Aardse goed en lewensmiddele is gawes van God en moet gebruik word om die mens se roeping te vervul. Hou die volgende in gedagte:
• Die gebruik daarvan moet lei tot kennis, liefde en eerbied vir die Skepper.
• Dié wat oorvloed het, moet matigheid voor oë hou.
• Dié wat gebrek lei, moet geduld hê.
• God sal van ons rekenskap eis oor alles wat ons het.

1984. 7 bladsye.

Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 3 Hoofstuk 10 Hoe ons die huidige lewe en die hulpmiddels daarvan moet gebruik

1. Twee uiterstes in die genieting van God se gawes.🔗

Met sulke grondbeginsels leer die Skrif ons terselfdertyd terdeë wat die regmatige gebruik van wêreldse goed is. Dit is 'n onderwerp wat ons glad nie in die wind moet slaan wanneer ons ons lewens inrig nie. Want as ons dan moet leef, moet ons ook van noodsaaklike lewensmiddele gebruik maak. Ons kan ook nie wegvlug van goed wat klaarblyklik genot eerder as noodsaaklikheid dien nie. Ons moet dus die manier om alles met 'n rein gewete te gebruik, ken - of dit uit noodsaaklikheid of vir genot is. Die Here skryf hierdie manier in sy Woord aan ons voor wanneer Hy leer dat die teenswoordige lewe vir die wat aan Hom behoort, soos 'n pelgrimstog1 is waarmee gelowiges na die hemelse koninkryk voortsnel.2 As ons slegs deur die aarde moet gaan, moet ons aardse goed ongetwyfeld so gebruik dat hulle ons in ons vaart help eerder as vertraag. Daarom raai Paulus ons nie sonder rede nie aan om hierdie wêreld so te gebruik asof ons dit nie gebruik nie en dat ons besittings met dieselfde gesindheid moet koop as waarmee ons dit verkoop.3 Omdat hierdie onderwerp egter gevaarlik is en neig om na albei kante oor te hel, moet ons ons inspan om ons voete op 'n plek te plaas waar hulle veilig kan staan.

Want daar was party mense wat andersins opreg en heilig was, wat gesien het dat 'n gebrek aan selfbeheersing en oordadigheid voortdurend as gevolg van onbeteuelde begeerte sy perke te buite gaan tensy dit baie streng beteuel word en so 'n verderflike dwaling tog wou regstel. Daar was maar net een metode wat by hulle opgekom het. Hulle het die mens naamlik toegelaat om stoflike goed slegs in soverre te gebruik as wat dit vir hulle behoefte van belang was.4 Dit was wel vrome raad, maar hulle was veels te streng. Want hulle het hulle gewetens in knellender strike vasgewoel as waarmee hulle deur die Woord van die Here gebind word iets wat baie gevaarliker is. Behoefte het verder vir hulle beteken dat 'n mens hom van alles moet weerhou waarsonder hy kan klaarkom. Volgens hulle sou 'n mens byvoorbeeld beswaarlik iets by jou brood en water kon voeg. Ander mense se strengheid was nog groter. Van Krates, die Thebaan, word byvoorbeeld vertel dat hy sy rykdom in die see gegooi het omdat hy gereken het dat hy self te gronde sou gaan as hulle nie sou vergaan nie.5 Vandag is daar egter baie mense wat na 'n dekmantel soek om die gebrek aan selfbeheersing van hulle vlees in die gebruik van die stoflike dinge te verskoon en intussen 'n weg wil baan vir die vlees om uitspattig te kere te gaan. Hulle aanvaar as vanselfsprekend dat hierdie vryheid deur geen maat aan bande gelê mag word nie iets waarin ek hulle hoegenaamd nie gelyk gee nie! Hulle meen egter dat dit aan elkeen se gewete oorgelaat moet word om soveel te gebruik as wat hy sien dat dit vir hom geoorloof is. Ek erken inderdaad dat ons gewete hierin nie kort en klaar met vasgestelde formules en wette gebind moet of kan word nie. Aangesien die Skrif ons egter algemene reëls leer om dit regmatig te gebruik, moet ons die gebruik van ons stoflike goed sekerlik daartoe beperk.

2. 'n Algemene beginsel vir die gebruik van 'n mens se aardse goed.🔗

Die volgende beginsel moet dus geld: dat ons nie van die regmatige gebruik van God se gawes afwyk as ons dit op die doel rig waarvoor die Skepper self dit vir ons geskep en bestem het nie, want Hy het dit tot ons voordeel en nie tot ons verderf geskep nie. Daarom sal niemand reguiter koers hou as hy wat noukeurig sy oë op hierdie doel rig nie. As ons dan nadink oor wat sy doel was toe Hy voedsel geskep het, salons vind dat Hy nie alleen ons behoefte nie, maar ook ons genot en vrolikheid in ag geneem het. So was sy doel in die geval van ons klere benewens noodsaaklikheid ook versiering en eerbaarheid. In die geval van plante, borne en vrugte was sy doel benewens die uiteenlopende gebruik daarvan ook die aangenaamheid daarvan om dit te sien en te ruik.6 As dit trouens nie waar is nie, sou die profeet dit nie onder die weldade van God getel het dat wyn die mens se hart verbly en dat olie sy gesig laat blink nie.7 Die Skrifte sou nie oral tot lof van God se goedertierenheid vermeld het dat Hy al sulke dinge aan die mens gegee het nie. Die natuurlike eienskappe van dinge toon self ook voldoende aan met watter doel en in hoeverre dit geniet mag word. Of sou die Here werklik so 'n skoonheid aan blomme gegee het as wat spontaan voor ons oë kom, sou Hy so 'n aangename welriekende geur daaraan gegee het, en sal dit ons dan nie geoorloof wees om of deur hulle skoonheid of deur hulle geur aangenaam verras te word nie? Waarom dan? Het Hy dan nie hulle kleure so onderskei dat die een aangenamer as 'n ander een is nie? Wat daarvan dat Hy aan goud en silwer, aan ivoor en marmer 'n kosbaarheid verleen waardeur hulle kosbaarder as ander metale of gesteentes gemaak word? Kortom: het Hy nie baie dinge benewens die noodsaaklike gebruik daarvan vir ons aantreklik gemaak nie?8

3. Die gebruik van aardse goed moet ten eerste lei tot kennis, liefde en eerbied vir die Skepper daarvan.🔗

Weg dus met so 'n onmenslike filosofie. Terwyl dit ons slegs die noodsaaklike gebruik van dit wat geskep is gun, beroof dit ons nie slegs kwaadwillig van die geoorloofde vrug van God se milddadigheid nie, maar dit kan dit ook nie bereik nie, tensy dit die mens van al sy sinne beroof en hom in 'n stomp verander! Aan die ander kant moet ons nie minder noukeurig die begeerte van ons vlees teengaan nie. Tensy dit in bedwang gehou word, stroom dit mateloos oor sy walle. Soos ek gesê  het,9 het dit ook sy eie ondersteuners wat onder dekmantel van die vryheid wat hulle toegestaan is, alles toelaat.

Ten eerste word begeerte in toom gehou as bepaal word dat alles vir ons geskep is met die doel dat ons die Skepper daarvan kan leer ken en vir sy goedertierenheid jeens ons dank kan betoon.10 Waar is die dankbetoon dan as jy jou so aan kos of wyn vergryp dat jou sinne afgestomp raak of dat jy nutteloos word om die verpligtinge van godsvrug en van jou roeping te vervul? Waar is jou erkenning aan God as jou vlees as gevolg van oordadige oorvloed in 'n afstootlike wellustigheid uitborrel11 en jou verstand met sy onreinheid besmet sodat jy niks wat reg of eerbaar is, kan raaksien nie? Waar is ons dankbaarheid teenoor God in die geval van ons klere as ons ons vanweë die uitspattige versiering daarvan bewonder en 'n afkeer in ander mense ontwikkel? Waar is dit as ons ons met prag en praal vir onkuisheid voorberei? Waar is die erkenning aan God as ons verstand op die glans daarvan vasgenael is? Want baie mense lewer al hulle sintuie so aan genietinge uit dat hulle verstand oorstelp gaan lê. Baie mense skep so 'n behae in marmer, goud en skilderye dat hulle self marmerstene word of in metaal verander of soos geskilderde beelde lyk. 'n Kombuiswalm of aangename geure stomp party mense so af dat hulle niks geesteliks kan ruik nie. Dit is ook in die geval van ander goed te sien. Daarom is dit duidelik dat die losbandige misbruik hiervan alreeds hier effens aan bande gelê word en dat Paulus se reël hier bevestig word, naamlik dat ons geen voorsorg vir die vlees moet maak om sy begeertes te bevredig nie.12 As te veel daaraan toegegee word, borrel dit sonder maat of beheer uit.

4. Ten tweede: die oordenking van hemelse onsterflikheid moet by gelowiges na aanleiding van twee reëls voorrang geniet.🔗

Daar is egter geen pad wat sekerder of meer sonder hindernisse is as die een wat deur veragting vir die huidige lewe en die oordenking van die hemelse onsterflikheid vir ons gebaan word nie. Daaruit volg trouens twee reëls: ten eerste dat mense wat hierdie wêreld gebruik, die gesindheid moet hê asof hulle dit nie gebruik het nie, en die wat in die huwelik tree, asof hulle nie in die huwelik getree het nie, die wat koop, asof hulle nie ge koop het nie, soos Paulus ons beveel;13 ten tweede dat hulle moet weet om gebrek ewe kalm en geduldig te verdra as wat hulle weet om oorvloed met matigheid te verdra.

Hy wat aan jou voorskryf dat jy hierdie wêreld moet gebruik asof jy dit nie gebruik nie, vernietig jou gulsigheid en gebrek aan selfbeheersing in kos en drank; Hy vernietig nie alleen jou uitspattige toeskietlikheid, jou ambisie, hoogmoed, hooghartigheid en jou eiesinnigheid in jou etes, jou geboue en jou klere nie maar ook alle bekommernis en geneigdheid wat jou aandag aftrek of jou verhinder om oor die hemelse lewe na te dink en om jou te beywer om jou siel te ontwikkel. En tog het Cato lank gelede 'n waar woord gesê toe hy verklaar het dat groot bekommernis oor klere groot onverskilligheid oor deug beteken.14 Die ou spreekwoord geld ook hier, naamlik dat mense wat hulle besig hou deur baie sorg aan hulle liggame te bestee, oor die algemeen hulle siele verwaarloos.

Hoewel gelowiges se vryheid dus nie in uitwendige sake aan die hand van 'n bepaalde formule afgeweeg moet word nie, is hulle vryheid in die uiterlike dinge tog sekerlik aan hierdie wet onderworpe, naamlik dat hulle so min moontlik aan hulleself vrye teuels moet gee. Hulle moet daarenteen met volgehoue inspanning van hulle gemoed by hulleself daarop aandring om alle voorbereiding van oorbodige oorvloed te beëindig en uitspattigheid aan bande te lê en noulettend te waak dat hulle nie van hulpmiddels vir hulle hindernisse maak nie.

5. Die tweede reël: geduld tydens ontbering; ten derde leer die Skrif dat ons alles wat ons het, in pand het en daaroor rekenskap sal moet gee.🔗

Die tweede reël hou die volgende in: Mense wie se sake benard en wie se besittings karig is, moet weet hoe om geduldig die ontbering te dra, om nie deur 'n oormatige begeerte na goed verontrus te word nie. Mense wat aan hierdie reël vashou, het geen geringe vordering in die skool van die Here gemaak nie. So kan iemand wat nie ten minste 'n mate van vordering in hierdie aspek gemaak het nie, beswaarlik gronde hê om te bewys dat hy 'n dissipel van Christus is. Want benewens die feit dat baie ander sondes met die begeerte na aardse goed hand aan hand gaan, toon iemand wat gebrek ongeduldig verdra, meesal in oorvloed die teenoorgestelde kwaal. Hieronder verstaan ek dat iemand wat skaam is vir goedkoop klere, oor duur klere sal pronk. Iemand wat nie tevrede is met 'n karige maaltydjie nie, sal deur 'n verlange na 'n deftiger maaltyd onrustig gemaak word en ook lekkernye sonder seltbeheersing misbruik as dit hom te beurt val. Iemand wat sy persoonlike nederige toestand met moeite en met 'n onrustige gemoed verdra, sal hom glad nie van hooghartigheid weerhou as hy tot ereposisies geklim het nie.

Almal wat nie 'n geveinsde ywer vir godsvrug het nie, moet hulle dus inspan om volgens die voorbeeld van die apostel te leer om versadig te wees en om honger te wees; om oorvloed te hê en armoede te verduur.15 Daarbenewens het die Skrif ook 'n derde reël waarvolgens dit die gebruik van aardse goed beperk. Hieroor het ons al 'n ietsie gesê toe ons die liefdesgebooie behandel het.16 Dit bepaal immers dat alle goed so deur God se goedertierenheid aan ons gegee is en dat dit so tot ons voordeel bestem is dat dit as't ware aan ons toevertrou is om eenmaal daarvan rekenskap te gee. Ons moet dit dus so uitdeel dat die woorde: "Gee rekenskap van jou rentmeesterskap",17 voortdurend in ons ore weerklink. Terselfdertyd moet dit gedurig in ons gedagtes opkom deur wie sodanige rentmeesterskap geëis word, naamlik deur Hom wat  onthouding, nugterheid, spaarsin en ingetoënheid so hoog by ons aangeprys het en uitspattigheid, hooghartigheid, pronkery en ten slotte ydelheid vervloek; Hy wat slegs 'n uitdeling van stoflike dinge goedkeur wat met die liefde verbind is; Hy wat alreeds met sy eie mond al die genietinge wat die mens se gemoed van kuisheid en reinheid wegtrek of sy verstand met duisternis afstomp, verdoem het.

6. Ons lewenshandelinge moet daarop ingestem wees om ons roeping te vervul.🔗

Laastens moet ons daarop let dat die Here elkeen van ons gebied om ons oë in al ons lewenshandelinge op sy roeping18 te hou. Want Hy weet hoe 'n groot onrustigheid in die mens se geaardheid kook en hoe dit deur 'n wispelturige ligsinnigheid holderstebolder meegesleur word. Hy weet hoe groot ons begeerte is om terselfdertyd verskillende dinge aan te gryp. Om dus te voorkom dat ons alles met ons dwaasheid en voortvarendheid deurmekaarkrap, het Hy verskillende lewenswyses onderskei en vir elkeen sy eie pligte bestem. En om te verhoed dat iemand onbesonne sy grense oorskry, het Hy sulke lewenswyses roepings genoem. Elkeen het dus sy eie lewenswyse wat deur die Here soos 'n wagpos aan hom toegeken is, sodat hy nie sy hele lewe lank lukraak rondgedryf word nie. Hierdie onderskeid is egter so noodsaaklik dat al ons lewenshandelinge daarvolgens voor Hom opgeweeg word, en dit is dikwels iets heeltemal anders as wat die mens se rede of filosowe se oordeel daaroor is. Daar is byvoorbeeld nie 'n daad wat voortrefliker geag word as om jou vaderland van 'n tiran te bevry nie - en dit is selfs onder filosowe die opvatting.19 Tog word 'n burger wat sy hand aan 'n tiran slaan, openlik volgens die uitspraak van die hemelse Regter veroordeel.20

Ek wil egter nie tyd verkwis deur 'n lang lys voorbeelde op te noem nie. Dit is genoegsaam as ons weet dat die roeping van die Here die beginsel en fondament is om in elke saak goed te handel. Iemand wat hom nie hierop toelê nie, sal nooit in sy pligsvervulling die regte koers hou nie. Soms sal hy miskien iets kan doen wat skynbaar lofwaardig is, maar wat die gehalte van sy optrede ook al voor die mense is, voor God se troon sal dit verwerp word. Sy lewe sal verder nie in alle opsigte harmonies wees nie. JOu lewe sal daarom die heel beste ingerig wees wanneer dit op hierdie doel afgestem word want dan sal niemand deur eie onbesonnenheid aangedryf word en meer aanpak as wat sy roeping kan verdra nie. Hy sal tewens weet dat dit hom nie geoorloof is om sy perke te buite te gaan nie. Iemand wat onbefaamd is, sal nie moeite ondervind om as gewone mens te leef nie, sodat hy nie die status waarin God hom gestel het, wil verlaat nie. Aan die ander kant sal dit 'n groot verligting vir sy bekommernisse, sy moeite, ergernisse en ander laste wees wanneer elkeen weet dat God in al hierdie dinge sy gids is. Die owerheid sal met groter bereidwilligheid hulle deel doen. 'n Vader sal hom geredelik op sy pligte toelê. Elkeen sal in sy eie lewenspatroon ongerief, bekommernisse, sleurwerk en benoudhede verdra en verwerk wanneer hulle daarvan oortuig is dat elkeen se las deur God op hom gelê is. Hieruit sal ook voortreflike troos ontstaan omdat geen taak so onbeduidend en gering sal wees dat dit nie voor God se aangesig skitter en uiters kosbaar geag word nie, mits jy maar jou roeping gehoorsaam.

Endnotes🔗

  1. ^ Vgl. Inst. 3.7.3 (Afr. vert. 3:885).
  2. ^ Vgl. Lev. 25:23; 1 Kron. 29:15; Ps. 39:13; 119:19; Hebr. 11:8 - 10, 13 - 16; 13:14; 1 Pet. 2:11 (Oe 31:404; 32:222; 55:152 - 156, 192, 242).
  3. ^ Marg. 1. Cor. 7.f31. Vgl. ook verse 29 - 30 en OC 49:420 - 421.
  4. ^ Vgl. Augustinus, De bono coniug. 9.9 (MPL 40:380; CSEL 41:199 - 201); Enar. in Ps. 4.8 (MPL 36:81; CCSL 38:17 - 18).
  5. ^ Vgl. Diogenes Laertius, De clarorum pbilosopb. uitis et dogmatibus 6.5.4 (LCL 2:90 e.v.): Lacranrius, Div. Inst. 3.23.5 (MPL 6:422; CSEL 19,1:253); Seneca, Dia/. 1.6.2.
  6. ^ Vgl. Gen. 2:9 (OC 23:37 - 39).
  7. ^ Marg. Psal. 104. b.l5. Vgl. OC 32:90 - 91.
  8. ^ Hierdie afdeling is uiteraard van belang vir 'n evaluering van Calvyn se kunsbeskouing omdat hy hiervolgens poneer dat daar voorwerpe in God se skepping is waarvan die skoonheid hulle gebruikswaarde oortref. Die bekendste evaluering van Calvyn se estetika is Wencelius, L 'Esthetique de Calvin, Parys, Sociëtë des Belles Lettres, 1937. Vgl. ook Calvyn se Com. in Gen. 4:20 roe 23:99 100). Hieruit moet egter nie afgelei word dat Calvyn 'n somber askeet was wat gelowiges alle piesier ontsë het nie, inteendeel, hy verklaar elders dat die Christen onder alle omstandighede blymoedigheid aan die dag moet lê, Vgl. byvoorbeeld sy Sermo 127 sur le Deutéronome 22 (OC 28:36); sy Homil. in I lib. Sam. 25 (OC 30:565) en Ep. 3060 (Calvin au duc de Longueville) OC 17:532 - 533.
  9. ^ Vgl. die slot van Afdeling 1 (Inst. 3.10.1; Afr. vert. 3:920) hierbo.
  10. ^ In sy Lib. in Ps. com. 30:1 skets Calvyn die verhouding van die gawes tot dankbetoon onder die Israeliete. Caeterum ... notandum est... hoc genus exercitii oeteri populo fuisse mandatum. ut agnosceret nullius rei usum sine gratiarum actione purum et legitimum esse - verder moet ons daarop let dat hierdie soort oefening aan die Israeliete opgedra is om hulle te leer dat die gebruik van geen voorwerp suiwer en wettig was sonder dankbetoon nie roe 31:292).
  11. ^ Fr.: + iusqu 'a l'aveugler (Benoit 3:199).
  12. ^ Marg. Rom. 13.d.14. Vgl. OC 49:256.
  13. ^ Marg. 1. Cor. 7.d.31. Vgl. 1 Kor. 29 - 31.
  14. ^ Vgl. Ammianus Marcellinus, De rebus gestis 16.5.2 (LCL 1:214).
  15. ^ Marg. Philip. 4.c.12. Vgl. OC 52:64.
  16. ^ Vgl. Inst. 3.7.5 (Mr. vert. 3:888).
  17. ^ Vgl. Luk. 16:2 (OC 45:403).
  18. ^ Calvyn skryf elders oor die roeping van die gelowige in Inst. 1.17.9, 18.3 (Afr. vert. 1:330,343); 2.2.5 6,2.17,2.21,5.2 - 3, 5.8, 7.10, 8.42, 8.45,11.12,11.14 (Afr. vert. 2:374 - 376, 390, 395,440 - 443, 449, 488,542,546,609,611); 3.2.16,4.12,6.2,10.3,11.6,12.8,13.2,14.5,14.6, 14.13, 14.19, 14.20, 15.2, 15.8, 16.2, 17.1, 17.4, 17.5, 17.6, 18.1, 18.3, 19.2, 19.11,21.6,21.7, 22.3, 22.4, 22.5, 22.10, 23.10, 24.1, 24.2,24.4,24.6,24.8,24.10,24.12,24.14,25.1,25.10 (Afr. vert. 3:731, 819, 877, 922, 934, 971, 974,983, 985,993,999,1001,1003,1012,1015,1021,1025,1026, 1027, 1044, 1046, 1060, 1069, 1167, 1169, 1175,1176,1178,1186,1204,1212,1214,1216,1220, 1223, 1225, 1228, 1231, 1240, 1260);4.1.3,3.1, 3.7,3.10,3.13,3.14,3.15,3.16,4.10,5.1,5.4,7.8, 11.9, 13.3, 13.5, 13.8, 13.11, 13.16, 13.17, 13.18, 16.14, 16.19, 16.31, 18.4, 18.9, 18.14, 20.3, 20.4, 20.30.
  19. ^ Vgl. Seneca, De beneficus 7.15.2; 19.7 - 9; 20.3 (LCL 3:490 e.v.; 502 e.v.).
  20. ^ vgl. 1 Sam. 24:7, 11; 26:9 en Inst. 4.20.25 - 30 (OC 30:487 - 490, 584 - 588).