Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Redelike godsdiens: 'n dankbaarheidslewe

Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle julle liggame stel as 'n lewende, heilige en aan God welgevallige offer - dit is julle redelike godsdiens.

Romeine 12:1

Less: Romeine 11:33-12:8

Ons moet redelike mense wees, word gesê. Ook in ons godsdiens moet ons redelik wees. Dit beteken dat ons 'n redelike en billike kans aan alle godsdienste moet gee. Ons moet daarvan wegkom om ander godsdienste vals of heidens te noem. Ons moet bereid wees om hulle te akkommodeer. "Godsdienstige verdraagsaamheid" - dit is die moderne definisie van 'n redelike godsdiens.

Maar tog nie só modern nie. In die tyd van die apostels het die Grieke dieselfde godsdienstige redelikheid voorgestaan. Dink maar aan die Atheners. Toe Paulus op sy tweede sendingreis daar by hulle aangedoen het, het hy 'n altaar gesien wat hulle opgerig het met die inskripsie: Aan 'n onbekende god. Hulle het 'n altaar gebou vir 'n god wat hulle nie eens ken nie. Dit was mos baie redelik van hulle. Dit was godsdienstige verdraagsaamheid by uitnemendheid.

Pas só 'n redelike godsdiens by die Christen? Allermins! In Romeine 12:1 skryf Paulus aan die Romeine - ja, hy vermaan hulle - oor wat hulle as hulle redelike godsdiens moet beskou. En die redelike godsdiens wat hy vir die gelowige uitspel, is iets totaal anders as godsdienstige verdraagsaamheid en akkommodasie.

Dit is opvallend dat die oorspronklike woorde waarmee Paulus "redelike godsdiens" aandui, nie op "billikheid" of op "verstandelikheid" dui nie. Die 1983-vertaling gee dit weer as "wesenlike godsdiens". Eintlik dui Paulus se woorde op iets wat eg en vas is. Ons godsdiens is eg as dit op 'n vaste fondament staan. Egte godsdiens is nie gevestig op die idees wat die wêreld aan ons voorhou, op dit wat hulle as redelik beskou nie. Waarop is dit dan wel gevestig? Op die ontferming van God, skryf Paulus. Ons redelike godsdiens bestaan dus daarin dat ons God dien op grond van die groot ontferming wat Hy aan ons betoon het.

Watter groot ontferming het Hy betoon? As 'n mens die hele Romeinebrief in oënskou neem, val dit op hoe dit die groot ontferming van God beskryf aan die hand van die offerdiens van die Ou Testament. In Levitikus 4 tot 7 lees ons van die voorskrifte vir die verskillende offers wat Israel aan God moes bring. Die berouvolle sondaar moes 'n skuldoffer na die tempel bring om versoening vir sy sondes te bewerk. Daarom is dit ook 'n soenoffer genoem (Lev. 4, 5 en 6). Daarna het die dankoffer gevolg, as bewys van die mens se dankbaarheid vir die versoening met God.

Dit is duidelik dat Paulus in die Romeinebrief by die volgorde van hierdie offers aansluit. Nadat hy in Romeine 1 tot 3 oor die mens se sonde en doemwaardigheid geskryf het, dui hy in hoofstukke 3 tot 11 aan dat God self die soenoffer vir ons sondes voorsien het: sy Seun Jesus Christus. Dit is die groot ontferming wat God aan verlore sondaars bewys het, naamlik dat Hy sy Seun aan die kruis as soenoffer vir ons sondes laat sterwe het. Hierdie deel van die brief sluit Paulus dan ook af met die lofprysing aan God in Romeine 11: 33-36.

En dan daarna, in die laaste deel van die brief, wat in hoofstuk 12 by ons tekswoorde begin, kom Paulus by die dankoffer. Op grond van die groot ontferming van God, op grond van die soenoffer van sy Seun aan die kruis, is ons nou 'n dankoffer aan God verskuldig. Dit, en niks anders nie, is dan ons ware, egte, "redelike" godsdiens: dat ons die dankoffer aan God bring vir sy genade — "dat julle jul liggame stel as 'n lewende, heilige en aan God welgevallige offer."

Ons liggame offer! Hoe doen ons dit? Deur êrens as martelaar op 'n altaar te sterf? Nee, so letterlik kan ons dit nie opneem nie. Dat dit nie so letterlik bedoel word nie, sien ons daarin dat Paulus skryf dat ons liggame 'n lewende offer moet wees. Ons hele lewe, met alles wat ons is en het, moet ons in dankbaarheid tot beskikking van God stel. Weer die vraag: Hoe doen ons dit ? Die antwoord vind ons in die woorde'' 'n heilige en aan God welgevallige" offer.

Reeds in die Ou Testament (Lev. 6 en 7) het God die eis gestel dat 'n offer aan Hom heilig moet wees, dit wil sê sonder gebrek of smet, vir Hóm afgesonder. So moet ons ook ons hele lewe as onbesmette dankoffer vir God afsonder. Beteken dit dat ons foutloos moet wees? Of dat ons ons eenkant moet afsonder soos in 'n Roomse klooster? Hoegenaamd nie. In Romeine 12:2 verduidelik Paulus hoe ons ons lewe vir God moet afsonder. "Word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie," skryf hy. Ons kan sy woorde ook vertaal: “Moenie saam met die ou bedeling in dieselfde skema vassit nie."

"Hierdie wêreld", soos Paulus dit noem, is die ou bedeling wat sy wortels in die sondeval het. En die skema, die patroon, waarvolgens die ou bedeling verloop, is dié van die sonde. Deur die eeue tot vandag toe volg dit dieselfde patroon, omdat die mens vanself net nie uit die skema van die sonde kan wegbreek nie. Ja wel, die gedaante waarin die sonde hom aanbied, verskil van tyd tot tyd, sodat ons ons straks verbeel dat dit iets nuuts is. Aan die sonde is daar egter niks nuuts, niks byderwets, niks moderns nie. Dit is inderwaarheid altyd maar net 'n herhaling van die eeue-oue patroon wat by die sondeval begin het.

Maar wie is nuut? Wie is die wêreld vooruit? Hulle wat dit regkry om uit die wêreld se denkskemas weg te breek. En hoe kry 'n mens dit reg? Nie in eie krag nie, want, skryf Paulus in vers 2, "julle word verander deur die vernuwing van julle gemoed". Daarmee verwys hy na die kragtige vernuwende werk van die Heilige Gees in die hart van die mens.

Die Heilige Gees verander ons gemoed, ons denke en ons hele uitkyk op die lewe, sodat ons totaal anders ingesteld is as die wêreld. Die mense van die wêreld, vanuit hulle ou denkskemas, wil net hulle eie wil laat geld. Maar die gelowiges, met hulle nuwe manier van dink, soek na die "goeie en welgevallige en volmaakte wil van God" (vers 2). Die mense van die wêreld se hoogste strewe is om hulleself te behaag. Maar die gelowiges se hoogste strewe is om God te behaag. Daarom skryf Paulus dat ons redelike godsdiens daarin bestaan dat ons onsself as lewende, heilige en aan God welgevallige offers sal gee.

Hoe ver is ons daarmee weg van die godsdiensskemas waarby die wêreld ons wil indwing. Soos deur alle eeue, wil hulle met hulle denkskema van wat redelike godsdiens is, ons beweeg om ons godsdiens te besmet deur heiligdom en ongeloof te akkommodeer. Maar met die nuwe gemoed wat die Heilige Gees ons gee, weet ons: ons redelike godsdiens is niks anders nie as 'n lewende dankoffer, om ons hele lewe as ‘n heilige en God welgevallige offer te stel!