Die toekoms van Suid-Afrika vir jou en my

Met twintig jaar se ANC-bewind agter die rug wonder ‘n mens wat die volgende twingtig jaar gaan inhou. Meer groei en voorspoed soos die ANC voorspel, of staan  groot moeilikheid en agteruitgang voor die deur?

     ‘n Nuwe boek hieroor voorspel nie een van die twee nie, maar is wel ‘n boeiende en ingrypende avontuur. Suid-Afrika sal nie ten gronde gaan soos wat baie blankes in die jare negentig verwag het nie. Maar daar gaan wel deurlopend drastiese veranderings wees wat heelwat aanpassings sal verg.

     Die boek met sy 115 kort hoofstukke probeer wegkom van die voorskriftelike van honderde spesialiste wat voorspel dat as dit of dat gedoen word, die uitkoms sus en so sal wees is, en daarom moet die owerhede tog sorg vir die “regte” besluite – na die mening van die spesaliste.

Die outeur, Justus du Rand, ‘n skuilnaam van iemand wat baie jare naby aan gebeure gestaan het, probeer eerlik en realisties na dinge kyk. Bloot op grond van die afgelope twintig jaar se tendense trek hy die lyne deur na die volgende twintig jaar.

Kan en gaan die ANC die land se groot problerme soos armoede, werkloosheid, misdaad en swak dienslewering oplos?

Nee. Dit gaan nie gebeur nie. Maar die land gaan ook nie in duie stort nie.

As alle hoofstukke se gevolgtrekkings bymekaar getel word, is dit duidelik dat dit geleidelik al slegter in die land gaan, maar nie dramaties so nie. Stadig genoeg vir die meeste mense om daaraan gewoond te raak en mee saam te leef.

     In verskeie hoofstukke verduidelik die skrywer dat almal in die land ‘n aandeel het in die verloop van sake, goed en sleg. Blankes met die mislukte apartheidsideologie het bygedra. Swartmense met hul onvermoë om hul waardes by die eise van die moderne tyd aan te pas, is net so skuldig. Vandag se owerheidsinstellings probeer die Afrika-gewoontes met die eise van die westerse ekonomie en infrastruktuur versoen. Met nie veel sukses nie.

    Honderde ontwikkelingsprojekte, oor ongeveer ‘n halfeeu, het misluk en gaan voort om te misluk. Maar solank as wat blank en swart weier om eerlik na die werklike oorsake te kyk, sal ontwikkelings- en opheffingspogings bly misluk.

Wat is die werklike oorsake? ‘n Westerse ingesteldheid en werketiek lei tot enorme ontwikkelings, maar dikwels ongebalanseerd en nie volhoubaar nie. ‘n Afrika-ingesteldheid is nie opgewasse teen die eise en behoeftes van die land met sy 53 miljoen mense nie.

Die enigste ware oplossing is ‘n Christelike ingesteldheid met Bybelse waardes. Maar dit is nie werklik in SA op tafel nie. Daarom sal die land en die meeste mense bly sukkel, sal die inkomstegaping, armoede en misdaad onverpoosd voortduur. Maar daar sal nie ‘n  katastrofe wees nie.

     Die boek het  ‘n unieke en interaktiewe benadering. Dit is van koffietafel-kwaliteit met 204 bladsye, ryklik en interessant geïllustreer. Die lekkerlees-skryfstyl is van ‘n joernalis en elke hoofstuk is ‘n storie in eie reg, soos artikels in ‘n koerant of tydskrif. Die skrywer gee aan elke hoofstuk ‘n voorspelling van 1 (erg negatief) tot 7 (baie positief) en lesers word in ‘n tabel aan die einde van die boek uitgenooi om dieselfde te doen en die voltooide tabel aan Aros Uitgewery te stuur of om kommentaar op facebook te lewer.

    Die meer as honderd onderwerpe wat in die kort hoofstukke behandel word, sluit onder meer in blanke baasskap, die toekoms van die Afrikaner, die Afrika-kultuur en swart bewussyn, rassisme en transformasie, maatskappye se geheime strategie, ontwikkelingshulp en steeds mislukkende meesterplanne, de-industrialisasie, populisme, Christendom en sending, mynwese, onderwys, infrastruktuur en welsynstoelaes, korrupsie en misdaad, mynwese,  ubuntu en botsende kulture, Afrika se minderwaardigheidskompleks, owerheidskuld en persoonlike finansies, wetenskap en tegnologie, ondernemerskap, grondbesit, Miv/vigs, leierskap, arbeidsonrus, buitelandse beleid en buitelandse voorbeelde, talle indekse oor hoe dit met SA gaan en in die adfgelope twintig jaar verander het, ook heelwat positiewe ontwikkelings, watter waardes en etiek wel en watter nie, en die behoeftes aan ‘n sogenaamde poldermodel, naamlik nuwe onderhandelings tussen alle belanghhebbendes.

Rob van der Kooy (resensent)

Sleutelwoorde: