3 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler .

Begin ons elke Sondag van Vooraf?

Kan ons in die kerk eers ná die eerste gebed (skuldbelydenis en gebed om vergewing) weer vryelik asemhaal? Ek dink daar word soms op dié manier na die volgorde van die liturgie van Kampen gekyk. Jy kom immers as sondaar na die kerk. Jy is onwaardig om God te ontmoet. Die struikelblok van die sonde moet eers uit die weg geruim word. Eers dan kan die erediens werklik begin.

Moet ons dit inderdaad so sien? Veronderstel die feit dat jy as gemeente God in die erediens ontmoet op sigself al skuld? Ek wil in hierdie artikel iets skryf oor die plek van skuldbesef en versoening in die liturgie.

Sondag ʼn versoendag?🔗

Gaan u kerk toe om vergewing te gaan haal? Nee, as gereformeerdes weet ons beter. Ons is nie soos die Roomse wat in die kerk na die bieg absolusie (vergewing) van die pastoor moet kry nie. Ons glo ook nie dat die genade by die nagmaal liggaamlik uitgedeel word soos dit by die mis gedink word nie. Ons is nie aan die kerkgebou of die kerkdiens gebonde om die genade van God te verkry nie. Jy bely tuis elke dag jou skuld teenoor God en jy vra om vergewing.

Natuurlik kan jy met sondes wat nie bely is nie, kerk toe gaan. Maar in die algemeen kom ons Sondae as versoende mense bymekaar. Die Sondag hoef nie spesiaal ʼn versoendag te wees nie. Ons begin nie op die eerste dag van die week van vooraf, by nul, asof die genade nog moet kom nie. ʼn Sondag hoef nie as boetedag te begin nie. Dink aan die bekende Psalm 122, wat met vreugde begin: “Ek was bly toe hulle vir my gesê het: Laat ons na die huis van die HERE gaan!” Ook Psalm 100, wat die tempelgangers toeroep: “Gaan sy poorte in met lof, sy voorhowe met lofgesang”. Die kerkdiens vandag is, net soos die byeenkoms in die tempel, allereers ’n erediens. Ons gee aan God die eer wat Hy moet kry, dit wil sê die hoogste eer. Ons hoef nie altyd eerste aan ons sonde te dink nie. Ons eerste gedagtes moet na God uitgaan, vir seker op sy eie dag.

Nog ’n mooi voorbeeld uit die Ou Testament is, dat God sy volk selfs verbied om oor hulle nalatigheid te treur. U sien dit as u Nehemia 8 met Nehemia 9 vergelyk. God wil dat die teruggekeerde volk in Jerusalem die Loofhuttefees vier, die fees van verlossing en vrugbaarheid. Om nou rou te bedryf en huil oor sonde is onvanpas, want “die blydskap in die HERE – dit is julle beskutting” (Nehemia 8:11). Eers ná die uitbundige viering van die Loofhuttefees, sewe dae lank, kom daar ’n aparte dag van rou en boetedoening in Nehemia 9. Ons volgorde is dus nie sonder meer God se volgorde nie.

Wel skuldbesef?🔗

Beteken die voorafgaande dat ’n kerkdiens sonder sondebesef kan wees? En dat ons nie so swaar aan die kwaad van onsself en van ander hoef te dra nie? Dit bedoel ek sekerlik nie. Veral nie in vandag se dae nie. Ons leef in ’n kultuur waar skuld teenoor God kwalik meer beleef word. Norme word ver uitgerek en mens word selfs gewoond aan allerlei wetteloosheid. Dit word ook vir ons as Christene moeilik om oor die soveelste aborsie of egskeiding waarmee jy in jou eie omgewing te doen kry, verontwaardig te wees.

Ek dink dat die kerkdienste daartoe dien om mekaar te help om die skuldbesef lewend te hou. Dit is telkens weer nodig om die hoë norme van God aan mekaar voor te hou. Ons moet die verskil tussen wat mense sleg noem en wat God goed of kwaad noem, besef. En ons moet oppas dat ons ons nie aan ’n ander meet nie (want dan meet ons te ruim), maar dat ons in die spieël van die wet van God bly kyk. Dit moet ook vir die jongmense in die kerk met geduld en volharding aangeleer word. Daarom is ’n kerkdiens van groot belang om ons gesamentlike normbesef op te skerp en gewoond te word aan wat God wil. Om ’n voorbeeld te noem: vir die moderne gesinne in jou buurt is twee kinders genoeg. Mens moet tog kan aanhou werk en vakansies kan hou. Maar die Bybel vertel ons ander dinge oor ’n Christelike gesin.

Die verkondiging moet die aandag daarop vestig. En ’n predikant kan ’n gemeente in skuldbelydenis voorgaan. So ’n gebed sal in die reël algemeen wees, en nie persoonlik nie. Maar as ’n voorganger so bid dat die sonde herkenbaar word, kan mens by die huis weer daarmee verder gaan. So het die erediens op Sondag ook die rol van voorbeeld, met die oog op die erediens tuis.

Sondekennis🔗

Maar hoe kom jy nou tot besef van jou persoonlike skuld? Hoe kan die kerkdiens daarmee help? Ons is gewoond om juis die tien gebooie aan ons skuldbelydenis te koppel, omdat ons ons sonde uit die wet van God ken (Heidelbergse Kategismus, antwoord 3). Dit is reg, maar dit is nie die enigste manier om ons sonde te ontdek nie. In Beknopte Gereformeerde Dogmatiek, bladsy 396, haal W.H. Velema die woorde van H. Bavinck aan, dat die kennis van die sonde nie net deur die wet kom nie, ‘maar eweseer, en in nog sterker mate, deur die evangelie’. Dink maar aan die kruislyde van Christus. Juis aan die voet van die kruis besef jy dat Christus so swaar moes ly, omdat jý so swaar gesondig het. Die evangelie van Gólgota beteken vir ons ontkoming aan die straf, maar ook die ontdekking van ons skuld, van ons wat gestraf moes word.

Die evangelie van Goeie Vrydag sal ons dus nog eerder beskaamd maak teenoor God as die lees van die wet as sodanig. Daarom is dit goed om by evangelisasie liefs nie te begin met die waardes en norme van God nie. Die beste vraag is nie: wat dink jy van die tien gebooie nie, maar: wat dink jy van Christus en wat is jou verhouding met Hom?

Skaamte🔗

Origens is daar nog ’n ander manier om ons, kerkmense, tot skaamte oor ons gedrag te bring. Ook die goedheid van God kan ons laat bloos as ons daarop let hoe dikwels ons sy goeie gawes beantwoord met bose dade. Dit kan daarom nuttig wees om in die kerk gereeld ekstra werk te maak van danksegging vir al die goeie en mooi dinge wat God gee. Dit kan aanleiding wees vir verootmoediging, omdat ons die gawes so dikwels misbruik of misken, of met wangedrag daarteenoor opgetree het. Miskien was dit daarom dat die volk van God in Nehemia 8 eers moes feesvier. Die berou in Nehemia 9 kon des te meer intens wees omdat hulle so onder die indruk gekom van die goedheid van God.

Verder kan ook die verkondiging van die majesteit en heiligheid van God ons beskeie maak en aan ons eie onheiligheid herinner. Ek dink aan die verskyning van die heiligheid van God in die roepingsvisioen van Jesaja: “Wee my, ek is verlore! Want ek is ʼn man onrein van lippe... “ (Jesaja 6:5). Ook in die Nuwe Testament lees ons so ’n reaksie van Simon Petrus by geleentheid van die wonderlike visvangs wat die Here bewerk het. Toe Petrus in die vangs die mag en majesteit van Jesus herken, sien hy homself meteens as ’n onbeduidende en onrein mensie. “Gaan weg van my, Here, want ek is ʼn sondige man!” (Lukas 5:8). In die lig van God se hoogheid sien ons ons kleinheid en ongeloof. Ook dít is ’n manier om skuld te ontdek en te erken.

Liturgie en skuldbelydenis🔗

Ons begin nie in die kerk van vooraf nie. Ons hoef nie terug te gaan tot vóór die genade nie. Maar dit is goed om berou en genadeverkondiging in die eredienste, veral Sondagoggende, ’n plek te gee. Dit is, volgens my, nie nodig om dit altyd op dieselfde plek in die erediens te doen nie. Variasie en wisseling is moontlik. As ons nagaan hoe gevarieerd die Sondagoggend erediens aan die begin van die Reformasie was, dan sien ons dat daar nouliks ’n standaard orde bedink of verdedig kan word (sien bv. die artikel van A.N. Hendriks in die Almanak FQI 170, oor die liturgie van Petrus Datheen en die besluite van die Nederlandse sinodes met betrekking tot die liturgie van Sondagoggend in dié tyd).

Ekself wil daarvoor pleit om skuldbelydenis en genadeverkondiging af en toe aan die preek self te koppel, en in so ’n geval ook op die preek te laat volg. Vooraf is dan ’n gebed om verligting deur die Heilige Gees. Ná die preek volg eers ’n amenlied en daarna ’n gebed waarin daar, na aanleiding van die preek, skuld bely word. Dan ’n proklamasie van versoening en genade, gevolg deur die tien gebooie (as reël van die dankbaarheid), gekombineer met ’n gepaste lied. Daarna kan ’n gebed volg vir die node in die gemeente en daarbuite, met danksegging vir God se seëninge. Hierdie volgorde het die voordeel dat die verkondiging nog meer sentraal staan en dat die res van die liturgie die diens meer beheers en laat gloei.