Bron: Waarheid en Dwaling. 2 bladsye.

Huil die Leser

briewe

Ons ken almal die woorde waarmee 'n getuigskrif begin: Heil die leser. In Latyn beteken dit 'redding en verlossing aan die een wat lees'. Dit sou tog by uitstek, al is dit beeldend bedoel, van toepassing wees by gelowiges wat die Bybel lees. 'n Seënwens: mag hulle heil vind by die lees daarvan. God se getuigskrif oor Homself aan die mens. Dit is waarom God ook Homself so openbaar – heil die leser van die Heilige Skrif.

Alhoewel daar baie dreigemente en oordeel-uitsprake in die Skrif voorkom, is God se eerste bedoeling redding, bekering, verlossing. Wie sy rug op daardie getuigskrif draai, word ook begroet met die gevolge daarvan. Tog is God se Woord nie eerstens daar om vuur te spoeg nie, maar om sy liefde te verklaar.

Dit is al 'n bietjie holrug gery om te sê die manier van Bybel lees is onder die spervuur. Dit was nog altyd so en sal nog vorentoe ook so wees. Tog moet ons katvoet loop dat ons argumente en debatte wat tans in die kerk aan die gang is, terugherlei na sy oorsprong, naamlik ons verstaan en lees van die Skrif. As ons dit nie doen nie, kan ons dalk verlei word om nuwe argumente plek te gee in ons denke, menende dat ons met reformasie besig is, sonder dat ons agterkom dat ons eintlik ons rug op die getuigskrif van God gedraai het.

By-Lees🔗

Lees 'n mens die briewekolomme in die dagpers oor ons afgelope sinode in Potchefstroom, dan blyk dit duidelik dat die gevaar nie denkbeeldig is nie. Die nuwe manier van lees is 'n saamgesels met God. Niemand wat sy post-moderne sout werd is, wil meer voorgesê word wat om te dink en te doen nie. Geen 'literatordiktator' word meer geduld nie. Die mense lees nie meer net die Bybel nie. Hulle lees wyd, ook op die internet. Die verskynsel van by-lees is opsigself nie so kraakvars nie. Wat tans nuut is, is dat die Bybel nie meer gelees word as die enigste gesagsbron nie. Om die waarheid te sê, die post-moderne tydgees kom ewe skynheilig met die volgende stelling die kerk ingesluip: Ons wil in God glo, ons het behoefte aan 'n suiwer ongekontamineerde ervaringskontak met God.

Daar is net een probleem – hoe kom ons tot kennis van God? Is God nie eintlik, na alles, maar die groot onbekende X-faktor nie? Ja, goed, die Skrif is daar. Maar die Skrif kort uitleg, en uitleggings verskil. Dominees preek nie dieselfde nie. Party raas. Party troos. Sommige vrees dat die hel deel van die heelal is. Ander sê die hel is nou op aarde waar daar onderdrukking is. Op internet kan jy as 't ware 'n 'dial-a-sermon-service' raakloop wat jou vrese verjaag of opjaag. Dit bevestig die vermoede dat die waarheid onbekend bly – vir solank as wat ek nie myself in my lewe daarmee vertroud gemaak het nie.

Hier is die hart van die nuwe Skriflees-klub se riglyn: Alles is eintlik onbekend. Tog is mens se eie ervaringswêreld 'n vertrekpunt. Daar is een onaangename punt wat geen mens kan keer nie. Die dood. Dis 'n onontkenbare ervaringswerklikheid. Be­gin dáár met jou Skrif lees. Met jou eie werklikheid. Gaan met jou vrae, met jou konteks na God. Gebruik die Skrif, nie soos 'n legkaart waar jy naderhand al hoe meer die prentjie begin eien nie, maar gebruik die Skrif soos klei om dit te vorm waar­mee jy gelukkig, gemaklik en tevrede voel.

In die post-moderne hermeneutiek staan dit bekend as die rol wat die leser in die verstaansproses speel. 'n Nuwe kreatiewe rol. Jy help God om vir jou die waarheid pasklaar in jou lewe te skryf. Alleen kan jy dit nie doen nie. Daar is genoeg wrakstukke in die geskiedenis om allenige seevaarders se rampspoed aan te toon, ook in die teologie. Nee, die post-modernis, binne of buite die kerkmure, wil gehelp wees. Hy maak geensins aanspraak om self die volmaakte waarheid in die sakkie te hê nie. Hy wil gehelp word.

wrakstuk

Hulp aan God🔗

Maar hy is ook baie hulpvaardig. Hy wil doen wat nog nooit voorheen gedoen is nie. Hy wil God help om Homself aan die mens te openbaar. As die Here bestaan, maar onbekend is, dan moet ons maar 'n leer na die hemel bou. Nie so blatant soos Babel wat niks met God te doen wil hê nie. Geen Babelse hemelbestormers nie, eerder 'Bybelse' hemelklimmers. God gee én ek gee. God skryf (of eerder, ek lees wat ander in hulle worsteling oor Hom skryf) en ek lees. God skryf onduidelik. My leeswerk bring die duidelikheid. Heil die leser. Ek lees my verstaan in die Bybel in. Ek sit 'n handjie by in die openbarings-proses. Ek vind in die Bybelteks baie handige leidrade en boublokke waarmee ek my eie waarheid, in God se Naam, met sy woorde, saamstel. Die (gereformeerde?) post-modernis wil nie die Bybel by die venster uitslinger nie. Hy wil die Bybel onder hande neem. Hy het die Bybel nodig, die woorde om sy eie waarde daaraan toe te skryf. Heil die leser! Nie heil aan die leser nie, maar heil vanaf die leser. Ek het my oë nodig om gered te word. My leesbril is die belangrikste ikoon in die kerk. Hoe sou ek anders blywend dapper kon bly glo dat ek steeds moet twyfel as dit nie vir my lees, my verstaan, my oopmaak van die woord, my openbaring aan myself, was nie. Wie is nou meer geskik om iets aan my eie unieke individuele soekende siel te verduidelik as ekself – met God se leidrade. My eie kontekstuele oë is die openbaringsinstrument. Heil aan my die leser. Heil van my die leser.

Prof. HM Kuitert (en Willem de Klerk praat in sy laaste boek 'Die vreemde God en sy mense' net so) skryf in sy (berugte) boek 'Het algemeen betwyfeld christelik geloof 'dat 'alles van benede kom, al word gesê dat dit van bo kom'. Al wat ons in die kerk het, is die christelike tradisie, en ons kan nou self voortborduur op die kontoere van ons eie kaartleeswerk om ons eie tradisie te skep en voort te sit.

Hemel net op Aarde?🔗

As ons van benede self na bo moet kom, hoe troosteloos is die situasie nie. Wat is die christendom dan anders as die heidendom? As alles wat in die kerk gesê word, van onder kom, en onder bly, wie kan dan nog enige hoop hê? Dis hartseer. Die hartseer gee hartsweer. Soos die profete van ouds kan ons uitroep: Wee, wee. Beween jouself en klaag. Huil, huil – die leser. As jy met jou eie verstaan, uit jou eie konteks die helfte van die waarheid moet openbaar ... om gered te word!

trane

Huil dan, leser, want jy het jou eie god geword. Al wat jy gaan raaklees is jou self met 'n god wat soos jy self lyk. Onvolmaak, kwesbaar, bang vir die dood en hakkelend, skugter om oor die waarheid te praat.

Aan die post-moderniste sê ons: Dra julle godjie nie aan op die kansels nie. Bring hom nie met jou bril by die sakramente nie. Jy kan nie self openbaar nie, jy kan nie help openbaar nie. God spreek. Ons luister. So oud. So goud. God se getuigskrif wat in Jesus Christus, die Woord van God, aan ons sê: Heil die leser.