Komponiste en teksskrywers moet sekerlik vergoed word vir hulle werk, maar nie vir die gratis gawes van die Gees nie. Bert Loonstra, Christelik-Gereformeerde predikant in Emmeloord, Nederland, het hieroor in die Nederlands Dagblad geskryf, met verwysing, onder meer, na die Liedboek vir die kerke in Nederland.

Daar is ʼn afstand tussen die praktyk van die vergoeding vir artistieke werk in die kerk en die manier waarop die Nuwe Testament oor die gawes van die Gees praat. Volgens die apostel Paulus het elke lid van die gemeente ʼn gawe van die Heilige Gees ontvang om in diens van die gemeente te stel. Dit is genadegawes, gratis gawes dus, wat ons ontvang om daarmee diensbaar te wees in die voortgang van die koninkryk van God. Hieronder tel ook die gawes van musiek en poësie. Hoe rym dit dat mense wat gawes van die Gees verniet ontvang het net bereid is om dié gawes tot nut van die gemeente aan te wend as hulle daarvoor betaal word? Die outeursreg lê immers nie by hulle nie, maar by die Gees.

In reaksie hierop word dikwels verwys na die uitspraak in die Nuwe Testament: “...die arbeider is sy loon (of voedsel) werd” (Lukas 10:7; Matthéüs 10:10). Dit moet tog ook geld vir die medewerkers aan die Liedboek vir die kerke? Tog is die saak minder voor die hand liggend as wat dit mag lyk. In Matthéüs 10 gebruik Jesus dié woorde wanneer Hy sy dissipels uitstuur sonder geld of reissak. Hulle moet lewe van wat hulle langs die pad kry. Hulle kan met vertroue gaan, want as arbeiders in die ryk van God is hulle hulle loon werd. In 1 Timótheüs 5 sê Paulus dat die ouderlinge wat goed regeer dubbele eer waardig geag word. Hy dink moontlik, naas respekbetoon, aan ’n honorarium (eerbewys). Die sfeer waarin hierdie tekste voorkom, is ewenwel nie een van finansiële voorwaardes wat deur evangeliedienaars gestel word nie en sekerlik nie die opeis of afdwinging van geestelike eiendomsreg nie.

Simon die towenaar

Ek gaan die saak skerper stel. In die Bybel is daar ’n voorbeeld van iemand wat die gawe van die Gees met geldelike gewin wou verbind. Dit is Simon, die towenaar, wat Petrus geld aangebied het om ook oor die mag van die Heilige Gees te beskik, sodat mense wat hy, Simon, die hande oplê die Gees kan ontvang. Petrus se reaksie is, vry vertaal, buitengewoon skerp: Gaan na die hel met jou geld! Van die naam van hierdie man kom die woord ‘simonie’ — die handel in geestelike sake deur koop en verkoop of ruilhandel. In die Middeleeue het dit veral oor geestelike ampte gegaan.

Dit is nie my bedoeling om teksdigters en komponiste van geestelike liedere hiermee te beskuldig van ongeestelike, okkulte of kommersiële motiewe nie. Ek wil ewenwel illustreer hoe ’n teer punt die verband tussen geestelike gawes en geld is. Ek kry die indruk dat ons hierdie gevoeligheid kwytgeraak het. Ons word deur die kapitalisme gekapittel. Twee beginsels kom in botsing: dié van die evangelie en dié van die outonomie van die kunstenaar.

Nie eiendomsreg nie

Komponiste, liedskrywers en uitgewers moet ook lewe. Daarom is ’n vorm van finansiële vergoeding ’n vereiste. Die uitgangspunt daarvoor moet egter nie by die outeursreg lê nie, want dan word geld verdien met die gratis gawes van die Heilige Gees, wat vir die opbou van die gemeente gegee is. Die beloning van die medewerkers moet nie aan die gawe verbind word nie, maar aan die arbeid wat verrig is en waarvoor hulle hulle loon werd is. Die outeur kan nie op geestelike eiendomsreg aanspraak maak nie.