Bron: Die Kerkblad, 1985. 2 bladsye.

Is ons hiper-Calviniste?

standbeeld Calvyn🔗

Alles is uit God🔗

Dit is een van die grondstellings van die Calvinisme: "Uit God en deur God en tot God is alle dinge" (Romeine 11:36). Die mens het geen aan­spraak op die ewige lewe nie; ook nie die vermoë om dit uit sy eie krag of voortreflikheid te verwerf nie. Die natuurlike mens is kragtens sy aard dood in die sonde (Efesiërs 2:1, 5, 10). Hy kan en wil van nature niks doen wat God behaag nie. Hy is 'n vyand van God.

Die sondige natuur onder­werp hom nie aan die wet van God nie, dit kan trouens ook nie. Romeine 8:7

Daar is niks in die mens self op grond waarvan God hom sou kon liefhê nie. God se liefde is nie ge­grond op die mens se verdienste nie. Dit lê gegrond in sy ewige, verkie­sende genade alleen. Alleen op grond van hierdie verkiesende ge­nade kan 'n mens ooit gered word. Dit is vrye, soewereine genade – genade sonder verdienste.

Remonstrantisme: die mens het 'n aan­spraak🔗

Teenoor die Skrif staan die Remon­strantisme, ook genoem die Armi­nianisme. Daarvolgens is die mens nie van nature totaal verdorwe nie, nie dood in die sonde nie. Hy het nog in hom die vermoë om te kan kies vir die goeie, en die goeie wil kan sy redding beteken.

Volgens die Bybel verkies God mense ondanks hulle inherente onwaardigheid. Volgens Arminius ver­kies God mense op grond van hulle inherente waardigheid: Hy het naamlik vooruitgesien dat sekere mense die evangelie sou aanvaar, en op grond daarvan kies Hy daardie mense uit tot die ewige lewe. Die grond van die verkiesing word dus na die mens en sy goeie hoedanig­hede verplaas. Volgens die Skrif berus die geloof op God se uitver­kiesing; volgens Arminius berus God se uitverkiesing op ons geloof, wat Hy vooruitgesien het. Dit keer dus die ganse heilsorde om. Som­mige mense word uitverkies omdat hulle, ofskoon sondare, darem beter as die verworpenes is. Hulle het van nature 'n goeie wil, en hulle is geluk­kig genoeg om daardie wil te ge­bruik om reg te kies.

Nou gaan Calviniste en hiper-Cal­viniste tot op hierdie punt saam dat beide die Remonstrantisme ver­werp. Maar hulle paaie gaan uiteen as dit by die verkondiging van die evangelie kom. Daar neig die hiper‑Calviniste, die oud-gereformeerdes, in 'n sekere sin terug na die Remon­strantisme. Want hiper-Calvinis­me en Remonstrantisme het dit in gemeen dat beide die mens se verantwoordelikheid voor God afhank­lik maak van sy vermoë of onvermoë om die evangelie te aanvaar.

Die Bybelse balans🔗

Die Bybel verwerp die dilemma wat hiper-Calviniste sowel as Remon­strante skep. Die Bybel handhaaf die volle verantwoordelikheid van die mens om te glo en hom te be­keer. Sy onmag onthef hom nie van sy verantwoordelikheid voor die regterstoel van God nie. Sy onmag en vyandskap teen God is geen ver­skoning vir sy ongeloof nie. Sy onmag is nie onskuld nie, dis skuld! Dit verswaar juis sy doemwaardig­heid voor God. Verbeel jou: so ont­aard dat jy niks anders as vyand van God wil wees nie!

Dat die mens van nature God se vyand is, gee hom nog nie die reg om God se vyand te wees nie. Dat hy van nature 'n sondaar is, gee hom nie die reg om te sondig nie. Hy moet glo en hom bekeer, al kan hy nie, al is hy dood in die sonde.

 

grafLaat ons 'n beeld gebruik: Lasarus moet uit sy graf opstaan, al is hy al ontbind. Dit is presies wat die evangelie sê:

God het sy Seun vir sondaars in die dood oorgegee. Glo dit en jy sal lewe.

En die wonder is dat juis daardie evangelie, daar­die lewende woord van God, dan dooies tot lewe roep, en hulle glo en word gered. Soos die Here Jesus voor die graf van Lasarus staan en roep: "Lasarus, kom uit!" so wek die Gees lewe in dooie harte, deur die woord. Hy wederbaar deur die woord.

Julle is immers wederge­bore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God… En hierdie woord is die evangelie wat aan julle verkondig is.1 Petrus 1:23, 25

Die Skrif handhaaf God se soewe­reiniteit: verlossing en lewe is van God alleen, en die mens se verant­woordelikheid: glo en jy sal gered word. Die Skrif sien geen teenstel­ling tussen hierdie twee waarhede nie.

Skynbare spanning🔗

Vir die mens is daar 'n skynbare spanning tussen hierdie twee waar­hede van God se soewereiniteit en die mens se verantwoordelikheid. Nog die Skrif, nog Calvyn, nog ons belydenisskrifte, het egter enige probleme met hierdie spanning; hulle aanvaar en handhaaf beide pole van die waarheid ten volle.

Remonstrante en oud-gerefor­meerdes kan hierdie skynbare spanning nie verdra nie. Hulle probeer dit verwerk en die skynbare pro­bleem wat hulle voel, oplos — die Remonstrante deur die soewereini­teit van God te ontken, en die hiper-Calviniste deur die verantwoorde­likheid van die mens te ondermyn.