Christelike kommentators meen dat daar vir regters min of geen regsgronde oorbly om gelowiges teen die ondermyning van godsdiensvryheid te beskerm nadat die Nederlandse wetgewer vroeër vanjaar ʼn verbod teen godslastering in artikel 147 van die Wetboek van Strafreg herroep het.

Die verbod op godslastering in die Nederlandse Wetboek het nie die beskerming van die Naam van God beoog nie, maar die beskerming van godsdienstige gevoelens wat deur lasterlike openbare uitsprake gekrenk kon word. Die artikel is op die wetboek geplaas in die lig van die Internasionale Verdrag teen Rassediskriminasie. Daar is ewewel sedert 1996 niemand ingevolge dié bepaling aangekla nie.

Die herroeping van artikel 147 brei die reg op vryheid van spraak uit, maar het konsekwensies. Die Europese Hof vir Menseregte het in 1966 in ʼn uitspraak bepaal dat lidstate, ten spyte van die toelaatbaarheid van kritiek op religie, wel in die lig van die verantwoordelikheid wat vryheid van spraak meebring, perke daaraan kan stel. Dieselfde Hof het in ʼn ander uitspraak bevind dat uitlatings wat ‘onnodig kwetsend’ is, ‘kwaadwillige skending van verdraagsaamheid’ daarstel.

Hoewel die uitsprake van die Europese Hof rigtinggewend is, het nasionale howe steeds die plig om die fundamentele regte en beginsels van die regstaat te beskerm. Die vraag ontstaan hoe Nederlandse howe, sonder die beginselverbod op blasfemie, vorm en inhoud sal gee aan die nuwe grense van vryhede en regte wat deur die opheffing van die verbod geskep is. Hoeveel verdraagsaamheid sal daar nou geverg word van diegene wie se godsdienstige gevoelens gekrenk word? Hierdie vrae is, vir gemeenskappe waarin daar nouliks nog van verdraagsaamheid gepraat word, van besondere belang.