1 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Roeping, Nie Aanbod Nie

Daar is baie wat verkies om na die evangelie te verwys as ʼn “aanbod”, eerder as ʼn roeping. Dit is interessant, om die minste te sê, dat die Skrif  nooit  die woord  aanbod  gebruik om die evangelie te beskryf nie. Ons het nie ʼn beswaar teen die woord  aanbod  as sulks nie. In die ouer sin van die woord beteken dit bloot dat  die evangelie Christus “bekendstel”. Die Westminsterse Groter Kategismus definieer die aanbieding van Christus, byvoorbeeld, as ʼn  “getuienis dat hulle wat in Hom glo, gered sal word”.1

In die moderne sin doen die woord  aanbod  egter voor, en word dit gebruik om te leer dat God alle mense liefhet en elkeen van hulle wil verlos; dat Hy poog om deur die evangelie elkeen te verlos, en dat die redding van die sondaar van sy eie wil afhang. Hierdie leer is in stryd met die Skrif.

Die Skrif leer nie dat God alle mense liefhet nie (Ps. 11:5; Joh. 13:1; Rom. 9:13) en ook nie dat God probeer om almal te red nie (Jes. 6:9-11; Rom. 9:18; 2 Kor. 2:14-16). Dit leer bepaald nie dat God in die verlossing van die sondaars deur hulle onwilligheid gekortwiek kan word of dat Hy as’t ware hoed in die hand wag dat hulle sy redding aanvaar of aanneem nie (Ps. 115:3; Joh. 6:44; Rom. 9:16; Ef. 2:8,9). Om hierdie rede verkies ons om nie van die evangelie as ʼn aanbod  te praat nie.

ʼn Roeping verskil van ʼn aanbod. Roeping herinner ons aan die soewereiniteit van God. Hy, die Koning, gebied die sondaar om te glo en die evangelie te gehoorsaam. Dit gee te kenne dat Hy  deur sy soewereine roeping inderdaad sommiges tot verlossing bring. As ons besef dat dit  God  is wat roep, is dit nie moeilik om te verstaan nie. Dit is Hy wat “die dinge wat nie bestaan nie, roep asof hulle bestaan” (Rom. 4:17).

Hierdie roeping word in die prediking van die evangelie gehoor. Deur die innerlike werking van die Heilige Gees word dit kragdadig, sodat sommige die roeping nie net hoor nie, maar ook gehoorsaam. Deur die werk van die Gees is dit  God in Christus  wat roep, nie die prediker nie. Die prediker is net ʼn instrument.

Dit is die rede waarom die goddeloses vir ongehoorsaamheid veroordeel word wanneer hulle weier om aan die roeping gehoor te gee. Deur hulle ongeloof wys hulle nie ʼn mens weg nie, maar die lewende God wat deur sy eniggebore Seun tot hulle spreek. Dit is bedenklik.

Dit is ook die rede waarom die prediker niks ander as die Skrif moet verkondig nie. Hulle wat hoor, moet God se Woord hoor, nie die opvattings, filosofieë, of politieke kommentaar van die prediker nie. Die prediker moet selfs versigtig wees dat hy nie die soewereine roeping van God verduister deur allerlei onnodige gesoebat of oorredingstaktiek, wat die indruk laat dat God op die wil van die sondaar wag, nie.

Dit moet in die prediking van die evangelie duidelik wees dat God in sy oppermagtigheid, geloof en bekering van die sondaar eis — dat Hy, die Almagtige, die Regter van hemel en aarde, gehoorsaamheid eis, en ongehoorsaamheid straf. Deur sulke prediking word sondaars gered en God verheerlik.

Endnotes🔗

  1. ^ Die Westminsterse Groter Kategismus, Vraag en Antwoord 65.