Bron: Die Kerkblad, 1990. 2 bladsye.

Op 'n Pad of in 'n Storm?

Hoe behoort ons lewe met God te verloop? Die antwoord op die vraag sal afhang van ons mening oor die aard van ware geloof en wandel met God. Uit watter wor­tel groei 'n ware lewe met God?

Ons kan die twee vernaamste standpunte en praktyke in hierdie verband verklein tot twee uitsprake: "Ek weet" of: "Ek voel".

Die "ek voel"-benadering is be­sonder populêr in ons tyd, soos trouens deur die eeue. Luister maar net na godsdienstige ge­sprekke. Telkens hoor ons: "Ek het gebid, maar dit voel vir my of die Here nie hoor nie". 'n Ander: "Ek voel seker dat die Here my so en so lei." "Ek voel dat die Gees in my gewerk het". "Ek het so sterk die gevoel gehad dat die Here hier by my is". Omdat gevoel vra om gedurig gevoel te word, dring die 'voeler' gewoonlik aan op ervaring van God se bestaan, persoonlike bemoeienis en leiding van oomblik tot oomblik. Mense wil God aan hulle lyf voel, op die mees direkte wyse met Hom om­gaan en versekerd voel dat Hy hier by jou is. Hulle wil graag op elke gebed 'n baie duidelike antwoord, liefs so gou as moontlik, verkry. Hulle wil voortdurend duidelike padaanwysings hê, soos iemand wat op die pad van Johannesburg na Kaapstad elke kilometer 'n bordjie verlang wat lui: Dis die pad na Kaapstad. Hulle soek altyd iets 'kenneliks', dit wil sê een of ander gebeurtenis of teken waarvan 'n mens kan sê: "Daar is die Here se hand!"

Hoogspanning, emosionaliteit, opgewondenheid, vervoering en meermale onstuimigheid begelei gewoonlik die "ek-voel-benadering". Sulke mense — wat baiemaal onmiskenbaar erns wil maak met hulle diens van die Here – staan sterk onder die versoeking om baie met hulleself besig te wees. Party grawe in hulleself om allerlei gevoelens en ervarings op te diep. Die Bybel dien as skake­laar om hulle masjien (gemoed) aan die gang te sit.

Die voel-mense verlang dat die lewe met God soos 'n storm moet verloop, met al die drama daaraan verbonde. Dan voel hulle seker.

Versekerdheid🔗

Die geskiedenis van Elia se vlug na Horeb — na die Karmelgebeure en Isebel se moordvoornemens — speel in 'n mens se gedagtes. Elia gaan Horeb toe om vir die Here te gaan vertel dat sy plan met Israel misluk het (1 Konings 19). By Horeb loop hy hom vas teen die Here se vraag: "Wat maak jy hier, Elia?" Elia het hom misreken met die stil­le en troue werk van God om sy gemeente te bewaar. Elia kon dit nie sien of ervaar nie, maar die Here verseker hom daarvan dat dit nie uit en gedaan met Israel onder Agab se bewind is nie. Elia het ou-ou beloftes vergeet en hom op sy eie waarnemings verlaat. "Gaan terug op jou pad", beveel die Here. Hy leer om voortaan seker­heid te soek in God se geopen­baarde beloftes en nie in sy eie bevindings nie.

Ek weet, dan voel ek🔗

Die regte orde vir 'n versekerde wandel met God is nie: Ek ervaar (voel) en so weet ek seker. Maar: Ek weet en so voel ek seker. Uit die wortel van die vastheid van God se beloftes groei 'n gesonde, standvastige en vrugryke wandel met God. Natuurlik praat ons nie van 'n verstandelike kennis van die inhoud van die Bybel nie. So 'n kennis is nes 'n elektriese draad wat in 'n muurprop ingedruk is sonder dat die krag aangeskakel is. Verstandelike kennis wat ons harte nie aanvuur tot vertroue op wat God vir ons sê nie, laat die gemoed ook koud.

Om te wandel met God is om te lewe in geloof, hoop en liefde.

God voel afwesig🔗

In die geloof neem ons God op sy Woord. Hy sê dat Hy vergewe, versoen, beskik, met ons is. Al voel ek nie so nie, geld sy beloftes nog. Hierdie Woord van God moet ryklik in ons woon (Kolossense 3:3-16), en dit moet ons bron van krag, bemoediging en leiding wees. God praat nie oor en oor nie. Hy praat met ons deur die vasgelegde woord. Daarom is daar tye waarin dit voel of God stilbly, of Hy afwesig is. Deur die geloof weet ons egter dat Hy met ons is. Hy is daar as ons bid, al antwoord Hy nie onmiddellik soos ons dit sou verkies nie. Ons moet nie bo die toestand van hierdie bedeling probeer uitstyg deur van, oomblik tot oomblik te wil aanskouing nie. Ons lewe nou deur ge­loof en nie deur aanskouing nie. Die Here toets, ons vertroue in Hom. Die wat die toets deurstaan weet verseker dat sy Woord nie verval nie.

Ons is nog nie daar nie🔗

Ons wandel met God is ook lewe in die hoop. Tussen die begin van God se werke en die einde daar­van is daar altyd 'n tydsverloop. Tussen uittog en intog lê daar 'n stofpad wat met geloofsvolhar­ding afgestap moet word. Daarom reik die kinders van God vorentoe, na die heerlikheid van Christus, na die kroon. Deur die hoop weet ons dat ons nie teleurgestel (beskaam) sal word nie. Maar ons moet kan wag. Nie ongeduldig word nie, nie die toestande van ongebroke gemeenskap met God wat nog tot die toekoms behoort, nou al opeis nie. Ons het selfs swaarkry en taaie volharding nodig om die hoop te voed. Mense wat swaar­kry as onverenigbaar met God se seën beskou, weier die hooptyd. Hulle gryp te gou vooruit. Die te­korte van die tussentyd verskerp die noodsaak van gebed. Mense wat wag met versekering is mense wat bid, smekend bid.

Ons wandel terselfdertyd in die liefde. Ons het Hom lief wat ons eerste liefgehad het, al sien ons Hom nie (1 Johannes 5:20). Ons liefde word bewys in gehoorsaamheid. Eerder as om ervarings na te jaag, moet gelowiges hulle deur die krag van die Gees toelê op dank­bare liefdebetoon teenoor God en naaste. Dit is vrugbare lewe al lyk dit baiemaal nie so opwindend nie.

So kan 'n mens se lewenstil en rustig — en tog met blydskap — verloop. Soos 'n diep stroom. Gevoed deur die onfeilbare beloftes van God.