Christene het nie die reg om godsdienstige simbole tydens werksure te dra nie. Hierdie standpunt sal die Britse regering by die Europese hof vir menseregte in Straatsburg verdedig.

Die saak is aanhangig gemaak deur twee Britse werknemers wat voel dat hulle deur hierdie verbond onreg aangedoen is. Nadia Eweida het in 2006 haar werk by British Airways verloor, omdat sy ʼn kruisie aan haar halskettinkie gedra het. Shirley Chaplin, ʼn verpleegster met 31 diensjare, mog nie langer in die hospitaal van Exeter werk nie, omdat sy geweier het om haar kruiskettinkie onder haar klere weg te steek.

Beide vroue het verlede jaar ʼn protes  by die Europese Hof ingedien, weens skending van hulle reg op godsdiensvryheid. Die vliegtuigmaatskappy British Airways het intussentyd die kleredragkode hersien, en ook die Britse kommissie vir gelyke behandeling het hulle aan die kant van die vroue geskaar, nadat hulle aanvanklik hulle teen die vroue gekeer het.

Die Britse regering staan egter vas op die standpunt dat die dra van ʼn kruisie nie ‘ ’n vereiste van die Christelike geloof is nie’, en dat dié verbod geregverdig is. Werknemers wat hulle nie daaraan sal onderwerp nie, mag ontslaan word, meen die Minister van Gelykheid, Lynne Featherstone, van die Liberaal-Demokratiese party.

Die opstelling van die Britse kabinet het skerp kritiek uitgelok, onder meer van Lord Carey, die vroeëre aartsbiskop van Canterbury en leier van die Anglikaanse kerk. Hy het regbanke dit kwalik geneem dat hulle vir Christene ʼn diktaat wil oplê. ’Dis opnuut ʼn bewys dat die Christendom na die grens van die publieke lewe gedruk word. Dis ironies dat, wanneer owerhede en regters Christene wil wysmaak dat die kruis ʼn saak van  ondergeskikte belang is, dit dan juis ʼn belangriker simbool en uitdrukking van ons geloof word.'

Die huidige Anglikaanse kerkleier, dr Rowan Wiliam,  het hom oënskynlik van beide werknemers gedistansieer. Hy het gestel dat die dra van ʼn kruisie nie langer ʼn Christelik simbool is nie, maar ‘slegs ʼn sieraad, as ʼn uitdrukking van iemand se persoonlik smaak ’.

Die advokate van Eweida en Chaplin is van mening dat die regering te hoë eise stel. By gevestigde godsdienste behoort dinge wat nie noodwendig ʼn geloofsverpligting is nie, maar wat wel beskerming op grond van menseregte verdien. Hulle wys daarop dat owerhede wel toelaat dat Sikhs ʼn tulband dra, en ʼn vroulike Moslem ʼn kopdoek.  Hulle meen ‘Christene kry minder beskerming as lede van ander godsdienste’.