Wie is God?

Wat sien ons in die Ou Testament gebeur? Die een mislukking na die ander. Telkens is Israel ontrou, en verbreek God se volk die verbond. Dit is ‘n geskiedenis soos van ‘n voortgaande wedloop. Hoe verder dit vorder, hoe meer word twee dinge duidelik. Ten eerste dat die mens reddeloos is, omdat hy hopeloos ontrou is. Ten tweede dat God, deur gerig en genade, wel sy trou hou. Namate die bewys van menslike skuld en onmag in die heilsgeskiedenis groei, word dit steeds duideliker wie God is; in sy ontsagwekkende heiligheid; in sy toorn waarin sondaars nie kan bestaan nie; en in sy onbegryplike, lankmoedige liefde. So berei die Ou Testament op die Nuwe Testament voor, en laat dit sien waarom die Christus moes kom. Aan die kruis van Gólgota blyk dan, tot die uiterste toe, wie God is: toorn en liefde is één.

In die persoon en werk van Christus kry die koninkryk van God, wat in die Ou Testament deur die sonde van die mens – sowel van die volkere in die algemeen as van die volk Israel – gedreig het om te ‘misluk’, definitiewe gestalte. In die Ou Testament was die verwagting van die koninkryk van God, ‘n verwagting van die koms van die gerig en die koms van die heil inéén: gerig vir die goddelose, en terselfdertyd heil vir die regverdige. Johannes die Doper het Jesus dan ook nie begryp nie: waar is die byl wat aan die wortel van die bome lê, die doop met vuur (Matt. 3:10,11 en 11:3)? Tog word die gerig voltrek, maar ... oor Jesus sélf. Sy vernedering is ‘n verhoging wat die heil van God se koninkryk finaal laat deurbreek. Dit is daar, reeds in die hede, hoewel nog nie volmaak en onversteur nie. Nou breek die tyd van die wêreldwye evangelieverkondiging aan. Die gerig oor die goddeloses word nie voltrek nie, nóg nie – “Laat hulle ... saam groei tot die oes toe”, sê Jesus (Matt. 13:24-30, 36-43). Die gerig van God is in beginsel en by voorbaat in Christus voltrek. Die laaste fase van die geskiedenis word beheers deur die spanning tussen die reeds en die nog nie van die koninkryk van God. Ons lewe in die tyd van God se lankmoedigheid: “Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom” (2 Pet. 3:9). Hierdie lankmoedigheid is vir die mens uitstel, maar nie opheffing nie, van die gerig.

Wie is God?

Hierdie vraag kan ons nie uit die Bybel goed beantwoord, sonder dat ons die spoor volg wat God  met geskiedenis geloop het om sy heil te openbaar en te verwerklik nie.  

 

H. G. L. Peels