Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Niks spreek vanself nie

Op die vraag hoe dit gaan, is ons dikwels gou om te antwoord: "Baie om oor dankbaar te wees." Hierdie antwoord bevat 'n mooi getuienis van ons erns met die opdrag van 1 Tessalonisense 5:18 ("Wees in alles dankbaar").

Maar bedoel ons met so 'n antwoord werklik wat ons sê? Of het dit maar net 'n manier van praat geword, sodat dit niks van opregte dankbaarheid sê nie?

Klakouse en kritikasters🔗

Iets wat die wenkbroue veral laat lig, is wanneer iemand sê hoe baie dankbaar hy is en dan sy "dankbaarheid" kwalifiseer deur 'n rits klagtes en kritiek. Nou is dit straks nie nodig om veel oor klakouse en kritikasters te skryf nie. Net soos die armes sal ons hulle seker ook maar altyd by ons hê.

Teregwysing het hulle beslis nodig, want hulle optrede is 'n toonbeeld van ondankbaarheid. 'n Mens sou hulle byvoorbeeld daarop kon wys dat 1 Tessalonisense 5:18 uitdruklik sê dat ons in alles dankbaar moet wees of, soos die 1983-vertaling dit stel, dat ons in alle omstandighede dankbaar moet wees. Voortdurende klagtes en foutvindery pas nie by 'n dankbare Christen nie.

Maar die klakouse en kritikasters skep vir ons nog 'n ander probleem. Hulle word weerligafleiers wat ons aandag weglei van persoonlike selfondersoek na ons eie dankbaarheid. Ons is so beswaard oor hulle optrede dat ons nie ons eie gebrek aan dankbaarheid raaksien nie.

Watter gebrek aan dankbaarheid? Ons gebrek aan dankbaarheid is dikwels meetbaar aan die mate waarin ons dinge as vanselfsprekend aanvaar.

God se genade is nie vanselfsprekend nie🔗

Dinge raak vir ons vanselfsprekend wanneer dit ons lewe direk raak, maar ons tree op asof ons onaangeraak is daardeur. Klagtes of kritiek het ons nie, maar ons het as 't ware 'n neutrale houding daarteenoor. Dit gebeur veral wanneer ons nie meer God se genade in ons lewensomstandighede raaksien nie. Alles het vir ons vanselfsprekend geraak.

So 'n houding loop parallel aan die oogklap-denkwyse van die evolusionisme, wat glo dat alle lewensvorme bloot uit hulleself ontwikkel het sonder enige Goddelike beplanning en beskikking. Dit is maar net daar. So is dit ook met ons as ons enigiets in ons lewe as vanselfsprekend aanvaar.

Met reg kan gesê word dat gereformeerde Christene tog nie evolusionisties dink nie. Ons weet mos dat gesondheid, die kos op ons tafel, die dak oor ons kop, dat alle dinge gawes is wat ons uit die hand van ons hemelse Vader ontvang. Bid en dank ons Hom dan nie dag vir dag daarvoor nie? En ons bely mos ook sy voorsienigheid uitdruklik in die Heidelbergse Kategismus Sondag 10.

Terselfdertyd besef ons dat ons die verantwoordelikheid het om ons gesondheid op te pas, om hard te werk en verstandig met ons finansies om te gaan. Maar wanneer gesondheid en voorspoed na ons kant toe kom, is ons deeglik bewus daarvan dat dit nie maar net deur eie toedoen was nie maar dat dit van begin tot einde genadegawes uit die hand van ons Vader is.

In teorie altans besef ons dit. In praktyk gaan dit gewoonlik so dat ons eers wanneer iets van hierdie gawes ontbeer (soos siekte wat oor ons kom of 'n finansiële terugslag wat ons tref) dat ons eers dan weer onthou waar dit alles vandaan kom. Dan smeek ons die Here om uitkoms te gee. Dit is ook goed so, solank ons nie vergeet om Hom ook te dank die dag wanneer die uitkoms daar is nie.

Kersfees ook 'n dankfees🔗

Ook Kersfees wat ons eersdaags vier, is 'n fees van danksegging aan die Here. Dit is die dag van die jaar waarop die Here se kerk wêreldwyd voor Hom neerbuig in diepe dankbaarheid vir die wonderlike gawe wat Hy in sy Seun aan ons gegee het. Kersfees is dankfees by uitnemendheid vir die waar word van die woorde van Johannes 3:16: "So lief het God die wêreld gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê."

Gaan ons vanjaar aan hierdie fees met gepaste dankbaarheid deelneem? Of gaan dit ook as 'n vanselfsprekende datum op ons kalender by ons verbygaan? Dit kan tog nie, want die blye boodskap van die Seun van God se liefde - dit is tog die eerste waaraan ons dink as ons sê: "Baie om oor dankbaar te wees."