Bron: Die Kerkblad. 4 bladsye.

Skrifbeskouing en Skrifverklaring

Bybel

’n Mens se Skrifbeskouing bepaal hoe jy die Skrif verklaar. Sien jy die Bybel as die openbaring van God, dan verklaar jy dit anders as ’n boek met menslike geloofsuitsprake.
Sien jy Bybel asof dit op een oomblik ontstaan het en dus tydlose uitsprake bevat, dan verklaar jy dit anders as wanneer jy dit sien as openbaringsgeskiedenis.

God het sy openbaring deur die tyd heen volgens die begrip en behoefte van die omstandighede gegee. Skrifbe­skouing en Skrifverklaring raak nie net dié wat die Bybel bestudeer nie. Ons het elkeen ons Skrifbeskouing en doen ons Skrifverklaring. Die Bybel is trouens veral vir geloofstudie bedoel. Ek spits in hierdie artikel toe op die kante van die saak soos dit ons in ons tyd prakties raak.

Die verstand of innerlike gewaar­wording: middel of maatstaf?🔗

Waar kom ’n mens aan jou Skrifbeskouing? Vir party is die menslike verstand die maatstaf waarmee hulle dit wat die Bybel sê, beoordeel. Hulle glo daarom nie dat Christus werklik uit die dood opge­staan het en dat ons ook sal opstaan nie. Ons verstand en ons kennis van die natuur leer ons dat so iets nie moontlik is nie, sê hulle. Die gelowiges in Jesus se tyd het wel so geglo, maar hulle het nog nie van beter geweet nie. Ons het nou meer kennis en kan daarom nie alles wat die Skrif as werklikhede aanbied, aanvaar nie.

Vir ander mense is emosie of innerlike gewaarwording die maatstaf waarmee hulle die Bybel beoor­deel. Vir hierdie benadering neem die “leiding van die Gees” prakties die rol van die Bybel oor, want die die gelowiges is nou Geesvervulde mense en word deur die Gees on­derrig en gelei.

Natuurlik beklee die verstand ’n belangrike plek in die Bybelse gods­diens, so ook die emosie. Ons moet denkend met die Bybel omgaan en moet ons godsdiens persoonlik be­leef.

In die Bybelse godsdiens speel die verstand en die emosie of belewing egter ’n ondergeskikte rol. Hulle is middele om die godsdiens te beoefen, maar nie die maatstaf nie. Die Bybel is die maatstaf. En die Bybel is nie dit wat Israel of die kerk oor God uitgedink het of innerlik oor God beleef het nie. As dit so was, sou die Bybel anders daar uitgesien het. Wat ons in die Bybel het, is God se openbaring, sy Woord.

Die Bybel is eintlik ’n regstelling op wat die mens dink en voel en hoe hy optree. Daar is in die Bybel voortdurend kritiek op die Godsvolk, Israel en die kerk, op ons menslike benadering en gevoel. Ons word gedurig opgeroep tot selfondersoek, bekering en omvorming of hervorming.

Wat meer is, die Woord werk ten nouste saam met die Gees. Dit maak dat die Woord enersyds le­wend is en op die gelowige inwerk.

Andersyds hang dit wat die Gees in ’n mens getuig saam met wat die Woord sê. Wat die Gees ’n mens leer kan nie bots met wat die Woord ons leer nie. (Kyk Joël 2; Jer 37; Luk 24:45; Joh 16:13; en ook Ps 33:6 en Jes 40:6-8.)

Hart en brein🔗

Voortdurend in die geloof met die Bybel omgaan🔗

’n Mens moet dus voortdurend met die Bybel omgaan. Jy moet van hom leer en jou onder sy leiding en sy heerskappy stel. Psalm 1 sê ’n mens moet die Woord dag en nag oordink. Dit hou ook in dat ’n mens die Bybel nie net as ’n gewone boek moet benader nie. Jy moet glo dat jy met God se openbaring te doen het.

Verder moet jy onthou dat dit nie die Skrif self is wat die Redder is nie, maar God. Die Bybel is die mid­del vir die openbaring en is nie die Middelaar nie. ’n Mens kan die ge­skrif vergoddelik. Jy kan net so mis-tas soos die Fariseërs en Skrifge­leerdes. Hulle het die Skrif streng benader, maar as ’n onpersoonlike boek vol onpersoonlike reëls en uitsprake.

Die Woord van God het egter ’n baie sterk persoonlike aanslag. God het dit op ’n persoonlike ma­nier aan en deur persone gegee. ’n Mens moet die Bybel in ’n persoonlike omgang met Hom lees en verklaar.

Dit is dus nie goed genoeg om die Bybel met die verstand te aanvaar en sterk vir die Skrifgesag op te kom en dit te wil beskerm nie, veral nie as jy dit met nydigheid teenoor ander doen nie. Die Skrif wys eintlik van homself af weg na God toe. Dit sê dat God regeer, dat Hy deur Christus verlossing bewerk. Die verlossing geld vir dié wat hulle eie sonde besef en ’n lewe van beke­ring leef. Dit is dié wat God én hulle naaste liefhet.

Christus self waarsku teen die ver­keerde benadering. Wanneer Hy weer kom sal dit nie help om vir Hom “Here, Here” te sê, dit wil sê dat Hy die Here, die Messias, die Regeerder volgens die Skrifte is nie. Wat deurslaggewend sal wees, is jou liefde vir God en jou naaste. Die toets sal wees of hierdie liefde in jou verhouding met hulle en in jou dade teenoor hulle gestalte gekry het.

Die vraag is dus of dit wat jy glo deur die Heilige Gees in jou bewerk is en in ’n lewende gemeenskap met God gevoed word. Hierin speel die verbond wat God met sy gelowi­ges gesluit het ’n belangrike rol. Die Skrif veronderstel dat ’n mens in verbondsgemeenskap met die gelowiges leef. Daar veral word jy deur die Woord en die sakramente voorgelig, gelei en toegerus vir die gewone lewe.

Die Skrif het nie eensklaps ont­staan nie🔗

Die Skrif het onder die leiding van God deur die geskiedenis heen ontstaan. Groot gedeeltes van die Skrif het ’n historiese aard en selfs ’n historiese vorm. Tog het die Skrif nie ’n gewone historiese aard nie, maar ’n openbaringshistoriese aard. Dit stel anders in die feite, ge­beurtenisse en die geskiedenis be­lang as gewone historiese geskrifte.

Party Bybelse geslagsregisters gee byvoorbeeld vir die huidige leser die indruk dat die persone of ge­slagte waaroor hulle handel, direk op mekaar gevolg het. In werklik­heid slaan die geslagsregisters eg­ter persone of geslagte oor (vgl. bv. Gen 5 met Luk 3:36). Die Bybel is nie in alle opsigte volgens ons maatstawwe vir bepaalde soorte geskrifte saamgestel nie. Die meto­de vir die verklaring van die Bybel moet afgelei word uit hoe hy self te werk gaan.

Dit is dus ’n fout om uit die geslagsregisters in Génesis af te lei hoeveel geslagte daar was en hoeveel jaar dit beslaan het. Net so is dit ’n fout om Génesis se dae te gebruik om te bepaal hoe lank die skepping geduur het. So ’n verklaring van Bybelgedeeltes doen die Skrif ’n onreg aan. Ander historiese of wetenskaplike gegewens of afleidings wat tot ander gevolgtrekkings kom word dan ook veronreg as hulle veroordeel word asof hulle die gesag van die Skrif aantas.

’n “Profetiese perspektief” en Messiaanse perspektief🔗

Wanneer ’n mens na berge in die verte kyk, lyk hulle gewoonlik soos een berg. In werklikheid is hulle miskien verskillende reekse wat agter mekaar lê. Die profete het gebeurtenisse wat in die toekoms lê so beskryf, asof dit een gebeurtenis is. God se koms na sy volk toe, wat in Jesaja 40:1-11 verkondig word, het daarom nie alleen op Israel se terugkeer uit die ballingskap betrekking nie. Die verkondiging slaan ook op Christus se eerste koms sowel as op sy tweede koms.

berge

Iets van hierdie benadering hoor ons ook wanneer die Bybel sê dat die dag van die Here naby is, of dat Christus se koms naby is. Verder, Psalm 95 sê dat as Moses vir Israel oproep om “vandag” hulle verantwoordelikheid op te neem, die “vandag” ook vir die digter se eie tyd en mense geld - en dus ook vir ons s’n.

Met so ’n soort “profetiese perspektief” kyk die Nuwe Testament partykeer na Ou-Testamentiese gedeeltes asof hulle een is met die Nuwe-Testa­mentiese vervulling in Christus. Alleen as ’n mens dit raaksien kan jy insien hoe die Nuwe Testament byvoorbeeld Jesaja 7:14 as Messiaans kan verklaar. Die “God met ons” in Jesaja 7:14 is klinkklaar op iemand in Jesaja se eie tyd van toepassing. Die huidige debat oor Messiaanse gedeeltes in die Psalms en die omdigting van die Psalms reken nie genoeg met hierdie perspektief nie.

Die manier waarop die Nuwe Testament met “profetiese perspektief” na enkele Psalms en Skrifgedeeltes soos Jesaja 7:14 kyk raak verder nie net daardie aangehaalde gedeeltes nie, maar al die Psalms en Ou Testamentiese gedeeltes. Hulle verkondig almal Christus op hulle onder­skeie maniere. As ons dit nie besef nie oorwaardeer ons enkele Psalms en onderwaardeer ons die oorgrote meerderheid Psalms.

Wys die huidige debat nie dalk dat die tyd ryp is om al die Psalms onder ’n wyer opdrag as tot nou toe te laat berym/omdig of aanvul sodat die Nuwe-Testamentiese lig duidelik daaruit straal nie? So kan ons God se optrede in en deur die vervulling in Jesus Christus besing. So ’n taak sou gedoen moet word vanuit die perspektief wat die Nuwe Testament bied, asook Psalm 1 en 2 is ’n inleiding tot die Psalms. Hulle plaas alles in die lig van Wet/Woord van die Here (Psalm 1) en God se regering deur die koning (Koning/Messias) deur wie Hy regeer (Psalm 2).

Die groot verband van die Skrif🔗

As die Bybel volgens ’n mens se Skrifbeskouing ’n eenheid is, dan kan jy tekste nie net op hulleself verklaar nie. Daar moet ook na hulle gekyk word binne die groot verband van die Bybel. Die koms van Christus het byvoorbeeld soveel nuwe lig gebring dat die gedeelte van die Skrif wat voor Hom ontstaan het nou die Ou Testament is. Die Ou Testament verdwyn nie nou nie en dit word ook nie onbelangrik nie, maar dit moet in die nuwe lig gelees en verklaar word. Nuwe-Testamentiese gelowi­ges leef nie meer in die skadubedeling nie, maar in die bedeling van die volle lig.

’n Goeie voorbeeld van hoe ’n Skrifgedeelte buite die groot Skrifver­band gelees en verklaar word is die manier waarop daar met die sogenaamde Jabes-gebed omgegaan word. Jabes het tydens die verdeling van die land onder die stamme van Israel gebid dat God sy grond­gebied moet uitbrei. Dit het toe ook so gebeur (1 Kron 4:9). Daarom moet ons ook maar net ernstig bid en dan sal daar vir ons sukses wees – so word deur sommiges be­weer. So word van die gebed ’n ruilmiddel of koopmiddel gemaak.

Gebede word vandag dikwels so benader en so gebid. ’n Mens kry soms die indruk dat daar vir ons verlies aan uitoefening van staatkundige en maatskaplike mag op­gemaak wil word deur godsdiens-bemagtiging en gebedsbemagtiging. Ons loop die gevaar om in die greep van ’n verkeerde godsdiens-en gebedsbenadering te raak. Dit is ’n benadering wat ingebed is in wat algemeniserend genoem kan word ’n Amerikaanse welvaarts-, voorspoeds-, verkoops- en oorwin­ningsbenadering.

Die lewenswerklikheid en die res van die Skrif leer egter dat dit ’n eensydige verklaring is. Volgens die groot verband van die Skrif waarborg gebede nie sukses nie.

Gebede is veral bedoel om God in sy genade en liefde op te soek en jou tot beskikking van sy diens te stel – soos Hy dit wil. Daarin moet ’n mens volhou, al lyk die situasie dikwels nie rooskleurig nie.

Die gebed wat Christus ons geleer het, die Ons Vader, konsentreer ten volle op God en sy wil. So begin dit: “Laat u Naam geheilig word, laat u koninkryk kom, laat u wil geskied.” So is ook die hele gees van die res van die gebed.

hande en Bybel

In die bogenoemde benadering word die manier van bid of metode van bid egter deurslaggewend om sukses te behaal. Ons moet met die gebed beding hoe ons meen God ons moet gebruik om Hom en sy koninkryk te dien volgens ons metodes. En om krag by te sit om met Hom te beding, moet ons ons getalle en die dag se ure monster. Hoe meer mense daar is wat bid en hoe meer ure daar gebid word, hoe meer geslaagd is dan ons geloofslewe!

Die mens as verloste, maar ook as geskapene🔗

Uit wat gesê is, sien ons ook dat Bybelgedeeltes nie verklaar moet word asof die hoofnadruk op die mens se verlossing lê nie. So ’n benadering is mensgerig in plaas van Godgerig. Die Bybel lê nadruk op God en dat ons deur Hom geskep is om in diens van Hom as Skepper en Onderhouer van alles te wees. Daar is ’n groot verantwoordelikheid op die mens gelê in verband met die bewaring en versorging van die aarde.

Ons Skrifbeskouing en Skrifverklaring moet ons dus nie by ons verlossing deur Christus en by die kerk laat vassteek nie. Dit moet ons verantwoor­delikheid teenoor die natuur en teenoor die aardse bestaan in al sy ver­skillende kante aan ons voorhou.

’n Mens is volgens die Skrif na die beeld van God geskep; jy is ’n kind van God (Gen 1:26-28; 5:1-3). Jy verteenwoordig God en moet dus lewe as iemand wat ten volle van God afhanklik is. Jy moet Hom voluit liefhê en in die eerste plek vra wat sy wil is. Uit dankbaarheid moet jy Hom met jou hele lewe dien en eer.

Die Bybel laat ook duidelik sien dat God nie net die middelpunt en doelpunt van alles is nie, maar ook die uitgangspunt. Die Skrif is nie net wat oor Hom gesê word en wat tot sy eer gedoen moet word nie, maar is wat Hy gesê het. Hy is die Een wat doen en praat; ons moet luister. Daarom moet Woordverkondiging die belangrike plek in ons eredienste inneem.

Die Psalms bied hulleself aan as dié bron van ons gebedslewe en van ons liedere voor God. Psalm 1 laat duidelik sien wat die allesbeheersende is: “Dit gaan goed met die mens wat sy vreugde vind in die Woord van die Here en dit dag en nag oordink.” Die allesbeheersende is nie dat ons praat en God luister, selfs na ons sing of bid luister nie, maar dat ons luister na wat God praat, ook in ons sing en bid. Die Psalms is wel ’n boek vir sing en bid, maar die boek bied homself in die eerste plek aan as leer-boek. God is die Leermeester en ons die leerlinge. Dit is die fondament van ’n Skriftuurlike Skrifbe­skouing en Skrifverklaring. Dit bring ’n mens tot ware selfkennis, begrip, belewing, dankbare verantwoordelik­heid en diensbaarheid en tot lof aan God met woorde en dade.