Bron: Vox Viva. 3 bladsye.

Prakties Gereformeerd

Reformatore

Soveel mense, soveel menings. Hoe sal ons weet wat dit nou eintlik beteken om in alle eenvoud prakties as gereformeerde gelowige te leef? Die een sê so, die ander sê sus.

Dit is ‘n ontdekking om te sien hoedat die grondmotief van die Groot Reformasie (van die 16e eeu) aktuele praktiese waarde het. Dit kan saamgevat word in die sogenaamde “sola’s” van die Reformasie te wete: Sola Scriptura (Die Skrif alleen), Sola Gratia (Die genade alleen), Solus Christus (Christus alleen), Sola Fide (Geloof alleen) en Soli Deo Gloria (Aan God alleen die eer). “Sola” beteken dus “slegs”. Gaan tel maar hoeveel keer die woordjie “slegs” in die Heidelbergse Kategismus voorkom!

Hierdie “sola’s” vorm die grondplan van ons gereformeerde/Bybelse geloofslewe. En dit val nie uit die lug nie! Ons drie belydenisskrifte bevat 1345 direkte Skrifaanhalings. Laat ons vir ‘n oomblik aan die hand van die “sola’s” sien wat dit beteken om prakties gereformeerd te leef in die alledaagse lewe.

Tegelyk vind ‘n mens sommer hier die Bybelse riglyne aan die hand waarvan die Skriftuurlike en belydenisgetroue gehalte die weeklikse prediking geëvalueer kan word!

Sola Scriptura 🔗

Slegs in die Bybel vind ons die woorde van God. En dan ook die hele Bybel. God het Sy hart geheel en al uitgepraat in die Bybel. Dit is onmoontlik dat daar nóg hedendaagse openbaringe tot die Bybel toegevoeg kan word. Geen drome, geen “profetiese uitsprake”, geen visioene, geen woorde van “wysheid” het waarde bo die Skrif nie. Volgens sy eie selfgetuienis (nie volgens mense se oordeel nie), is die Skrif absoluut gesaghebbend. Daarom moet ‘n gelowige versigtig wees om te beweer dat die Here “in sy/haar hart” vir hom/haar dit of dat gesê het nie. God praat in Sy Woord, die Bybel. Dit is die einde van die storie. Alle uitsprake van mense moet hieraan gemeet word. Die Bybel is die lewende woorde van God, begeester deur die Gees. Vergelyk byvoorbeeld  Artikels 2-7 van die Nederlandse Geloofsbelydenis en sien hoe briljant prakties dit is! Dit help ‘n mens in jou daaglikse omgang met die Woord, maar ook om te onderskei tussen al die “stemme” wat daagliks gehoor word. Ook op kerklike gebied.

Sola Gratia 🔗

Hoe word ons gered en waaruit ontspring die gelowige se lewe van elke dag? Slegs uit die vrye en radikale genade van God. God regverdig die goddelose, nie die bekeerde wedergeborene nie! (Rom.4:5). Net omdat Hy ons jammer gekry het, het Hy ons volledig aan die kruis gered, voordat ons enigsins iets kon bydra. Dit is die radikaliteit van die genade: Dat God ons skuld ten volle afgeskryf het op Golgotha (Kolos 2:14) terwyl ons slegs die hel verdien het.

‘n Mens word nie gered omdat jy glo of omdat jy die Here aanneem of omdat jy jou sondes bely nie. ‘n Mens glo omdat jy reeds verlos is — op Golgotha. Jy is uit genade gered. Jy neem die Here aan wanneer jy ontdek dat Hy jou reeds aangeneem het. ‘n Mens glo dat jy gered is, jy glo nie dat jy gered word omdat jy glo nie.

Ons glo dat God ons uit genade in Christus op Golgotha gered het. Punt. Só kry ons deel aan Christus se reddingswerk. Dis so eenvoudig dat ‘n kind dit kan verstaan. Dit is tewens slegs ‘n kind wat dit kan verstaan (Luk.18:17). Hierdie belydenis bevry ‘n mens van godsdienstige aktivisme wat jou soos ‘n meedoënlose meester dryf en dryf… Dit help jou ook om te besef dat God alle ander dinge in jou lewe genadiglik sal wil skenk indien Hy alreeds jou verlossing in Christus geskenk het. (Rom.8:32).

Solus Christus 🔗

Die vrye genade van God impliseer dat ons, terwyl ons nog goddeloos was, deur Christus alleen gered is. Christus het immers aan die reg van God voldoen. God sien nie ons sonde slordig oor die hoof nie. Jesus het die wet in ons plek volbring en in ons plek die skuld 100% betaal. Ons samewerking kan dus nie Christus se werk aanvul nie. Op geen manier nie. Alléén Christus se werk het ons gered. Hy het dit nie verrig ómdat ons Hom aangeneem het nie, maar net omdat Hy ons jammer gekry het.

Gedurende die Reformasie was die kritiek nie op Luther se klem op “Christus” nie, maar die kritiek was gerig teen sy klem op “Christus alleen!” Die “alleen” van die Reformasie was/is die groot steen des aanstoots. Niemand sou beswaar maak teen “genade” en “Christus” nie, maar ai, daardie “alleen”! Daarom was die reformatore beskuldig van eensydigheid en objektivisme. Hulle was daarvan beskuldig dat hulle nie die volle evangelie verkondig nie, want dit gaan tog nie alleen oor Christus nie, dit gaan tog ook oor die vrome mens en sy “verantwoordelikheid!” (Vgl. J Kamphuis: Een eeuwig verbond, 1984, p.47).

Christus kruis

Wie egter hierdie “alleen” nie verstaan nie, verstaan totaal niks van die unieke hartklop van die Evangelie nie. Tot vandag bly dit die groot wig tussen gereformeerde gelowiges en alle ander gelowiges. Die skeiding tussen die “alleen” en die “alleen, maar ook.” Dit is ‘n radikale en onoorbrugbare kloof. “Alleen”-gelowiges sukkel om werklik om te gaan met “alleen, maar ook”-gelowiges. Dit is soos twee uiteenlopende wêrelde wat mekaar moeilik ontmoet. ‘n Gereformeerde gelowige moet eenvoudig met hierdie konflik vrede maak en getrou aan die Waarheid bly. Al kos dit ook ‘n prys. Iemand soos HF Kohlbrugge was bereid om kosbare vriendskappe te sien tot niet gaan as gevolg van sy trou aan die belydenis van die Reformasie.

Sola Fide🔗

Wie die genadige toesegging van die redding in die beloftewoord van God hoor, mag dit sondermeer glo. Dit is egter nie die daad van geloof wat ons red nie. Dit is Christus se bloed wat ons gered het, en dit glo ons! Hoeveel mense lewe in onsekerheid oor hulle heil omdat hulle onbewustelik in hulle geloof glo! Hulle het hulle aanneem-van-Jesus aangeneem.

Dit is maar altyd weer die misverstand. Ons is tog so bang ons glo soos die duiwels (Jak 2:19). Ons dink dat “ware geloof” ‘n soort eksamen is wat ons moet slaag. En, sê nou maar net ek glo nie reg genoeg nie? Ons dink dat geloof ‘n soort tegniek is wat ons moet toepas en dan sal ons gered wees. Ons dink dit is drie of vier stappe wat ons baie opreg moet navolg. Maar, sê nou net ons is nie opreg genoeg nie?

Wat ‘n bevryding is die eenvoud van die Bybelse boodskap nie! Geloof is om seker te wees dat die Vader my in Sy Seun op Golgotha gered het. (NGB Art 22). Die Woord sê dit en ek glo dit. Ek eien dit toe. Die Woord sê dat die Vader deur Jesus se bloed my skuld afgeskryf het. Dit eien ek vir myself toe. Ek glo dit. So eenvoudig soos dit.

Maar moenie dink dat die mens die vermoë het om te glo nie! Nee, dis ‘n gawe. Maar, nie ‘n gawe soos ‘n tang wat ek uit die hemel ontvang en nou moet ek rondkyk wat ek daarmee kan vat nie! Nee, die Vader werk die geloof deur Sy Gees wanneer die Woord gehoor word. Hy praat ons letterlik om — tot geloof! Al pratende wek Hy ons tot lewe (Eseg 37:1-14). Dit is die opwekking van ‘n dooie! Om Sy beloftewoord te glo is dus op hierdie manier ‘n absolute gawe van Sy genade. Dit is die reformatoriese belydenis.

Soli Deo Gloria🔗

Enige denkbare greintjie eer wat moontlik aan die mens kan toekom, word deur die Evangelie by die wortel afgesny. Alleen die Here ontvang al die eer. Juis hierin lê die groot vryheid waarmee die gelowige leef. Niks bring groter blydskap en dankbaarheid as dit nie. Die gelowige leef nie net uit genade wat sy verlossing betref nie, maar ook wat sy totale lewe betref. Álles word uit God se vrye guns ontvang. Daarom is die gereformeerde gelowige voor die hele wêreld vry! In voorspoed en ook in teenspoed.

vry

Daarom is ‘n gereformeerde kerk ook altyd ‘n “vrye kerk” wat sy kerkregering betref. Hy word nie beheer van “bo af” soos ‘n vereniging nie. Hy het nie Sinodes en Ringe (Klassisse) wat “hoër” gesag het as die Woord wat in die plaaslike kerk regeer nie. Hy het nie ‘n “moderator” wat ‘n “kerkbaas” (Pous?) is nie. ‘n Gereformeerde kerk is ‘n vrye kerk omdat Christus hom regeer deur Sy Woord en Gees deur die plaaslike kerkraad. So ontvang Hy die eer.

Vir die suiwer goud van hierdie belydenis het duisende martelare met hulle bloed betaal. Byvoorbeeld Guido de Brés wat die NGB opgestel het. En hoeveel gereformeerdes het in St. Bartholomeusnag gesterf? Was dit nie 50000 (Encyclopaedia Brittannica) nie? Laat ons dan gaan leef as vry mense wat alleen uit genade leef.