Hierdie artikel handel oor die prediking en die vorm van die prediking.

Bron: De Wekker, 2010. 2 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Oor die Bakker en Sy Brood

rosyntjiebrood

Professor Baars het geskryf oor die inhoud van die tweede kerkdiens. Rosyntjiebrood en soetkoek kan nie die brood van die bakker vervang nie. So kan temadienste met die moontlikheid van onderbreking en bespreking nie dit wat in die prediking van bo en van buite tot ons kom, vervang nie. In hierdie reaksie op die artikel van professor Baars stel ds. Van Langevelde die vraag of hy nie die bakker en die gemiddelde kwaliteit van sy brood oorskat nie.

Eers net ʼn opmerking vooraf. Ek is die soort dominee wat hoë verwagtinge koester van die tweede diens. Ek beskou dit as leerdiens en maak nie van die leerdiens minder werk as van die eerste diens op Sondae nie. Van eksperimente met die tweede diens het ek minder verwagting. Ek is nie teen weloorwoë aanpassing van bepaalde vorme nie, maar stel dit onomwonde dat dit uiteindelik die inhoud is wat die aantreklikheid en ‘voedingswaarde’ van die diens bepaal.

ʼn Mensie van stof🔗

Professor Baars som die besware op wat in ons tyd teen die preek as proklamasie van die Woord opklink. Die klassieke preek is nie net te veel van ʼn monoloog nie, maar dikwels ook te lank met te min relevansie. Hy stel daarteenoor dat die prediking – as bekendmaking en belofte van Godsweë – wesenlik is vir die welsyn van die gemeente.

Dit is wel waar dat die prediking nie die uitruil van menslike insigte en ervarings is nie. In die prediking is dit die Woord van God wat met gesag tot ons kom. Ons moet ewewel nie vergeet nie dat die ‘bediening van die versoening’ aan sondige mense toevertrou is. Calvyn het al gesê dat die prediker maar ʼn mensie van stof is. Hy het van die Heilige Gees gawes ontvang om die Woord te verkondig, maar hy moet ook bewus wees van sy eie beperkings. Dit kan ook wees dat hy meer pastor as prediker is. Soms is hy te besig om goed voor te berei. As hy nie oppas nie, diep hy die ou skatte uit die Bybel op, terwyl nuwes agterweë bly. Baie predikers leef ook so in hulle eie wêreld dat jongmense tereg kla dat die vrae wat hulle het nie ter sprake kom nie en dus onbeantwoord bly.

Wat ek wil sê, is dit: professor Baars plaas na my gevoel te maklik ʼn is-gelyk-aan teken (=) tussen die prediking as bekendmaking en belofte en die vorm waarin ons, dominees, in ons preke daaraan gestalte gee. Om te bly by die bakker en sy brood: sommige bakkers verkoop brood wat nouliks smaaklik genoem kan word. Dit mag al die bestanddele bevat wat nodig is, maar dit is sonder geur of tekstuur. Is dit ʼn wonder dat klante wegbly of op die beste na iets anders in plaas van die brood vra?

Dialogiese preke🔗

Dít is duidelik: die heil kom van God. Dit kom nie uit mense op nie en ontstaan ook nie uit die ontmoeting tussen mense nie. Maar as Paulus die evangelie in Athene bring, het hy homself wel eers goed op hoogte gebring oor sy hoorders. Wie is hulle en waarmee hou hulle hul besig? Hy bring die boodskap wat hy moet bring, ook dié van opstanding van die dode, maar kies daarvoor die vorm van dialoog en laat ruimte vir onderbrekings.

Dit is dan ook nie toevallig dat dialegesthai in die Nuwe Testament óók een van die werkwoorde vir verkondiging is nie. Ons lees op verskillende plekke in die boek Handelinge dat Paulus gesprekke gevoer het. In dialogiese gesprekke het hy die Jode en Grieke probeer oortuig dat Jesus die Christus is (Handelinge 18:4, 19; 19:8, 9).

dialoog

Persoonlik glo ek dat dialogiese preke die behoefte aan besprekingsdienste en rondetafel-gesprekke minder groot maak. Die vrae van die hoorders word immers gestel en ernstig opgeneem. Die predikant vertolk die woorde van God uit die verlede in verhouding tot die hede, en elkeen begryp: hy het nie net die Bybel gelees nie, maar ook die mense en die wêreld waarin hulle lewe. Tog kan ek nie sien waarom daar nie ook ruimte kan wees vir reaksie op die prediking, by wyse van vrae, ná of self tydens die diens nie. Sou ʼn getuienis waarin die aktualiteit of die betroubaarheid van die verkondiging geïllustreer of bevestig word, nie waarde tot die diens kan bydra nie? Ek het reeds gesê dat ek geen verwagting van hierdie erediensvorm koester as dit bedoel is om te kompenseer vir ʼn tekort aan inhoud nie. Ook dat die dialoog nie die boodskap skep nie. Maar as God self kies om ons op dialogiese wyse te laat deel is sy waarheid, waarom sal ons nie in, of rondom die kerkdiens soek na ʼn kontemporêre vorm daarvoor nie?

Die amp van alle gelowiges🔗

Daar is nog iets wat by die lees van professor Baars se artikel vrae laat ontstaan het. Dit kom naamlik voor asof die predikant die enigste sou wees om die Woord van God te verstaan en te vertolk. Hy is deur God daartoe geroep en gestuur. Ek gee toe dat die predikant met die oog op die opbou van die gemeente besondere gawes en ʼn besondere opdrag ontvang het. Daar is ook alle rede om ʼn noue verband te (bly) sien tussen die spreek van God en die spreek van die predikant wanneer die Skrif in die verkondiging uitgelê en toegepas word. Maar ons is tog nie Rooms nie! Die verstaan van die Woord van God is immers nie uitsluitlik vir predikante voorbehou nie. Sedert die uitstorting van die Gees het almal in die gemeente gawes ontvang, en baie ook die gawe van onderskeiding met betrekking tot die woord van God. Daarmee sê ek nie dat hulle as verkondigers van die Woord moet optree nie, maar wie is ons om hulle dit te ontsê om met hulle reaksies op die prediking by te dra tot die verstaan van wat die Gees vir die gemeente sê? Bring die Heidelbergse Kategismus dan nie in Sondag 12 die amp van Christus in direkte verband met die amp van alle gelowiges nie? Ons wil tog nie terug na die tyd toe die onwetende en onmondige gemeente meer ontsag vir die ampsdraer gehad het as vir die boodskap wat hy bring nie?

Ek verstaan goed dat dit nie is wat professor Baars bedoel nie, maar ek nooi hom uit om in sy reaksie op my artikel ook hierop in te gaan. Hy is bang dat in groepsgesprekke nie met amptelike gesag oor die Bybel gepraat kan word nie. Doen hy nie hiermee af aan ʼn wesenlike aspek van die Hervorming dat nie die ampsdraer nie, maar die Woord wat hy bring, die gesag het?

ʼn Didaktiese motivering🔗

Benewens ʼn aantal Bybels-teologiese motiverings om nie te krampagtig te wees oor vorme van dialoog in die erediens nie, sien ek ook ʼn didaktiese motivering. Dit word algemeen aanvaar dat interaksie tussen ʼn spreker en sy hoorders tot meer effektiewe kommunikasie lei. Die spreker word gehelp om hom in die aanbieding van sy inligting voluit op sy hoorders te rig en die hoorders is meer ontvanklik en in staat om die inligting te verwerk. Ek sien nie waarom hierdie didaktiese beginsel in die lesingsaal toegepas kan word, en nie in die kerkdiens, en by name die leerdiens, nie. Om eerlik te wees, verwag ek uit Apeldoorn1 op hierdie punt eerder aanmoediging as bedenkinge. Ons staan as kerk in ʼn spanningsveld tussen vashou aan tradisie en aanpassing by die nuwe tyd. Én die loslaat van tradisie én versuim om by die nuwe tyd aansluiting te vind, bedreig eweseer die voortbestaan van die kerk. My vraag aan professor Baars is dus watter wenke hy het vir bakkers wat steeds meer klante teëkom wat van hulle brood meer verwag as dat dit net al die noodsaaklike bestanddele bevat.

Endnotes🔗

  1. ^ Prof. Baars is hoogleraar aan die Teologiese Universiteit in Apeldoorn.