Bron: Die Kerkblad, 1985. 2 bladsye.

Hoe werk my gewete?

As ek wil weet hoe my gewete werk, moet ek eers weet wat my gewete is. Ons kan dit so formuleer. Die gewete is 'n onmiddel­like, spontane, emosionele ge­voelsbeoordeling van ons eie per­soon en van ons handelinge. Of eenvoudiger gestel: Die gewete is die streng en onverbiddelike regter binne-in ons, wat ons gedagtes van dade beoordeel. So 'n beoor­deling kan goed wees (vgl. die "goeie gewete" van Handelinge 23:1 en 1 Timoteus 1:5), of dit kan beskuldigend wees (vgl. die "slegte gewete" van Hebreërs 10:22).

Gewete noodsaaklik ná die sondeval🔗

By die mens voor die sondeval was daar van 'n gewete, soos dit tans in ons werksaam is, geen sprake nie. Daar was geen sonde in die Paradys en daarom was daar ook geen gewete wat beskul­dig nie. Al die handelinge van Adam en Eva was in ooreenstem­ming met die Wet van God. Dit was eers na die sondeval dat die gewete in die mens ontwaak het soos ons dit vandag ken. Die ge­wete is 'n gawe van God in sy al­gemene genade aan die mens, nadat hy gesondig het. Deur hier­die gawe word die mag van die sonde beteuel. Selfs iemand, wat met God geen rekening wil hou nie, kan van bepaalde dade weerhou word deur die beskuldiging van sy gewete. As God nie die gewete aan alle mense gegee het nie, sou hierdie aarde 'n hel geword het.

Hoe beoordeel die gewete🔗

Soms beoordeel die gewete 'n daad wat ons wil doen, deur ons ernstig daarteen te waarsku. So het Pilatus se gewete hom voort­durend vermaan om Jesus Christus nie onskuldig te veroor­deel nie.

Soms beoordeel die gewete 'n daad terwyl ons nog besig is om dit te doen. Dit waarsku ons dat ons optrede verkeerd is. So het Dawid se gewete hom, byvoor­beeld, onmiddellik gepla nadat hy die slip van Saul se mantel afge­sny het (1 Samuel 24:6).

Soms beoordeel die gewete ons dade nadat ons dit klaar gedoen het. Dan bring dit die mens tot berou, wroeging, vertwyfeling en selfs tot wanhoop. Ons dink hier aan die gewete van Kain (Genesis 4) en van Judas (Matteus 27:1-10).

Is my gewete onfeilbaar🔗

Daar is baie mense wat beweer dat my gewete 'n onfeilbare kom­pas is wat my lewenskip in die regte rigting stuur. Hulle beweer dat die gewete sonder aarseling en afdwaling altyd die regte weg aanwys.

Hierdie woorde klink baie vroom maar is nie waar nie. My gewete is geen absolute maatstaf vir die beoordeling van goed en kwaad nie. Gewete kan dwaal.

As ek byvoorbeeld, voortdu­rend by my gewete verbyleef, ver­swak ek dit sodanig dat dit naderhand nie meer 'n regte oordeel kan uitspreek nie. Jy kry ook men­se wie se gewete soos 'n stuk gomlastiek is – hulle rek dit so geweldig uit dat die gewete naderhand enigiets as geoorloof beoordeel. En wat van die mense wat hulle gewete met 'n brandyster so toeskroei dat dit nie eers meer spreek nie!

Hoe verkry ek 'n goeie gewete🔗

Uit die voorgaande is dit duidelik dat die gewete nooit die norm self kan wees nie. Slegs die wil van God, soos geopenbaar in die By­bel, kan die norm van ons lewe wees. Daarom moet my gewete, wat van nature bevlek is, deur die Heilige Gees geheilig en gesuiwer word en moet die Wet van God die rigsnoer van my gewete wees in sy beoordeling. Dan word my gewete 'n goeie gewete en word sy beoordeling 'n suiwer beoorde­ling en móét ek gehoorsaam wees aan die stem van my gewete.