Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Die Gees sê wat Hy in die Bybel Bedoel

Skrifuitleg

Iets waaraan predikante gewoonlik ure bestee, is Skrifuitleg. Skrifuitleg, oftewel eksegese, verg baie nougesette en kundige arbeid van die predikant. Voor hy sy preek maak, moet hy die Bybelteks noukeurig bestudeer om vas te stel wat die presiese bedoeling daarvan is. Want sy preek Sondag mag nie iets anders sê as wat in die teks bedoel word nie.

Bogenoemde standpunt is nog altyd by voornemende pre­dikante tydens hulle lang studiejare ingeskerp. Nog steeds word dit so gedoen. Lynreg hierteenoor staan 'n nuwe siening wat die afgelope paar jaar besig is om sy kleim in die teologie af te steek. Hierdie nuwe siening kom daarop neer dat dit onmoontlik is vir 'n predikant om vas te stel wat die bedoeling van 'n Bybelteks werklik is.

Waarvandaan die Siening?🔗

Hierdie siening is gebore in die moderne taalkunde onder die naam dekonstruksie. Volgens die dekonstruksie kan 'n skrywer se bedoeling nie teruggevind word in die teks wat hy geskryf het nie. Sodra 'n skrywer sy teks klaar neergeskryf het, bestaan die teks op sy eie los van die outeur. Die oorspronklike bedoeling van die outeur is dan verlore, want die outeur is nie meer daar om te verduidelik wat hy bedoel het nie. Buitendien is die outeur se oor­spronklike bedoeling ook nie meer ter sake nie, want elke keer as iemand die teks herlees, kom daar 'n nuwe betekenis tot stand (vgl. J Derrida, 1978: Writing and difference).

Gedurende die tagtigerjare het die dekonstruksie-teorieë vanuit die taalkunde oorgewaai na die teologie. Die implikasies hiervan vir die Bybeluitleg was ingrypend. Dit het onmiddellik steun gegee vir die gedagte dat elkeen maar die Bybel kan lees soos hy/sy wil. Daar is nie so-iets soos 'n vaste betekenis van die Bybel nie. Buitendien probeer predikante (en ander Skrifverklaarders) tevergeefs om die oorspronklike bedoeling van die outeur vas te stel. Die Bybelskrywers is almal eeue gelede al dood en begrawe. Daarom kan ons nie meer vandag by hulle hoor wat hulle eintlik bedoel het toe hulle die teks neergeskryf het nie (vgl. JH Hunter, 1987: Deconstruction and biblical texts; in Neo-testamentica 21(2):125-140).

Omdat die moderne leser nie kan vasstel wat die outeur werklik bedoel het nie, kan hy hoogstens uitkom by wat hy dink die outeur bedoel het. Maar wat hy dink en wat die outeur bedoel het, is twee verskillende dinge. Eintlik kom die leser telkens maar net by 'n nuwe betekenis uit. So word daar by elke herlees van die teks 'n nuwe beteke­nis geskep.

Die uiteinde van hierdie beskouing is dat die Skrifverklaarder nooit seker kan wees oor wat God in die Bybel aan ons bekend maak nie. Sy uitleg val dan maar gedurig vas in "dit is maar wat ek dink die Here hier wil sê".

Die Heilige Gees die Eintlike Skrywer🔗

Bogenoemde siening maak egter nie genoeg erns met die Heilige Gees as die Eintlike Skrywer van die Bybel nie. In werklikheid is die predikant in sy eksegese nie maar daarop uit om vas te stel wat hierdie of daardie Bybelskrywer bedoel het nie. Sy doel is om vas te stel wat die Heilige Gees bedoel het. Die mense wat die Bybelboeke neergeskryf het, het immers gewerk onder inspirasie van die Gees (Art. 3 NGB).  Al het hulle in die proses hulle eie woorde en taal gebruik, het hulle nie hulle eie bedoelinge neergeskryf nie, maar die bedoeling van die Gees van God. En juis hierdie bedoeling moet in die eksegese nagespeur word.

skryf

Is dit dan vir die moderne Skrifuitlegger moontlik om die bedoeling van die eintlike Outeur, die Heilige Gees, vas te stel? Die dekonstruksie sê nee, dit kan nie, want die outeur is nie meer by ons om te sê wat hy bedoel het nie. Die gelowige sê egter: ja dit kan, want die eintlike Outeur is by ons — elke oomblik — om vir ons te sê wat Hy bedoel.  Sedert die uitstorting van die Gees op Pinkster is die Gees by elke gelowige. Ook by en in elke gelowige Skrifverklaarder. Wie dan wil weet wat die Gees bedoel, moet Hom net vra.

Die teks van die Bybel is dus totaal anders as enige ander teks in dié opsig dat die Bybelskrywer altyd teenwoordig is om sy bedoeling te verduidelik — aan elkeen wat in die geloof Hom daarna vra.

Die Heilige Gees die Eintlike Verklaarder🔗

Daarom is die opregte Skrifverklaarder iemand wat op sy knieë begin en eindig. In gebed vra hy God om hom deur sy Gees te lei en te verduidelik wat sy bedoeling met die teks is. Die opregte Skrifverklaarder is ook iemand wat met groot toewyding en inspanning homself in die Skrif verdiep. Want die antwoord van die Gees kom op geen ander manier nie as deur die Skrif self. Woord en Gees kan en durf nooit van mekaar geskei te word nie.  Die Gees praat juis deur die Skrif.  Deur die Skrif self lei die Gees die gelowiges om reg te verstaan.

In kort beteken dit dat iemand wat nie glo nie, en wat daarom nie die Gees van God het nie, nie by die bedoeling van die Skrif kan uitkom nie. So iemand sal, soos 2 Petrus 3:16 waarsku, die Skrifte verdraai tot sy eie verderf. Maar die gelowige verklaarder, in wie die Heilige Gees woon en werk, kan wel begryp wat die bedoeling van die Gees is, want hy het die Gees by hom.

Die apostel Paulus skrywe: "Ons het nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het" (1 Kor. 1:12). Ook in die woorde van ons Here Jesus hoor ons iets hiervan: "My skape luister na my stem ... en hulle volg My" (Joh. 10:27).