Bron: Die Kerkblad, 1990. 5 bladsye.

Wie was Paulus?

inkpot

Die apostel Paulus erken in Gala­siërs 1:15 dat die Here God hom al van voor sy geboorte bestem en ge­roep het tot die diens om apostel van Jesus Christus aan die nasies te wees, en dat God hom dus van kinds­been af voorberei het vir sy diens­werk later.

Dit sien ons so pragtig as ons let op sy persoonlike agtergrond waar­mee God hom opgevoed en voor­berei het vir sy latere diens as apostel van die nasies. Ons let kort­liks op enkele kardinale sake.

1. Sy Name🔗

Die misverstand bly maar aldeur vassteek as sou die man se naam eers Saulus gewees het en God dit na sy bekering verander het na Paulus. Dit is nie waar volgens die Bybel nie.

Sy Joodse naam wat sy ouers hom gegee het by geboorte was in Hebreeus of Aramees ongetwyfeld: Shaoul — dieselfde naam as dié van koning Saul van die Ou Testament. Die Griekse weergawe daarvan in ons Griekse Nuwe Testament is Saulos, wat, volgens die Latynse spelling in ons Afrikaanse Bybels geword het: Saulus.

Nou was dit ook 'n voorgeskrewe prosedure binne die grense van die Romeinse Ryk dat alle onderdane, naas hulle geboortenaam' in hul moedertaal, ook 'n eg Grieks-Romeinse naam moes ontvang.

Dit was dan gebruiklik by die Jode om 'n Griekse of Latynse naam te kies so na aan die oorspronklike in vorm en uitspraak as moontlik. So was Shaoul se Grieks-Latynse twee­de naam dan Paulos (Afrikaans: Paulus). Ons skrywer het dus eintlik 'n dubbele naam gedra: Shaoul Paulos.

Dit is wonderlik hoe noukeurig Lukas, die skrywer van Handelinge, hom hou aan die naamsgebruik van die apostel: Solank die apostel in Joodse of Arameessprekendege­biede is, gebruik Lukas vir hom kon­sekwent die Joodse naam 'Saulus' ­ook na sy bekering, vergelyk Hande­linge 9:8, 22, 24 ens.; Handelinge 13:1, 2, 7. Ja, in die mond van die Here Jesus gebruik Lukas tereg selfs nog die oorspronklike Aramese vorm: Saoul of Shaoul (Handelinge 9:4)! Sodra die apostel egter op sy eerste sendingreis in Hellenistiese gebied, nl. Siprus aankom, sê Lukas in Handelinge 13:9 – "Maar Saulus, dit is Paulus…" – om voortaan slegs sy Grieks-Latynse naam te gebruik!

2. Opregte Israeliet🔗

Die Jode van destyds was uitermate gesteld op rassuiwerheid en die ver­moë om jou stamboom so ver as moontlik te kon terugvoer.

En so vind Paulus hom in sy send­briewe herhaaldelik gedwing om, teen die Jode wat hom by die Joods­-Christene onder verdenking probeer bring het, homself aan te toon as opregte Israeliet in die volste sin van die woord. So lees ons in Filippense 3:4, 5 – "As iemand anders meen dat hy op die vlees kan vertrou, ek nog meer. Ek is besny op die agtste dag, uit die geslag van Israel, uit die stam van Benjamin, 'n Hebreër uit die Hebreërs." (vergelyk ook o.a. Romeine 11:1; 2 Korintiërs 11:22).

Hoër aansprake van ware, raseg­te, elite en konserwatiewe Israeliet-­wees kon haas geen Jood aanvoer nie! Met so getuigskrif kon geen Joodse huis vir Paulus op sy sen­dingreise gesluit bly nie!

Wat beteken hierdie dinge dan?

  • "Besny op die agtste dag" – vol­gens Genesis 17:12 en Levitikus 12:3 moet elke Israelitiese seuntjie agt dae na geboorte besny word.
    Hiermee stel Paulus dit dus duidelik dat hy van geboorte 'n Jood is, en dus geen proseliet is nie, dit wil sê geen andersvolkige persoon wat eers as volwassene tot die Joodse geloof bekeer is, en dus as volwas­sene besny is nie. – Maar, die kin­ders van proseliete kon tog wel "op die agtste dag besny" gewees het. Daarom vervolg Paulus nou:

  • "Uit die geslag van Israel" – Hiermee dui die apostel homself aan as 'n rasegte Israeliet. Hy is gebore uit suiwer Israelitiese vaders sover terug as vader Jakob (Israel) self. Inderdaad het die Jode van die tyd van die Nuwe Testament besonder prys daarop gestel dat iemand, om as 'n vooraanstaande Jood aange­sien te wil word, sy geslagsregister moet kan uitlê, verkieslik dan sover terug as die aartsvaders. 'n Soortge­lyke kwalifikasie stel Paulus in Romeine 11:1 en 2 Korintiërs 11:22 wanneer hy homself aandui as "nakomeling" of "uit die nage­slag" van Abraham.

  • "Uit die stam van Benjamin" ­– Paulus trek die sirkel al nouer, so­dat al minder Jode saam met hom sou kon spog. Die stam van Benja­min was om verskillende redes ge­reken as een van dié elite-stamme van Israel. Eerstens was Benjamin kind van Ragel, Jakob se lieflingsvrou.
    Tweedens was Benjamin die een seun van Jakob wat in Kanaän self gebore is. Derdens was die stam van Benjamin die enigste stam naas Juda wat aan Dawid en die Dawids­huis getrou gebly het – wat saam met Juda, die koningstam, die Tweestammeryk van Juda gevorm het, toe die ander tien stamme af­vallig geword het.

  • "'n Hebreër uit die Hebreërs" – Hiermee tipeer Paulus homself nou ook kultureel as uitsoek-Jood. 'n Hebreër' het in hierdie tyd iemand aangedui wat nog Hebreeus, die taal van die Skrifte, magtig was. 'n "Hebreër uit Hebreërs" wil sê: ook my vader en moeder was Hebreeus-sprekend! In 'n tyd waarin die Dia­spora-Jode feitlik deur die bank net Grieks gepraat het, en die Pales­tynse Jode net Aramees, was dit beskou as 'n teken van besondere tradisievastheid en kultuurtrou om nog Hebreeus self ook te kon praat. – So was Paulus dan van huis uit opregte Israeliet in die volste sin van die woord.

kaart

3. Diaspora-Jood🔗

Teen die begin van ons jaartelling was die Jode basies in twee groepe onderskei: die Palestynse Jode, die Jode wat nog in Palestina self woonagtig was, en die Diaspora-Jode, of Jode woonagtig buite die grense van die beloofde land. 'Diaspora' beteken letterlik 'verstrooiing', en dui op die feit dat in die Nuwe Testamentiese tyd daar baie meer Jode verstrooid buite Palestina gewoon het as daarbinne.

Die proses van verstrooiing het begin met die ballingskap, toe daar met die terugkeer van Juda eintlik net 'n klein deel van die ballinge werklik gerepatrieer het, terwyl baie verkies het om in die gemak en weelde van Babilonië te bly leef. In die eeue van die opvolgende wêreldryke tussen die Ou en Nuwe Testamentiese tye, is Palestina telkens opnuut verower en is baie Jode as gevangenes en slawe weggevoer. Só het die Jode mettertyd verstrooid geraak oor die hele destydse beskaafde wêreld.

Paulus se ouers was, hoewel rasegte en tradisionele Israeliete, Diaspora-Jode woonagtig in Tarsus, 'n vooraanstaande 'universiteits'- en handelstad van die Romeinse provinsie Silisië in Klein-Asië (Handelinge 21:39 – "Ek is Joodse man van Tarsus, 'n burger van geen onvermaarde stad in Silisië nie"; vergelyk ook Handelinge 22:3). (Let wel: Tarsus moet nie verwar word met die plek Tarsis aan die uiterste weste van Spanje, waarheen Jona gevlug het nie). Dit beteken dat Paulus naas sy rasegte Israelietskap, en sy streng konserwatief-Joodse opvoeding, ook as produk van 'n tipies Hellenistiese, Griekssprekende stad 'n goeie kenner was van die wêreldtaal Grieks en van Romeins-Griekse kultuur en godsdiens.

Paulus noem homself ook 'burger van Tarsus'. Dit is meer as bloot 'n inwoner van die stad. Tarsus het binne die Romeinse Ryk erkenning geniet as 'n stadstaat, met sekere outonome regte en 'n eie burgerskap vir sy vooraanstaande inwoners. Dat Paulus dus wel burgerskap van Tarsus gehad het, toon dat sy ouers en hy gesiene en welvarende mense was.

Hy was dus uitnemend toegerus om sowel die Palestynse Jodedom as die Diaspora-Jode, asook die heidennasies met die Evangelie aan te spreek!

griekse kultuur

4. Romeinse Burger🔗

Onthou, Paulus was 'n suiwer, rasegte en tradisievaste Israeliet. Tog word hy telkens 'n 'Romein' genoem (Handelinge 16:38; 22:26, 29). Dit gaan hier egter nie om die afstamming van Paulus nie – hy het geen Romeinse bloed in sy are gehad nie! Dit gaan om burgerskap van die Romeinse Ryk. En hierop het Paulus hom telkens beroep: "Hulle het ons in die openbaar onveroordeeld geslaan, ons wat Romeinse burgers is…" (Handelinge 16:37-39; vergelyk ook Handelinge 22:25-29).

Romeinse burgerskap moet nie verwar word met onderdaan wees van die Romeinse Ryk nie. Alle mense binne die wye grense van die Imperium was wel Romeinse onderdane, maar by verre nie almal was gereken as burgers van die Ryk nie. Burgers van die Ryk het besondere voorregte en beskerming geniet, soos bv. dat hulle slegs deur Romeinse howe verhoor kon word, en nooit gepynig mag word voor skuldigbevinding nie; verder, dat hulle in hoogste appèl hulle op die keiser self kon beroep as hulle meen dat hulle vryelik sonder iets soos 'n paspoort kon beweeg oor al die lande en provinsies binne die Romeinse Ryk.

Dit alles het vir Paulus weer eens ontsaglik baie beteken as apostel van die nasies. Want as burger van die Ryk kon hy in die hele destyds beskaafde wêreld ongehinderd rondreis; kon hy teen die haat en vervolginge van die Jode hom telkens op besondere geregtelike behandeling beroep; en kon hy uiteindelik toe die Romeinse goewerneurs van Judea (Feliks en Festus), by wyse van guns aan die Jode, hom geen regverdige verhoor wou gee nie, hom beroep op of appelleer na die keiser self (Handelinge 25:9-12).

Romeinse burgerskap het alleenlik gebore Romeine (sê maar: Italianers), wat nie slawe was nie, vanselfsprekend besit. Nie-Romeinse onderdane van die Ryk kon dit bekom óf deur omkopery, óf deur besondere welvaart en aansien, of deur besondere diens aan die Romeinse staat. Sulke mense se kinders het dit dan by geboorte geërf. So lees ons in Handelinge 22:28 dat Paulus "dit deur geboorte" gehad het – wat weer daarop dui dat sy Joodse ouers besonder ryk en gesiene mens moes gewees het!

5. Skrifgeleerde en Lid van die Joodse Raad?🔗

Uiteraard gaan dit nou om aspekte van die persoonlik agtergrond van Paulus voordat hy Christen geword het.

Ons lees in Handelinge 22:3 "Ek is 'n Jood, gebore in Tarsus in Silisië, maar opgevoed in hierdie stad (Jerusalem) aan die voete van Gamaliël". Voor die Jerusalemse skare was dit 'n mondvol! Gamaliël was die grootste rabbyn of skrifgeleerde van die eerste eeu in die oë van die Jode. 'Skrifgeleerde' was 'n onbetaalde beroep in daardie tyd, waarin mens jou lewe gewy het aan die studie van die Skrifte (Ou Testament) en die Rabbynse tradisie of 'omheining van die wet' (dus iets soos 'n teoloog in ons tyd).

Om dus 'aan die voete van Gamaliël' te gesit het, beteken dat jy 'n student was in die 'teologiese skool' van die grootste skrifgeleerde van daardie tyd. Paulus was dus self 'n uitnemende geskoolde skrifgeleerde, 'n kenner sowel van die Ou Testament as van die hele Joodse tradisie, al hulle uitspinsels op die Woord waarmee hulle die Jode se gewetens gebind het.

Wanneer Paulus dus later as apostel (bv. in Romeine en Galásiërs) oor en teen die Joodse wet skryf, weet hy waarvan hy praat!

Was Paulus ook voor sy bekering 'n lid van die Sanhedrin of Joodse Raad? Heel waarskynlik! In Handelinge 26:4-5 beroep hy hom daarop in hulle teenwoordigheid dat hulle hom persoonlik en sy lewe vroeër in Jerusalem goed ken. En uit Handelinge 7:58 en 8:1 blyk dit dat Paulus eintlik in bevel was van die 'teregstelling' van Stefanus, iets wat slegs die taak en reg was van 'n lid van die Sanhedrin wat die vonnis gevel het!

Joodse raad

6. Fariseër🔗

Dat Paulus voor sy bekering tot die party van die Fariseërs behoort het, weet ons uit verskeie plekke in die Nuwe Testament; vergelyk Handelinge 23:6-9; Handelinge 26:4-5; Filippense 3:6. Ook dit was hy, blykens Handelinge 23:6, al van huis uit. Paulus self getuig, met reg, dat die Fariseërs 'die strengste party van ons godsdiens' was.

Die Joodse volk was destyds verdeel in verskeie godsdienstige en/of politieke groeperinge. Die vernaamstes was:

  • Fariseërs; Sadduseërs – godsdienstig-politieke partye

  • Esseners – 'n asketiese godsdienstige sekte

  • Selote; Herodiane – politieke partye.

Die Herodiane was die uiters 'linkse' politieke groep, aanhangers van die Herodes-vorstehuis wat by grasie van Rome regeer het, en hulle was dus sterk imperialisties, pro-Romeins en pro-hellenisme gesind.

Die Selote weer was die uiters 'regse' groep; nasionalisties en militant anti-Romeins gesind; bereid om met wapengeweld op te staan vir die vryheid van Israel.

Tussen hierdie twee groepe het die Sadduseërs en Fariseërs gelê. Die Sadduseërs, wie se lede hoofsaaklik uit die priester- en Levieteklas gekom het, was polities soos die Herodiane meestal pro-Romeins en veral pro-hellenisties gesind, en godsdienstig die meer vrysinniges. So het hulle die grootste deel van die Ou Testament nie aanvaar nie (slegs die Tora of eerste vyf boeke is aanvaar); die lewe na die dood en dus ook opstanding van die liggaam het hulle geloën; ook die bestaan van engele en die Bybelse leer van uitverkiesing – vergelyk Handelinge 23:6-10.

Daarteenoor was die Fariseërs soos die Selote, maar meer gematigd en nie altyd getrou nie, nasionalisties gesind, voorstanders van Israelitiese vryheid en die groot verkondigers van die Messias as 'n nasionale bevryder.

Godsdienstige gesproke was hulle die groot yweraars vir die Wet – van oorsprong streng vroomheidsbeweging wat daarna gestreef het om die Wet streng te onderhou en die volk te dwing om dit te onderhou soos hulle dit reg geag het. Daarvoor het hulle graag van beroep skrifgeleerdes geword en die sg. 'omheining van die wet', die uitbouing van honderde reëls en regulasies 'vanuit' die Tora gestimuleer.

Dit is van hulle wat Jesus sê: 'Hulle bind pakke saam wat swaar en moeilik is om te dra, en sit dit op die skouers van die mense…' (Matteus 23:4). Geen wonder nie dat Paulus later as apostel uit bittere ervaring kon skryf oor die SLAWERNY van die wetsgeregtigheid; van die bittere slawebestaan van elke mens wat die genade van God verwerp deur sy eie saligheid as Fariseër te wil uitwerk (vergelyk Galasiërs 3:1-14 en 5:1-15)!

7. Vervolger van die Kerk van die Here Jesus🔗

As fanatieke Fariseër, yweraar vir die Joodse Wet, was hierdie man Paulus voor sy bekering ook 'n fanatieke hater van Jesus Christus en sy gemeente – mense wat sê dat die 'eenvoudige' Man van Nasaret, wat geen Fariseër en geen skrifgeleerde was nie, die Messias van Israel was; mense wat sê dat mens sonder eie verdienste, net uit genade om Jesus wil gered kon word. Sulke 'lasteraars' moes uitgeroei word.

En só het hierdie Paulus, na die moord op die eerste Christenmartelaar Stèfanus, onder sy toesig (Handelinge 7:58-8:1) die groot dryfkrag agter die Joodse vervolging van die Vroegste Kerk geword (Handelinge 8:1-4; Handelinge 9:1-2). En dit kon die apostel na sy bekering nooit vergeet nie: dat hy die kerk van sy Koning en Saligmaker vervolg het! As 'n droewige refrein loop dit deur sy hele lewe en al sy briewe — vergelyk o.a. Handelinge 22:4-5; Handelinge 22:19-20; Handelinge 26:9-11; 1 Korintiërs 15:9; Galasiërs 1:13, 22-24; Filippense 3:6; 1 Timoteus 1:12-16!

Paulus

8. Apostel van die Nasies en Bybelskrywer🔗

Hierdie man, met sy wydgeskakeerde agtergrond, sy bande met, toegang tot, en kennis van Palestynse, konserwatiewe Jodendom, Diaspora-Judendom en die Grieks-Romeinse wêreld; sy groot kennis van die Skrifte en rabbynse tradisie; sy donker agtergrond as lasteraar en vervolger van die Here Jesus en sy kerk – HIERDIE MAN roep die Here Jesus op sy tyd (Handelinge 9) tot die ware geloof én tot apostel van die nasies!

Aan Ananias sê die Here: 'Gaan, want hy is vir My 'n uitverkore werktuig om my Naam te dra voor nasies en konings en die kinders van Israel Want Ek sal hom toon hoeveel hy vir my Naam moet ly' (Handelinge 9:15-16). En hy is die man vir wie God, na Hy hom so lank voorberei het daarvoor, geroep het om dertien van die sewe en twintig boeke van die Nuwe Testament te skryf !