Bid ek omdat ek iets by God nodig het of bid ek omdat ek graag by God wil wees? Waardeur word my gebed gekenmerk: deurdat ek vir God vertel hoe ek graag wil hê dat my lewe moet lyk, of geniet ek eenvoudig om God te prys en my hart vol dank voor Hom uit te stort?

Natuurlik staan hierdie dinge nie teenoor mekaar nie. Maar deur die vrae so te stel moet ek myself ondersoek: Gaan my gebede nog werklik oor God? Ek wat voor sy troon staan en nie uitgepraat kan raak oor wie Hy is, nie? Ek wat Hom innig liefhet en graag by Hom wil wees? Of het ek God net nodig, en gaan dit alles in werklikheid oor my?

Hoe wonderlik dat kinders na hulle Vader mag gaan en vra. Dat Vader hulle selfs beveel om te kom en te vra. Maar in hierdie weg wat die Here vir ons wys, moet alles steeds bly gaan oor die verwondering: Kyk wie is hierdie Drie-Enige God – en ek mag met Hom leef!  

            "My knieë pyn nog nie so erg nie - kom, laat ek weer bid".

Laat ons weer gaan leer by die Ou Testamentiese digters se diepe besef wat gebed is:

           "O God, U is my God, U soek ek;
           My siel dors na U,
           my vlees smag na U in ‘n dorre en uitgedroogde land.
           Só het ek U in die heiligdom aanskou,
           Om u sterkte en u heerlikheid te sien.
           Want u goedertierenheid is beter as die lewe;
           My lippe moet u prys.
           So sal ek u prys, my lewe lank".
           (Psalm 63:2-5a)

Miskien moet ek my gebed tog maar begin deur iets van God te vra: Dat Hy my sal help om werklik te bid.  En as God my daartoe bring om werklik te bid, sal ek ook die diepe besef kry dat ek eintlik niks anders meer nodig het nie.