Moet ons as Christene vaste gebedstye oorweeg? Sou dit goed wees as Christene vir hulself vaste tye in die dag eenkant sit om te bid? Dat ons te midde van oorvol agendas en 'n dag wat met ons weghardloop, die vaste omgang met die Here veilig stel? Sou dit goed wees om sulke vaste gebedstye deel te maak van ons lewenstyl?

Spontaniteit en vaste reëlmaat staan nie teenoor mekaar nie. Die eerste gemeente was vervul met die Heilige Gees en het God van harte gedien. Tog lees ons dat hulle dag vir dag eendragtig in die tempel volhard het (Handelinge 2:46). Die oorspronklike Grieks van hierdie vers wys baie duidelik op die vaste patroon wat die Jode in daardie tyd geken het, naamlik om drie maal 'n dag na die tempel te gaan om te bid.

So lees ons in Handelinge 3:1 dat Petrus en Johannes na die tempel gegaan het vir die middaggebed. Verder is daar 'n geskrif van ongeveer 125 nC, die Didache ("Die leer van die apostels")wat duidelik aangee dat die vroeë Christelike kerk nog steeds die gewoonte geken het om vaste gebedstye te onderhou.

Die vroeë Christelike kerk, wat uit die volheid van die Gees geleef het, het vaste gebedstye geken. Natuurlik wek die Gees by ons die begeerte om te bid, sommer enige tyd van die dag. Maar die Gees werk ook 'n vaste patroon en reëlmaat in ons lewe. Hy wat in ons woon, weet dat die saak van volharding in gebed ook 'n saak van die horlosie is.

Laat ons maar onthou: Die erns en oorgawe waarmee die Pinkstergemeente hulle geestelike patroon uitgeleef het, was deel van die groot aantrekkingskrag op die omgewing!