Bron: Die Kerkblad, 1985. 3 bladsye.

'n Doperse dwaling

herdoop

Daar is meer as een dryfveer vir hierdie herdopery.

  • Sommige mense het grootgeword en belydenis afgelê sonder dat hulle veel erns met hulle godsdiens ge­maak het, en dan kom hulle op ge­vorderde leeftyd tot inkeer, en leer die Here werklik persoonlik ken. Dan beskou hulle alles wat hulle gehad het of geleer het as minderwaardig en soek iets ekstra, en dit vind hulle in die herdoop.
  • Sommige sien die herdoop as 'n radikale breuk met die verlede. "Ek wil hierdie vernedering deurgaan om as volwassene deur die water te gaan."
  • Sommige sien in die herdoop 'n soort tegniek om die Heilige Gees te dwing om hulle in tale te laat spreek — wat natuurlik 'n baie bedenklike motief is.
  • Sommige wil daardeur dubbel se­ker maak dat hulle salig sal word.

Die grondoorsaak is in alle gevalle dat hulle nooit geleer het om hulle eie doop na waarde te skat nie. As hulle dit verstaan het en daarmee erns gemaak het, sou hulle nooit die behoefte gevoel het om hulle weer te laat doop nie.

Leer die Bybel die kinderdoop?🔗

Die argument word dikwels gebruik dat die Nuwe Testament nêrens sê dat kinders gedoop moet word nie.

Dit lyk 'n sterk argument, totdat 'n mens besef dat die skrywers van die boeke van die Nuwe Testament waarskynlik die kinderdoop as so 'n vanselfsprekende saak beskou het dat hulle dit nie nodig gevind het om daarna te verwys nie. Niemand van ons sal vrouens van die nagmaal weerhou net omdat die Nuwe Testa­ment nêrens sê dat vrouens nag­maal mag gebruik nie; dit is veels te vanselfsprekend. Skrywer hier­van wil betoog dat dit presies die rede is waarom nêrens in die Nuwe Testament gesê word dat kinders gedoop moet word nie. Dit was vir die apostels en hulle leerlinge veels te vanselfsprekend. Sou Paulus, wat in die sfeer van die genadeverbond geleef het, ooit kon droom dat daar later mense sou kom wat die reg van die kinderdoop betwis? Paulus, wat die gewoonte gehad het om die hele gesin te doop wanneer die gesins­hoof tot bekering kom — en wat minstens drie huisgesinne gedoop het wat by name in die Nuwe Testament genoem word: die van Lidia ("Die Here het haar hart vir Paulus se woorde ontvanklik gemaak. Sy en haar huisgesin is toe gedoop," Handelinge 16:14-15), die bewaarder in Filip­pi (Handelinge 16:33), en die huisgesin van Stefanas (1 Korintiërs 1:16).

Paulus het ook geweet dat in die verbond met Abraham die kinders wel ingesluit was. Hoe sou hy ooit kon droom dat daar later mense sou kom wat leer dat hulle uit die nuwe verbond uitgesluit word? Asof God se beloftes vir die nuwe verbond armer en meer beperk is as die ou verbond!

Want die kernpunt waarom dit gaan, is om die verbond van God reg te verstaan. Die doop, dit stem ook Dopers toe, is die teken van die nuwe verbond. Wie dus die verbond verkeerd verstaan, gaan die doop verkeerd verstaan; wie die verbond reg verstaan, gaan die doop reg verstaan.

doop🔗

Verbond en doop🔗

Om hierdie verhouding te verduide­lik, wil ek u vra om saam met my twee Skrifgedeeltes te lees. Ons lees een vers in Jesaja 59, nl. vs. 21:

Wat my betref, sê die Here, dit is my ver­bond met die volk: my Gees wat op jou is en my woorde wat Ek in jou mond lê, sal nie uit jou mond en uit die mond van jou kinders en jou kindskinders verdwyn nie, sê die Here, nie nou nie en nooit nie.

Hier profeteer Jesaja sewehon­derd jaar vantevore van die nuwe verbond, en hy sê dat die belofte van bekering en vergewing en die gawe van die Heilige Gees wat daarmee saamgaan, vir die volk van God en vir hulle kinders geld. Die kinders is nie buite nie, hulle is binne! Die Here sê self so.

Kom ons lees nou 'n baie belang­rike gedeelte in die Nuwe Testament: Handelinge 2:38-39, waar vir die eerste keer in die Nuwe Testament die be­tekenis van die doop in die nuwe ver­bond verkondig word:

Toe ant­woord Petrus hulle: 'Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus. Dan sal God julle sondes vergewe, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang. Wat God belowe het, is vir julle en vir julle kinders en vir almal wat daar ver is, vir almal wat die Here ons God na Hom toe sal roep.'

Let veral op dat een van die Skrifge­deeltes uit die Ou Testament wat hier in Petrus se boodskap na vore kom en waarop gesinspeel word, juis die gedeelte uit Jesaja is wat ons eerste gelees het. Bekering, ver­gewing, en die Heilige Gees staan voorop in die beloftes van die Nuwe verbond.

Hierdie sake word telkens saam genoem. Lees bv. Jesaja 59:20-21; Jeremia 31:33-34; Romeine 11:26-27.

Wat bevestig die doop?🔗

Om die betekenis van die doop te verstaan, is dit belangrik om te ver­staan wat die doop bevestig. Beves­tig dit my bekering, of God se belof­te? Dui dit op iets wat ek doen, of op iets wat God doen?

Petrus laat geen twyfel oor die antwoord op hierdie vraag nie. Sê Petrus: "Laat julle doop, want julle het julle bekeer"? Nee! Hy sê "Laat julle doop, want God se belofte kom aan julle toe, en vir julle kinders en vir almal wat daar ver is".

Die doop bevestig nie my bekering of my wedergeboorte of my geloof nie, maar God se belofte van verge­wing en die Heilige Gees as gawe! Dit bevestig nie my daad nie, maar God se belofte. Dit wys nie heen na my geloof nie, maar na die offer van Christus, die grond van my verlos­sing.

Die doperse dwaling berus dik­wels daarop dat mense op hierdie punt ontspoor: hulle glo dat die doop my bekering bevestig. Nou sê hulle: "Toe ek gedoop is, was ek nog nie bekeer nie; my ouers was nie eers gelowiges nie! Wat beteken daardie doop?"

Nee, die doop bevestig nie jou be­kering nie, maar God se belofte. En as jou ouers of jou predikant wat jou gedoop het, ongelowiges was — dit maak God se belofte nie tot niet nie! Net jy self kan God se belofte tot niet maak deur dit te verwerp.

Sal julle ontrou die trou van God tot niet maak? Beslis nie!" sê Paulus in Romeine 3:3-4.

Verbond met Abraham tot niet?🔗

Vir Gereformeerdes is 'n baie sterk argument vir die kinderdoop die feit dat die nageslag van Abraham in die verbond met hom baie pertinent ingesluit was, en dat die nuwe ver­bond 'n voortsetting is van die ver­bond met Abraham. God het im­mers vir Abraham gesê dat die ver­bond beteken dat Hy vir Abraham 'n God sal wees en vir sy nageslag na hom, in hulle geslagte. "Dit is 'n blywende verbond", lui die nuwe vertaling van Genesis 17:7.

verbond met Abraham

Nou sê die teenstanders van die kinderdoop: "Nee, die verbond van God met Abraham het niks met ons te doen nie; dit is net vir die Jode: dit is net 'n nasionale verbond vir Israel; ons is nie daarby inbegrepe nie; ons is nie die nageslag van Abraham nie".

Is dit dalk ook wat u dink, geagte leser? Is u nie in die verbond met Abraham ingesluit nie? Is u in 'n an­der verbond? Is u nie een van die nageslag van Abraham nie? Wel, as u 'n gelowige is en u dink so, dan het u in elk geval die Bybel nie aan u kant nie!

Wat sê Paulus? "As julle aan Christus behoort, is julle ook nako­melinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte."Galasiërs 3:29

Behoort u aan Christus? Dan is u ook 'n erfgenaam van die belofte — dieselfde belofte wat God aan Abra­ham gemaak het en wat Petrus be­vestig het, en waarvan Jesaja profe­teer het:

Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag. Genesis 17:7

Die Dopers is reg as hulle sê die nuwe verbond is met die gelowige opgerig, maar hulle is verkeerd wanneer hulle sê die kinders is daar­van uitgesluit. Jesaja en Petrus het nie so gedink nie — en hulle het met die gesag van die Heilige Gees ge­praat.

God se belofte is vir jou en vir jou kinders!🔗

As jy dit waardeer, sal jy ook jou doop reg waardeer, wat hierdie ryke belofte bevestig en verseël. Dan sal jy dit nie nodig vind om nog 'n twee­de seël te soek nie. God hoef nie tweemaal te praat nie; Hy het nie twee seëls op sy dokument nodig nie; en as een nie genoeg is nie, is twee ook nie genoeg nie en honderd ook nie. As jy Hom nie kan vertrou wanneer Hy eenmaal gepraat het nie, kan jy Hom ook nie vertrou as Hy twee keer praat nie.