Bron: Vox Viva. 2 bladsye.

Deur die doop in die Christelike kerk ingelyf

In wat ons glo oor die doop, val reeds van ons belangrikste beslissings binne die hele christelike geloof. Van die begin is dit uit die Skrif duidelik dat geloof in Christus en die doop in sy Naam hand aan hand gaan. Die evangelie mag nie sonder die doop verkondig word nie. “Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word”, is Jesus se uitstuurbevel aan sy apostels (Mark 16:16). Dit is ondenkbaar dat iemand wat glo, sal weier om gedoop te word. Gelowiges kan nie die doop as onbelangrik of as ‘n sg. “middelmatige saak” beskou nie! Dit kan natuurlik gebeur dat iemand wat gedoop is, nie glo nie. Die beoordeling van God oor mense volgens hul geloof staan daarom in Markus 16 in die volle lig: “Hy wat nie glo nie, sal veroordeel word” (Mk. 16:16b). Die doop word nie in die plek van geloof in Christus geplaas nie, maar gelowiges weier die doop nie en ag dit nie ligtelik nie.

Die doop is nie ‘n “opsionele ekstra” wat later deur die kerk bygevoeg is nie. Dit is ‘n genadegawe van Christus aan sy gemeente. Kerk-van-Christus-wees kan nie sonder die doop voorgestel word nie. Van die doop bely ons selfs dat ons daardeur in die Christelike kerk ingelyf word (Heid. Kat. Sondag 27 vr. & antw. 74). Trouens, in Sondag 27 van die Heidelbergse Kategismus word heel spesifiek verwys na die kinders van gelowige ouers wat deur die doop as teken van die verbond in die Christelike kerk ingelyf en op hierdie manier van die kinders van die ongelowiges onderskei word.

In die Gereformeerde belydenisgeskrifte word (tereg!) baie klem geplaas op die feit dat Christus self die doop ingestel het. Hierdie instelling deur Christus kry alle aandag as die sekerheid waarop ons geloof mag rus naamlik dat “Christus daarom ook self aan ons belowe dat Hy ons net so seker met sy bloed en Gees wil was as wat ons met die doopwater gewas word” (vgl. Antw. 71 by Sondag 26 H.K.). Die Kategismus verwys hier na die instelling van die doop in Matt. 28:19 : “Gaan dan na al die nasies toe en maak hulle my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees”. Vêrder word ook na Markus 16 : 16 verwys.

Of hierdie Skrifbewys as instelling van die doop deug, moet baie sterk betwyfel word. Dit lyk tog asof Christus en sy dissipels heelwat vroeër begin het om mense in sy Naam te doop (vgl. Joh. 3:22 ; 4:1-2). Hieroor sou ons graag ‘n volgende keer meer wil sê, wanneer die verhouding van die doop van Jesus met die doop van Johannes die Doper vergelyk en onderskei word. Die belangrike is nou dat ons daarvoor aandag sal kry dat Christus die doop self ingestel het en gebied dat dit bedien sal word saam met die verkondiging van die evangelie aan hulle wat tot geloof kom.

Dit is trouens die heel spesifieke van die Gereformeerde verstaan van die betekenis van albei die sakramente, dat dit gesien word as tekens wat God self vir ons gee. Sakramente is “sigbare, heilige tekens en seëls wat God ingestel het…” (vgl. H.K. Sondag 25 vr. & antw. 66). Dit word herhaal in die res van die Sondae wat handel oor die sakramente en ewe veel bevestig in die Nederlandse Geloofsbelydenis (vgl. Artikels 33-35) : “ons goeie God…vir ons ingestel…” ; “die aantal sakramente wat Christus, ons Meester, vir ons ingestel het…” ; “…dat…Jesus Christus…die sakrament van die doop instel.” ; “Daarom het Hy beveel dat…” ; ens.

Dit is nou met name hierdie instelling (deur ons goeie God en Middelaar) van die doop en nagmaal, wat veral in die kringe van die Wêreldraad van Kerke ontken word. H Berkhof beskou dit selfs as ‘n vorm van biblisisme, indien ons die doop sou wou terugvoer na die spesifieke instelling van Christus. Volgens hom is die doop ‘n manier waarop die geloofservaring, veral ná Pinkster, ‘n manier gevind het om tot uitdrukking te kom. Die invloed van Karl Barth, met sy berugte verwerping van die kinderdoop, is hier baie duidelik. Die Christelike doop is by hom geen saak meer van “behoort gedoop te word” (vgl. Gereformeerde Doopsformulier) nie.

In Martin Luther se stryd om homself (en die kerk in sy tyd) los te worstel van die “Babiloniese gevangenskap van die kerk van Rome” met haar sewe sakramente, speel die instelling van die sakramente deur Christus die deurslaggewende rol. Luther wil juis die gemeente van Christus laat leef vanuit dít wat Christus alleen gee en beloof, en kom daarom tot ‘n vermindering van die sakramente tot net drie. Hy bly worstel met die bieg as sakrament. Tog staan vir hom in die middelpunt en as kriteria vir die bepaling van die aantal, maar veral ook die betekenis van die sakramente, die feit dat dit deur Christus ingestel moes wees (vgl. sy Die Babiloniese gevangenskap van die kerk). Christus wil met sy genadige belofte deur die doop ‘n bevestiging gee aan die wankelende geloof van Sy swakke kinders, dat Hy werklik vir hulle ‘n plek gegee het in die gemeente van sy uitverkorenes. Ingelyf deur die doop in die gemeente van Christus op Christus se bevel!

Hieroor wil ons graag in die volgende uitgawes van ons blad vêrder besin. Ons lesers word uitgenooi om vanuit God se Woord hieroor saam met ons te besin en daarom verwelkom ons graag alle konstruktiewe gesprekke en vraagstellings.