Bron: De Reformatie. 2 bladsye.

God Regeer ook die Ongelowiges

hospitaal

Ek was laas in ʼn gesprek gewikkel met ʼn aantal verpleegsters. Dit het gegaan oor die beoefening van hul beroep en om God se Naam daarin te bely. 

Hulle sien nie veel moontlikhede hiervoor nie. Hulle is tog nie in die hospitaal om te evangeliseer nie? Verbeel jou, hulle sou ook nog in die moeilikheid kon kom by die bestuur van die hospitaal. Nee, dit was hulle Christelike taak om hulle werk goed te doen , betroubaar, sorgsaam en vriendelik te wees. Verder sou hulle ook ʼn gepaste afstand moet handhaaf, deur onder andere die pasiënte in die vryheid van  hulle eie lewensoortuiging te laat. 

Ek verstaan hulle probleem heeltemal. Ek besef ook dat ʼn mens by die eerste skoonmaak van ʼn pasiënt nog nie die basis gelê het vir ʼn diepgaande gesprek nie.

Maar daar is ook pasiënte wat jy meer gereeld sien, omdat hulle langer bly, baie sorg nodig het of wat dan ook. Hulle is dan ook dikwels ernstig siek, maar dit is nie noodwendig altyd so nie. As predikant vind ek ook sulke pasiënte in die hospitaalsale.

Die gedagte dat God óók die lewe van die ongelowiges regeer, speel dan altyd deur my kop (Amos 9:7) en dat dit daarom ook nie toevallig is dat ek op sy weg geplaas is nie. Ek wil ons ontmoeting juis vanaf hierdie kant bekyk.

Stel u voor: iemand glo nie in God nie en lewe goddeloos. So het daar al baie jare van sy lewe verbygegaan met heelwat onheilighede. Dan kry hy skielik (van God) ʼn geswel in sy maag waarby die ergste gevrees word. Hy word in die hospitaal opgeneem om daar oor sy lewe en toekoms na te dink. Dan ontvang hy daar, uit God se hand, ‘n Christen-verpleegster langs sy bed. Soewereine bestuur! Wat sal God se doel daarmee wees?

Het die Christen dan in sy situasie genoeg gedoen as hy sy verpleegkundige handelinge korrek en vriendelik uitgevoer het? Of het God nog ʼn ander verwagting van hom? Ek dink verseker dit is laasgenoemde! Omdat God daardie persoon aan jóú sorg toevertrou het. En ook omdat dit elke dag ons eerste bede is (elke dag opnuut!), dat God sy Naam deur ons bekend sal maak.

Ek sou ook nie kon dink wat die beswaar sou kon wees teen ʼn eenvoudige vraag: ‘Meneer/mevrou, glo u in God?’, en moontlik aangevul met ‘Hy sou so baie vir u kon beteken’.

Watter hospitaal sou so ʼn vraagstelling met goeie reg kan en mag verbied? Jy vra tog ook hoe iemand voel? Dit kan oor lewe en dood gaan!

Hierdie gedagtes is nie beperk tot die werk van die verpleegkundige nie. Ek kan my voorstel dat ʼn Christen-sielkundige, ʼn maatskaplike werker of wie dan ook homself gedurig afvra: ‘Waarom bring God hierdie persoon, heeltemal ongelowig, na my toe? Wat is Sy doel daarmee? Wat sal ek as Christen vir hom beteken?’ Hierdie vrae laat hulle nie bevredigend beantwoord deur slegs ʼn deskundige aanpak te hê nie. Die vraag na persoonlike geloof is op hierdie terreine ook ʼn wesenlike saak, met moontlik daarby ook ‘n vriendelike appèl.

dokter praat met pasient

Stel u voor, ʼn magtige direkteur wat God nie ken nie en wat slegs kan dink in syfers voor die komma, kry op ʼn goeie dag ʼn Christen-boekhouer in sy diens. Hy het nie self daarvoor gekies nie, hy het slegs gevra vir iemand met kwalifikasies, maar God beskik dit so in sy besigheid. Wat sou God se plan daarmee wees, wat sou Hy daarmee bedoel? Die direkteur weet nie, maar die boekhouer wel.

En so kan ons nog baie voorbeelde gee.

God lei die lewe van die ongelowiges, so plaas Hy hulle soms op ons pad. Elkeen kry daarmee te make, vroeër of later. Dan is dit belangrik dat ons nie die geleenthede onbenut laat verbygaan nie.

Jy kan moeilik later sê dat jy iemand laat verlore gaan het, net omdat jy hom nie wou kwets nie.