldoorns. Van hier af het Schutte as kerkman sy leiding op verskillende gebiede van die lewe laat uitgaan.

As gelowige stry hy saam met sy medevolksgenote om die vryheid en onafhanklikheid van hulle nuwe vaderland. Hy tree daarby besonder sterk na vore wanneer hy, saam met die latere Staatspresident Paul Kruger, ondertekenaar is van die Sandrivier-konvensie. Hierdie stuk sou vir meer as 'n halwe eeu daarna die staatkundige ontwikkeling van die ZAR bepaal.

Kort na die ondertekening van die Sandrivier-konvensie is Schutte deur die Volksraad ingesweer as onderkommandant en later word hy kommandant by verskeie straf­ekspedisies teen strydlustige Swart stamme betrokke.

By geleentheid moes hy ’n wapen­smokkelary ondersoek. Dit bring hom toe in kontak met Segeli, ’n bekeerling van David Livingstone. Schutte ontdek toe dat hierdie “be­keerling” al die tyd skuiling verleen aan die smokkelaars en aan ’n moordenaar. By verdere ondersoek ontdek Schutte dan ook dat die smokkelary sy oorsprong had te Kolobeng, by die huis van Living­stone self. Schutte rapporteer dan later aan die Volksraad: Wy vonden geweermakersgereedschappen meer dan Bybels; ook half klaare geweeren, zodat het meer schyn na een geweermakersfabriek als na een school of kerk. Hierop reageer Livingstone deur gerugte die wêreld in te stuur dat die Boere vyande van die sendelinge en wrede verdrukkers van ander bevolkingsgroepe is!

Livingstone

Die werklike rede agter hierdie militêre konflik tussen Schutte en Livingstone lê egter veel dieper. Dit het sy wortels in die konflik tussen die geestestrominge van die Negen­tiende eeu. Livingstone, uit die gees­telike dampkring van die Londense Sendinggenootskappe, was ’n dissi­pel van die Humanisme soos be­oefen in die liberale filantropie. Vol­gens hierdie leer is die mens van nature goed en onskuldig. Die Boer is daarom verantwoordelik gehou vir die laer lewenstandaarde van die inboorlingstamme. Verder is geglo dat Christelikheid bloot bestaan uit ’n algemene verdraagsaamheid teenoor hierdie “onskuldige natuur kinders” wanneer hulle hulle aan veediefstalle en moordtogte skuldig maak.

Maar P.J.W. Schutte was Calvi­nis wat God se Woord op elke le­wensterrein wou laat geld. Hy het in die Bybel geleer dat die mens in die totale verdorwenheid van die sonde voor God staan sonder enige selfver­ontskuldiging: Gesag, ook militêre gesag, is deur God aan die owerheid gegee om orde en wet te handhaaf en dus ook moord as sonde te straf. So is hy op militêre gebied, as geestelike leier, intiem betrokke in die geestelike stryd van sy tyd.

In hierdie verweefdheid van kerk en staat sien Schutte egter ook die ander sy van hierdie verhouding raak: die selfstandigheid van die kerk teenoor die staat. Daarom ver­soek hy in 1853 die Volksraad om die “daarstelle van kerkgelyke orders en wette”. In ’n tyd met ’n vervalle kerkorde stry hy vir die herstel van die Dordtse Kerkorde. As daar in daardie jare aan hierdie versoek van Schutte gehoor gegee is, kan die kerkgeskiedenis vandag heelwat an­ders gelees het. Ongelukkig was hy ’n enkele stem teen die oorweldigen­de golf van die Liberalisme in kerk en staat.

1856 – 1857: Die Politieke Leier🔗

Nuwejaar 1856 was ’n dag wat met huiwering in die hart deur baie bur­gers in Transvaal begroet is. Kerk en staat was in ’n greep van broe­dertwis gewikkel. In die enigste kerk, die Hervormde Kerk, het die spanning tussen die “Lydenburgers”, die “Psalmisten” en die “Van der Hoffers” tot breekpunt ge­kom. Op staatkundige gebied het ge­wapende konflik tussen M.W. Pre­torius en Schoeman se ondersteu­ners gedreig.

Skeuring en broederstryd was op almal se lippe. Soos dit van enige goeie leier verwag kan word, neem pres. M.W. Pretorius die leiding in ’n versoeningspoging tussen die strydende groepe. As vertroueling en raadgewer kies hy uit juis vir P.J.W. Schutte. In so ’n mate is hy deur Schutte beïnvloed dat hy later dit hom ten doel gestel het om ver­soening te bewerkstellig met as grondslag die “Dordtse Sinode”.

Pres. Pretorius wend hom ook tot  P.J.W. Schutte om as sy verteen­woordiger hulp te gaan soek by van die predikante in die Kaap Kolonie. Jare later sou ds. Dirk Postma weer verwys na hierdie veelbewoë jare waarin soveel op P.J.W. Schutte gesteun is. Hy het hom beskryf as ’n burger wat “het wettige over­heid eerende, ondersteunende, ja helpende met raad en daad, al kon hij zich soms ook niet met den gang der zaken vereenigen.”