Die les van die vervolgde kerk

Die organisasie Open Doors vestig ons aandag steeds weer op die vervolgde kerk. Met al die jihadistiese geweld is dit, helaas, ʼn aktuele onderwerp. Hoe beïnvloed die lewe en die getuienis van die vervolgde mede-Christene my geloofslewe? My omstandighede is so anders. Dit ontroer my, maar ek weet nie wat om verder daarmee te doen nie.

Getuienisse

Hierdie is nie die eerste keer wat ek met die aangeleentheid te doen het nie. In die negentiger jare is ek diep beïndruk na ʼn besoek aan Chinese huisgemeentes, en het ek geskryf oor die manier waarop die Chinese Christene ‘ondergronds lewe’. Die afgelope paar weke het ek Christene uit Somalië, die vroeëre Sowjet Unie en Nepal ontmoet, wat weens hulle geloof vervolg word. Hulle onderdrukkers verskil: moslems, kommuniste, hindoes. Maar wat van die onderdruktes uitstraal, verskil nie by hulle onderling nie: geloofsvreugde, toewyding en dankbaarheid.

Die Here Jesus herinner in sy gelykenis van die saaier dat daar mense is wat eers met blydskap die evangelie omarm, maar wanneer hulle verdruk word, die geloof opgee. Jesus noem die oorsaak: “dit het geen wortel in hulleself nie” (Markus 4:17) – dit het nie hulle hart bereik nie. Tog klink daar in die Nuwe Testament ook ʼn ander refrein: ‘Jy word nie geestelik slegter wanneer jy om Christus wil vervolg word nie. Vrede en vreugde word groter in God’.

Die Christene vir wie Open Doors aandag vra, getuig juis hiervan. Hulle sit in tronke, word deur hulle familie verwerp, word deur hulle omgewing geterroriseer. Hulle vrees vir hulle lewens. Maar, so hoor ons, opgee is min. Hulle het die skat in die akker gevind: Jesus, vir wie geen prys te hoog is nie. In dié verband dink ek aan die drie vriende van Daniël by die gloeiende vuuroond. Hulle het nie geweet of God hulle sou red nie. Maar hoe dit ook al sou wees, hulle sou Hom nie verloën nie.

Al hierdie vroeë en hedendaagse getuienisse maak my jaloers; maar wat doen ek daarmee? Hoe kan ek hulle boodskap in my eie lewe toepas? Miskien deur by ʼn ernstige terugslag minder te vra na die ‘waarom’ as na die ‘waarvoor’: watter bedoeling kon God, met die oog op sy Koninkryk, daarmee hê dat Hy my in hierdie of ander pynlike situasie laat kom?

Geluk

Maar daar is meer. Gelowiges wat vervolg word, staan voor ʼn beslissende keuse: ‘Is daar iets in my lewe wat belangriker is as my liefde vir God? Het ek nie miskien onbewus tog twee here gedien toe dit voor die wind met my gegaan het nie?’ In China het baie vir Christus gekies. Dit het vir hulle ondenkbare ellende opgelewer. Maar terselfdertyd het hulle afhanklikheid van God groter geword, en daarmee ook hulle innerlike geluk.

Kennelik kan die een met die ander saamgaan: verlies van vryheid, gesondheid en welvaart, met die ‘onuitspreeklike vreugde’ waarvan Petrus praat. Geen Chinese Christen het verlang om vervolg en gemartel te word nie. Maar toe dit tog gebeur, besef hulle dat niks hulle van die liefde van Christus kan skei nie. Dié besef het hulle só beheers dat hulle – vervolging ten spyt – steeds uitgegaan het om ook ander van Hom te vertel.

Pas dit toe op omstandighede waarin dit met jou so goed gaan dat jy maklik vergeet dat geloof ook persoonlike offers vra en dat jou grootste denkbare geluk by God lê. Herken ek dit? Is my gemoedstemming nie te afhanklik van omstandighede wat die psigoloog Larry Crabb ‘tweederangse sake’ noem nie? Ontslag, siekte, gebrek aan waardering? Selfs minder ernstige sake kan my al van my spoor dryf.

As alle moontlike verlangens vervul word, is ons geneig om mekaar geluk te wens. Dit mag, maar die vraag is of eersterangse verlange – dié na God – nie intussen aan my aandag ontsnap het nie. Het my voorspoed my nader aan Hom gebring, of juis nie? In die laaste geval kan ek baie by die gelowiges van Open Doors leer.

 

Aad Kamsteeg

(Nederlands Dagblad, 2015)