Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Misbruik van die Naam van ons Koning

Nie net mense wat vloek of vals sweer, gebruik die Naam van God ydellik nie. In Sondag 36 van die Kategismus bely ons dat ook diegene wat sy heilige Naam anders as met vrees en eerbied gebruik, die derde gebod oortree. Ons mag nie die Naam van die Here misbruik nie.

Sy Naam word dikwels op uiters subtiele maniere misbruik. Die strategie van die New-Agers om hulle holistiese denke onder die vaandel van Christelikheid te bemark, is al oorbekend. Hulle maak van die Naam van die Here misbruik om hulle eie sienswyse te bevorder. Ook elke ander poging om 'n eie filosofie of ideologie aan die Bybel vas te haak en dan voor te gee dat dit van God af kom, is gruwelike misbruik van sy Naam.

Misbruik van sy Naam in die kerk🔗

Maar seker die mees subtiele misbruik van die Naam van die Here vind 'n mens by die kerk self. Wanneer iemand hom as kerk voordoen, maar dit nie in sy hart is nie (NGB art. 29), het ons te doen met 'n bedekte vorm van misbruik van sy Naam. Hiermee word ons as Gereformeerdes baie beslis tot selfondersoek geroep.

Ons moet besef dat dit 'n baie gewigtige saak is om onsself "kerk" te noem. "Kerk" is immers nie maar net die naam van nóg 'n organisasie in die samelewing nie, selfs al sou baie mense so dink. Met die naam "kerk" verklaar ons in die openbaar dat ons aan die Here behoort. Dink daaraan dat die woord "kerk" afgelei is van die Griekse woord kuriake wat "van die Here" beteken. Ons behoort aan die Here. Hy het ons bymekaar gebring. In die kerk gaan dit in die eerste plek om die Here en nie om mense nie.

Die vraag van selfondersoek is: Is die kerk werklik nog besig met die dinge van die Here? Of is ons dalk besig om ons eie dinge te bedryf in die Naam van die Here? Het die kerk dalk so besig begin raak met homself dat die Here van die kerk vir ons al meer agter die horison begin verdwyn? As dit die geval sou wees, dan is ons besig om die Naam van die Here te misbruik.

Die kerk meer as 'n organisasie🔗

Organisasies in die samelewing waarvan die lede gereeld bymekaarkom, saam gesellig verkeer, saam ontspan, saam aktiwiteite in die samelewing aanpak, saam fondse insamel, selfs 'n gevoel van onderlinge samehorigheid aankweek, is goed. Maar wanneer so 'n organisasie homself begin "kerk" noem, het ons te doen met misbruik van die Naam van die Here.

Natuurlik lei die gemeenskap van die gelowiges tot organisasie, maar dit is bedroewend as daar met die kerk omgegaan word asof dit niks meer as 'n sosiale organisasie is nie. Ook by Gereformeerdes gebeur dit dat daar beswaar aangeteken word teen die "min ontspanning of afleiding wat die kerk vir die jeug/bejaardes, ensovoorts bied". Die kerk word gesien as 'n organisasie waar ek en my gesin aansluit, 'n organisasie wat bepaalde dinge vir my en my gesin moet reël tot my bevrediging. So 'n organisasie sou ewe goed 'n ander naam as "kerk" kon dra, maar as "kerk" het dit darem 'n bepaalde godsdienstige status, waardeur my gewete so effens gestreel word.

Die kerk nie 'n maghebber nie🔗

Soms word van die kerk gepraat as 'n organisasie wat 'n bepaalde magsposisie in die samelewing behoort te beklee. Soos die Roomse Kerk tydens die Middeleeue wat probeer het om meer mag as die keiser te bekom. Vir die kerk wat 'n "magsposisie" in die samelewing wil bekom en wil behou, is dit belangrik om vir die samelewing aanvaarbaar te wees. So nie, raak die kerk irrelevant, word gesê.

Natuurlik moet daar 'n invloed van die kerk op die samelewing uitgaan. Die gelowige moet immers soos 'n skynende lamp en soos 'n goeie suurdeeg in die wêreld wees. Maar dan nie ter wille daarvan om self 'n magsposisie in die samelewing te bekom of om die kerk se invloed in die wêreld te laat geld nie. Dit gaan immers nie om die kerk self nie, maar om die konings-heerskappy van Hom wat die Hoof van die kerk is, Jesus Christus.

Sy Naam vol van sy openbaring🔗

Die ydellike gebruik van die Naam van God kom daarop neer dat sy Naam leeg, sonder inhoud gebruik word. Só mag die kerk nie die Naam van sy Hoof en Koning gebruik nie. As sy Naam vir ons maar net 'n naam is, 'n woord wat ons met 'n bepaalde godsdienstige inhoud vul, dan misbruik ons sy Naam.

Vir die kerk is God nie maar net 'n idee of 'n konsep nie, maar Iemand. Dié Iemand uit Wie en deur Wie en tot Wie alle dinge is (Rom. 11:36). Dié Iemand wat Homself in die Bybel as die Drie-enige God bekend maak - ons hemelse Vader, wat ons deur sy Seun verlos het, deur sy Gees in ons woon en wat oor alles en almal regeer tot in ewigheid. In sy diens het Hy ons as sy kerk byeen gebring. Om Hom te dien en te gehoorsaam, sy lof te besing en te verkondig reg oor die wêreld - dáártoe het Hy ons as sy kerk uitverkies en geroep, wêreldwyd.