Bron: Kompas, 2006. 1 bladsye.

Skaamte

skaam

Dit is nou weer een van daardie dinge waarvan ons maklik kan dink almal weet presies wat dit is, totdat jy daaroor begin praat (of skryf!). Dan kom jy agter dat dit oor veel meer en dikwels oor iets totaal anders as die seksuele gaan. Ek herinner my nog heel goed wat een van my tantes ʼn keer vertel vanuit haar ervarings as verpleegsuster. Op ʼn onvanpaste oomblik het sy in die hospitaalkamer van ʼn manlike pasiënt ingestap. Hy, sonder ʼn draad klere aan, het hom geskaam en kon niks beter doen as om sy handdoek voor sy gesig te hou nie. Daar het u dit! Skaamte laat ʼn mens jou gesig bedek! Hy wat hom skaam, kry ʼn rooi gesig! Jy weet nie wat om met jouself voor ander te doen nie.

Skaamte het te doen met die manier waarop jy kyk of aangekyk word. Skaamtebesef kan verseker nie beperk word tot die seksuele ervaring daarvan nie. Wanneer Adam en Eva bewus word van hul “naaktheid”, beteken dit nie dat hulle seksualiteit vir die eerste keer ontwaak nie! Asof hulle voor die sondeval nie van hul seksualiteit of die prikkelbaarheid daarvan bewus sou wees nie! Só lees mense dikwels die vertelling oor Adam en Eva. Adam en Eva sou eers ʼn naïewe vorm van seksualiteit geken het. Seksuele hartstog word in hierdie weergawe natuurlik dan die gevolg van die sondeval. Die gedagte dat erotiese spanning nie deel was van Adam en Eva se prelapsariese (voor die sondeval) ervaring nie, is meer mite as feit.

Deel van die feit dat man en vrou na die sondeval van die Here klere kry om te dra, sou daarmee te doen hê dat hul skaamte (geslagsdele) bedek kon word. Die Bybel vra egter geen spesifieke aandag daarvoor nie.

Skaamte gaan oor veel meer. Vanaf die begin was man en vrou bedoel om vrugbaar te wees, een vlees te wees; het hulle tot mekaar aangetrokke gevoel (Genesis 2:23) en was hulle naak by mekaar. Wat eers nie daar was nie, kom deur die sonde. Die skaamte kry ʼn plek in God se skepping. In Genesis gaan skaamte oor die vervreemding wat daar plaasgevind het tussen man en vrou. Hierdie vervreemding kom daarvan dat hulle “oë geopen is”. Hulle word “wyser”. Hulle word soos God. Maar anders as wat die slang te vertelle gehad het, bring dit vir hulle geen geluk nie. Adam en Eva besef nou wie hulle voor mekaar is – hulle word nou blootgestel aan die ander se “wetende” kyk. Dit alles word te veel vir hulle.

Bedekking het nodig geword. Daarom die kleding. Nie in die eerste plek as versiering of openbare sede nie. Met die kleding word ʼn grens getrek in die onderlinge omgang met mekaar. ʼn Grens vir jouself en die ander. Kleding skerm my af van die alleswetende blik van my naaste. Ons hoef nie alles van mekaar te weet nie, want dit is net vir God beskore. Ons moet met ons kleding mekaar help om nie te probeer God wees nie.