Bron: Kompas, 2002. 2 bladsye.

In Heiligheid en Eer - Oor die Keuse van ʼn Lewensmaat

Trouringe

“Ou seun, trou is nie perde koop nie” so het die “ou” mense altyd gesê. Hulle is reg. Trou, oftewel die keuse van ’n lewensmaat, is veel meer as “perre koop”. Om nog ’n ou uitdrukking te gebruik: ’n Gegewe perd kan mens dalk nog in die bek kyk, maar jou lewensmaat is God se permanente gawe aan jou. Daarom moet mens seker maak dat jy die regte keuse maak.

Dink daaraan dat ons trou op die gemiddelde ouderdom van 23 jaar en dat ons gemiddeld ongeveer 60 jaar oud word. Dit beteken dat jy vir twee derdes van jou lewe in ’n permanente en intieme verhouding met een mens gaan staan. Dit terwyl jy vir een derde van jou lewe op jou eie was. In hierdie tyd van getroud wees gaan daar ingrypende dinge met julle gebeur. Dinge soos beroepskeuses, kinderopvoeding, siektes en ’n lewe in ’n veeleisende wêreld. Die manier waarop julle in julle lewensbootjie die dinge gaan trotseer sal bepalend wees. Dit is dus wys om te weet saam met wie ek in die skuitjie van die huwelik wil klim.

Raad uit die Skrif🔗

Vir die mense in Thessalonika was dit nie anders nie. Ook hulle ongetroudes moes as Christenmense ’n lewensmaat kry. Dink jou in. Daar was geen vorige geslag Christene nie. Waarvandaan sou ’n jong Thessalonisenser sy of haar lewensmaat kry? As hawemense het hulle gedurig die skepe sien inkom met vragte vol kosbaarhede. Die skepe het die stad en sy lewe wesenlik beïnvloed. Die skip het sy eienaar arm of ryk gemaak. Ook die gemeentelede moes die haweverkeer van die dokke af gadeslaan en wonder oor hulle eie verkering. “Wanneer” kon die ongetroude jongmens dink, “sou my skip kom?” Die Heilige Gees gee hulle in 1 Thessalonisense 4 riglyne waarvolgens hulle hierdie belangrike keuse moes maak. Interessant genoeg kan die “vrou” waarvan vers 4 praat en wat “verkry” word, ook met “skip” vertaal word. Dan kom die raad. Daar is ’n positiewe en ’n negatiewe aspek in die keuse van die huweliksmaat. Die keuse van die regte vrou moet positief, in heiligheid en eer gemaak word en nie negatief, in hartstogtelike begeerlikheid soos die wat God nie ken nie (:5). Kom ons raak prakties vanuit die raad van die eerste brief aan die Thessalonisense.

Die inisiatief is primêr by die man. Dit is hy wat die vrou moet “verkry”. Dit sien ons regdeur die Skrif. Natuurlik is die vrou nie passief in die verkering nie. Sy moet ook seker wees dat die aanspraakmaker haar sal bemin soos Christus leer. Sy moet hom ook liefhê in Christus. Sy mag trou met wie sy wil “mits dit in die Here is” (1 Korinthiërs 7:39). Sy het egter ’n voorsprong. Juis sy gedrag teenoor haar sal vir haar die deurslag gee!

Inskakeling by die Gemeente🔗

Dit is belangrik dat die huweliksmaats nie net by mekaar inskakel nie, maar ook by die hele gemeente. Dit beteken in die gemeenskap van heiliges, by jou ouers, by jou vriende, by die kerklike lewe en aksies. Die rede is dat die hele gemeente die liggaam van Christus is (1 Korinthiërs 6:17-18; 7:39). In die gemeente is die heiligheid en eer waarvan Thessalonisense praat duidelik gekwalifiseer. Dit is die heiligheid en eer van Christus wat die hoofsaak is. Hy word daar in die gemeente in heiligheid en eer gedien. Die gemeente se lewe staan soos dag teen die nag van die heidene wat in hartstogtelike begeerlikheid in ’n verhouding vasgerank en verstrik word. Vra jouself dus af hoe die lewensmaat se verkeer met almal in die gemeente is. Is daar ’n respek en liefde vir Christus en vir sy Woord? Is daar eerbied vir jou ander vriende? Is daar eerbied vir jou ouers se vereistes vir julle verhouding? Is daar respek vir jou eie standaarde? Kan julle net so goed kuier en gesels tussen ander as wat julle alleen is, of is die alleen wees die enigste trekpleister? Indien dit die laaste is, moet die rooi liggie flikker. Onthou hartstog kom nie net by heidene voor nie. ’n Verhouding wat begin is in en ook nie kan bestaan sonder “hartstogtelike begeerlikheid” nie, sal moeilik bestaan as daar nie meer hartstog is nie. In die lange jare van getroud wees neem die hartstog ’n baie klein plekkie in. Die bepalende is veel meer die inskakeling by die gemeente en by God se wil! In ’n snel veranderende kultuur van vrye liefde, disrespek vir ouers en kerkloosheid lyk die volgende riglyne handige ligtorings te wees wat ons skippie waarsku teen ruwe rotsbanke van ellende en hartseer.

wrak

Praktiese Vrae oor Inskakeling:🔗

  • Vir ’n nuwe lidmaat. Skakel hy of sy werklik in by die hele gemeente? Dit sluit in die leer van die kerk in al sy dimensies en ’n heilige lewenswandel met God. Bespreek julle hierdie dinge en is daar redelike konsensus? Stem jou maat saam oor die verval in die tradisionele Afrikaanse kerke en sien hy/sy die noodsaak om daarteen op te tree?

  • Hoe kom jou maat met jou ouers ooreen? Wat is jou ouers se indrukke van jou maat en waarom is hulle dalk versigtig? Neem jy hulle opinie ernstig genoeg op? Bespreek die saak ook met hulle. Wat sê jou vriende?

  • Sien jy by jou maat ’n opregte eerbied en agting vir Christus?

  • Hoe spandeer julle julle vrye tyd? Is daar gesonde en gebalanseerde benutting van tyd? Doen julle byvoorbeeld projekte en stokperdjies saam?

Kommunikasie🔗

Dit is nou maar net so dat mans en vroue tog op ’n manier “anders kommunikeer”. ’n Rasionele argument en fisiese kontak sal veel meer na vore kom by die man, en emosionele vrae en soeke na geborgenheid by die vrou. Die fyn verskille vloei uit die wonderlike samestelling wat die Skepper in ons ingebou het. Hy het ons man en vrou geskape. Die geslagtelikheid deurdrenk ons hele wese. Man-wees en vrou-wees is deel van ons. Dit bepaal daarom hoe ons kommunikeer. Maar tussen mense van dieselfde geslag is kommunikasie ’n kuns, en net so tussen verskillende geslagte. Dit vra om te luister en nederig en eerlik te luister en te formuleer. Kommunikasie het dan ook weer verskeie vlakke. Dit groei van die gewoon byna niksseggende interaksie van “more” of “daaaaag” na die mees intieme kommunikasie van diepste gevoelens deel en konstruktief uitwissel met mekaar.

Hier moet ons gou ’n illusie uit die weg kry. Die seksuele word bepaal deur die vermoë tot kommunikasie en nie andersom nie! In gewone taal beteken dit die seksuele is nie so onmisbaar as wat die wêreld (die heidene) jou wil wysmaak nie. Daarom is ’n verwarde professor se onlangse (ver)raad dat verloofdes eers intiem moet wees voor hulle trou ’n leuen van Satan self. Daar is immers menige paartjies wat heel goed kon liefkoos, wat later met droewige gevolge uitmekaar gegaan het. Veel belangriker is die vermoë om boesemvriende te wees. ’n Liefdesverhouding tussen man en vrou, gewortel in vriendskap, is veel meer deeglik en omvattend as die eendimensionele fisiese verhouding. Dit is gerat om, met die krag van die Heilige Gees, die ergste trotsering te kan deurstaan.

Praktiese Vrae oor Kommunikasie:🔗

  • Is intieme kontak reeds van vroeg af ’n deel van julle verhouding? Kan julle heerlik kuier sonder enige aanraking en kuier julle net so goed met vriende en julle ouers as alleen?

  • Kan julle ’n saak wat spanning bring regtig uitpraat sodat altwee werklik gelukkig is? Erken jou maat sy aandeel van die fout? Word julle wedersyds in ag geneem in beplanning van ’n saak? Hoe kommunikeer jou maat met ander?

  • Wat is julle rolverwagtings van mekaar? Kan julle mekaar vind in die model van Efesiërs 5:21-33? Pasop maar vir ’n meisie wat die sake te veel wil reël en net so vir ’n man wat dit te maklik laat reël!

  • Hoe lyk jou maat se gebedslewe? Is daar ’n lewende kommunikasie met God in sy/haar lewe?

Hierdie is maar ’n paar gedagtes, maar hulle sal jou verseker help in jou allerbelangrike keuse. Mag God jou lei deur sy Gees.