Noord-Korea bly steeds die land waar Christene die swaarste vervolg word, maar in Afghanistan vererger die situasie sienderoë.

Dit blyk uit die jaarlikse Ranglys van Christenvervolging wat deur Open Doors gepubliseer is. Van die vyftig lande neem Noord-Korea opnuut die voortou. Slegs die besit van ʼn Bybel is voldoende om tereggestel te word of met jou hele gesin in ʼn strafkamp te beland, aldus dié organisasie wat hom wêreldwyd bearbei vir vervolgde Christene. Die Christelike kerk lewe al tientalle jare ondergronds.

Die vervolging in Noord-Korea is nie net voelbaar in die land self nie. Volgens Open Doors is etlike tientalle spioene na China gestuur om ‘Christelike netwerke en netwerke van aktiviste te ontmasker’. Verlede jaar is die jag op Christene langs die grense ook geïntensiveer.

In Afghanistan het die situasie die laaste jaar so vererger, dat die land se posisie opgeskuif het na die tweede plek. Twee Christene met ʼn Moslemagtergrond is met die doodstraf gedreig. Gelukkig het dit nie sover gekom nie, maar die Afghaanse owerheid is nie in staat om ʼn klimaat van toleransie te skep nie, aldus Open Doors. Die organisasie merk op dat die fundamentalistiese Taliban weer in opmars is. Afgesien van die Kommunistiese Noord-Korea, is Islamitiese ekstremisme die vernaamste bron van Christenvervolging. Nege van die top-tien lande is Moslemlande. In omtrent twee-derdes van die vyftig lande op die ranglys, kan Moslem ekstremisme aangewys word as die belangrikste rede vir vervolging.

Volgens Open Doors word die ranglys saamgestel op grond van uitgebreide ondersoeke, waar onder meer gekyk word na ʼn land se wetgewing, die vryheid van die kerk, die houding ten opsigte van Christene asook die aantal Christene wat gediskrimineer, gemartel of vermoor word.

Iran het van die tweede na die vyfde posisie gedaal. Hierdie daling is te danke aan die feit dat daar in 2011, vir sover bekend, geen Christene vanweë hulle geloof gedood is nie. Desondanks is die druk op Iranse gelowiges steeds baie hoog. Volgens Open Doors het geestelike leiers begin inmeng met die groei van die huiskerkbeweging. Nuwe maatreëls is aangekondig om die groei van die aantal huiskerke teen te werk.

Die onafhanklikheid van Suid-Soedan het negatiewe gevolge gehad vir die Christene in die oorwegend Islamitiese Noorde. Soedan het die meeste gestyg, en selfs negentien plekke opgeskuif na die sestiende posisie. In 2011 het die aantal insidente drasties vermeerder in verhouding tot die jaar daarvoor. Die geweld het nie net ʼn godsdienstige oorsaak nie, maar politieke en etniese konflikte het ook erge spanning veroorsaak. Tog word die Christene dikwels gesien as handlangers van die Christelike Suide, en verkeer daarom onder geweldige druk.

Pakistan het ʼn nuwe posisie onder die top-tien. Die belangrikste rede van dié styging is die moorde op goewerneur Salman Taseer, en die Christelike minister van minderhede, Shabaz Bhatti. Taseer en Bhatti het vir die vrylating van Asia Bibi gepleit. Hierdie Christelike vrou is in 2009 gevange geneem omdat sy na bewering die profeet Mohammed beledig het.

Die Arabies Lente het aanvanklik perspektief vir verandering in Noord-Afrika en die Midde-Ooste gebied. Noudat die stof van die rewolusie in baie lande gaan lê het, het duidelik geword dat die Islam se mag in ʼn hele aantal lande toegeneem het.

Op die ranglys van Christenvervolging het Egipte, vanweë aanvalle op kerke en Christene, die skerpste styging getoon, van die negentiende na die vyftiende plek. In Oktober is 27 Christene gedood.

Siriê het twee plekke gestyg van 38 na 36. Hierdie land was tot onlangs ʼn veilige hawe vir Christene, veral ook vlugtelinge uit Irak. Die situasie het egter deur geweld en ʼn dreigende burgeroorlog totaal verander. Christene het vermeld dat die aantal dreigemente drasties toegeneem het, sodat sommiges te bang is om hulle huise te verlaat en om kerk toe te gaan.

Ook in Libië het die Christene ten tye van die Arabiese Lente gedink dat die situasie effens sou verbeter. Christene was meer oop oor hulle geloof. Open Doors beweer egter dat die burgeroorlog waarskynlik nie tot meer vryheid van die Christene gelei het nie. Libië het een plek afgedaal na 26, maar skryf dit toe aan ʼn vinniger toename van ander lande.

Kazachstan vul die 45e plek, hoofsaaklik as gevolg van twee nuwe wette wat verlede jaar ingevoer is. Die regering doen alles in hulle vermoë om die Islamitiese ekstremisme nie ʼn kans te gee nie, maar terselfdetyd ly die Christene ook in daardie stryd. Vanweë die nuwe wet moet ʼn aantal Christelike groepe hulle opnuut laat registreer. Of hulle daarin gaan slaag word sterk betwyfel.

Etlike jare gelede het Colombia ook op die ranglys verskyn, en is nou terug op die 47ste plek. Die Colombiaanse grondwet maak voorsiening vir godsdiensvryheid, maar terroristiese organisasies, met name die FARC, huiwer nie om gelowiges en godsdienstige leiers weens politieke redes te vermoor, te ontvoer of af te pers nie. Voorgangers en Christelike leiers is reëlmatig die doelwit van guerilla’s, omdat hulle ʼn boodskap van vrede bring.

Open Doors kom tot die gevolgtrekking dat die kerk in gebiede waar Christenvervolging toeneem, tog groei. Dit is duidelik sigbaar in Moslemlande, maar ook in Afrika en China.