Bron: Die Kerkblad. 3 bladsye.

Onbetaalde rekenings

Oor die afgelope weke se persberigte van kindermolesterings en - verkragtings kon ’n mens nie anders nie as om hewig ontsteld te word. So erg was dit dat korrespondente in die dagpers die Suid-Afrikaanse samelewing as 'n "siek" samelewing beskryf het en allerhande oorsake vir die "siekte" probeer uitwys het. Onvermydelik word die vraag gevra: Watter aandeel het die kerk aan hierdie "siek" samelewing?

Op 'n ander vlak, maar ewe ontstellend, was die onlangse openbare uitlatings van ons minister van onderwys, mnr. Kader Asmal. In heftige reaksie op die besware van Christenouers en -opvoeders teen sy idee van multi-godsdiens in skole, het hy verklaar dat hy "die fundamentalistiese Christene" wat, soos hy dit stel, "teen die konsep van respek en verdraagsaamheid gekant is", hard sal regsien.

Dat die minister met sy uitlating feitlik alle Christene as "fundamentalisties" bestempel en 'n openlike vyandige houding teenoor hulle inneem, is ontstellend genoeg.

Meer ontstellend is die feit dat hy duidelik volhou met sy voorneme om alle Christelikheid uit ons skole te ban en in die plek daarvan multi-godsdiens onder die vaandel van "respek en verdraagsaamheid" op ons kinders af te dwing.

Maar weer duik die vraag op: Watter skuld dra die kerk in hierdie situasie?

Dieselfde vraag kan en moet ook gevra word ten aanskoue van die steeds toenemende misdaad, geweld en moord in ons land. Die lae sedelike peil, die vigsbesmetting en die dobbelkultuur in ons samelewing en les bes, mense wat vir ure lank na 'n absolute sinlose program soos "Big Brother" op televisie sit en kyk terwyl duisende mense daarbuite as gevolg van werkloosheid in armoede krepeer - dit alles getuig van 'n samelewing waarin daar êrens 'n groot skroef los is.

Met reg kan gevra word: Waar het die kerk gefaal, dat die samelewing waarin ons sout en suurdeeg moes wees, so lyk? Is al hierdie uitwasse nie die onbetaalde rekening van die kerk nie?

Die kerk se roeping in hierdie wêreld🔗

'n Gerieflike antwoord sou wees om met 'n skouerophaal bloot die stof van ons voete af te skud: "Laat hulle maar oor die afgrond storm as hulle wil; deur ons aan hulle en hulle manier van doen te onttrek, lewer ons 'n getuienis teen hulle."

Die probleem met so 'n houding is dat dit buite rekening laat dat die gelowige hom wel van die samelewing kan onderskei, maar nooit daarvan kan afskei nie.

Hoewel die kerk nie van die wêreld is nie, is ons steeds in die wêreld (Joh. 17:16-18). As die samelewing dan oor die afgrond sou stort, sleep hulle ons ook maar saam. Die koring en die onkruid, soos die gelykenis in Matteus 13 kerk en wêreld beskrywe, bly immers verstrengeld deurmekaar groei tot by die eindoordeel. Eers dan word kerk en wêreld van mekaar afgeskei.

Juis deur die kerk in die wêreld te stel, het die Here aan die kerk sy roeping gegee: "Julle sal my getuies wees ... tot in die uithoeke van die wêreld" (Hand. 1:8); "Ek stuur julle soos skape tussen die wolwe ..." (Luk. 10:3); "Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies ..." (Matt. 28:19).

Soos 'n goed geslypte diamant het die roeping waarmee die Here ons roep, baie fasette. Heel eerste lê dit die kerk die taak op om die evangelie te preek (Fil. 1:18). Dit wat met die mond gedoen word, moet egter ook met die daad bevestig word.

Daarom moet die kerk 'n voorbeeld van godsvrug en 'n heilige lewe in die wêreld stel: "opreg en onberispelik te midde van 'n krom en verdraaide geslag" (Fil. 2:15).

Verder moet die kerk die evangelieverkondiging ondersteun deur barmhartigheid te bewys aan hulle wat honger en naak en eensaam is (Matt. 25:35).

Hierdie drie - prediking, voorbeeld en barmhartigheid - kan nie van mekaar losgemaak word nie. Net so betekenisloos as wat 'n "Gaan heen en word warm”-preek is, so leeg is barmhartigheid wat los staan van die waarheid van die evangelie.

Oor eersgenoemde word daar, ten regte, dikwels gewaarsku. Oor laasgenoemde, myns insiens, te min. Deesdae word groot klem geplaas op die taak van die kerk om uit te reik na armes en werkloses en vigslyers, maar merendeels word nagelaat om te beklemtoon dat sulke uitreiking vergesel moet word met die waarheid van die evangelie.

'n Swak baanrekord🔗

Wat die uitdra van die waarheid van Gods Woord betref, moet ons toegee dat die Christelike kerk in ons land oor die afgelope paar jaar maar 'n bra swak "baanrekord" het. Watter boodskap stuur "die kerk" aan die wêreld uit? Watter indrukke het die wêreld oor wat "die kerk" sê?

Die indrukke wat die samelewing uit persberiggewing kry, word meestal gevorm deur "vooraanstaande teoloë" wat die volgende dinge wêreldkundig maak:

  • God is nie aan beheer nie, want anders sou die terreuraanvalle in die VSA nooit plaasgevind het nie.
  • Christus het nie werklik uit die dood opgestaan nie, en baie persepsies oor Christus is maar net mites.
  • Die Christelike godsdiens kan nie daarop aanspraak maak dat dit die ware godsdiens is nie. Dit is maar net een van vele godsdienstige benaderings tot dieselfde waarheid.
  • Die Bybel is ‘n verouderde boek wat nie met gesag oor onder andere seksuele verhoudings van mense van die 21ste eeu kan praat nie. Daarom is die Bybelse opvattings oor die huwelik, homoseksualisme en die verhouding tussen mans en vroue uitgedien.

Met sulke seine wat die kerk die wêreld instuur, hoef 'n mens nie ver-baas te wees dat die wêreld die kerk nie ernstig opneem nie.

  • As die kerk dan self dink God het beheer verloor, hoe kan dit van die wêreld verwag word om hom aan God se heerskappy te steur?
  • As die kerk dan self dink dat die Christendom maar net een van vele geldige godsdienste is, hoe kan ons die minister van onderwys verkwalik as hy 'n soortgelyke siening in die skole wil invoer?
  • As die kerk dan self seksuele "vryheid" voorstaan, dan sterk ons die wêreld in sy kwaad van praktyke wat vigs laat vermenigvuldig.
  • As die kerk dan self die waarheid van die boodskap wat hy verkondig, in twyfel trek, hoe kan hy verwag iemand moet hom glo?

So lank as wat die kerk standpunte soos hierdie in sy midde duld, sonder om dit te bestraf en duidelik af te wys, kan hy nie hoop om sout vir die wêreld te wees nie. Want sout wat laf geword het en sy smaak verloor het, kan onmoontlik bewarend op 'n dekadente wêreld inwerk.

In soverre as wat die kerk dan verwarrende seine die wêreld instuur, in plaas daarvan om duidelik en sekuur die waarheid van die evangelie van Christus aan die wêreld te bedien, kan die uitwasse van ons tyd die onbetaalde rekening van die kerk genoem word. In plaas daarvan om ons roeping in die wêreld na te kom, het ons die wêreld net verder van die waarheid af weggestoot.

Daarom is die "siek samelewing" van ons tyd vir die kerk nie maar net 'n aanklag nie, maar 'n uitdaging, 'n aansporing om weer erns te maak met die woorde van 2 Timoteüs 4:

Ek beveel jou voor God en voor Christus Jesus wat die lewendes en die dooies sal oordeel, ek beveel jou met die oog op sy koms en koningskap: verkondig die woord; hou daarmee vol, tydig en ontydig; weerlê, bestraf, bemoedig deur met alle geduld onderrig te gee, want daar kom 'n tyd wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg. Hulle sal die waarheid nie wil hoor nie en hulle tot verdigsels wend. Maar bly jy in alle omstandighede nugter, verdra lyding, doen jou werk as verkondiger van die evangelie, voer al die pligte van jou bediening uit.