2 bladsye. Vertaal deur Charlotte Roestorff.

Die huwelik

Moet ons Net Vergewe en Verdra,  of Ook Konfronteer?🔗

My vorige preek was oorspronklik getiteld “Die Huwelik: Konfrontasie, Vergifnis, Verdraagsaamheid.” Op die ou end het ek die woord konfrontasie geskrap – nie omdat daar nooit konfrontasie in ‘n huweliksverhouding mag wees nie, maar omdat die tyd ontbreek het om reg te laat geskied aan hierdie aspek. Daarom sal ek ook in ʼn volgende preek fokus op die konfrontasie aspek in die huwelik.

Wanneer ons op vergifnis en verdraagsaamheid fokus, kan ons die indruk kry dat geeneen van ons sondige neigings of hinderlike gewoontes ooit hoef te verander nie. Daarom moet ons dit maar net vergewe en verdra. Wat ek eerskomende naweek vanuit die Bybel wil aantoon, is dat God ons die genade gee om nie net te vergewe en te verdra nie, maar ook om te verander sodat ons huweliksmaats minder sal hê om te vergewe en te verdra. Ook daartoe gee Hy die genadegawe. Sy genade gee ons nie net die krag om kwaad met goed te vergeld nie, maar ook om minder kwaad te doen. Selfs die krag om minder ergernis te veroorsaak.

Ek het egter doelbewus hierdie aspek eers agterweë gehou. Die klem op vergifnis en verdraagsaamheid moes eerste aan die beurt kom, want ek glo dat huweliksmaats moet besef dat hierdie twee elemente die wesenlik rotsvaste basis van hul verhouding moet vorm. Eers wanneer dít stewig gevestig is, kan albei partye met hoop en sekerheid na die oproep om verandering in hul optrede teenoor mekaar, luister sonder om bang en bedreig te voel. Man én vrou moet bo alle twyfel seker wees dat die maat ‘n onlosmaaklike band met haar of hom gesmee het – selfs al sou daar geen verandering plaasvind nie. Eers dan sal die een voel dat die ander nie ‘n ultimatum stel nie, maar wel ‘n versoek rig waaraan in ‘n gees van goedgesindheid voldoen kan word.

Maar nou wil ek dit beklemtoon dat ‘n huwelik nie voor ‘n mens moet uitstrek soos een lang statiese tydperk van voortdurende konflik tussen twee persoonlikhede wat nie in staat is om hul gedrag te verander nie. Selfs so ‘n verhouding is in God se oë wensliker as egskeiding, en dien ook tot sy verheerliking. Maar dit is nie die beste afskaduwing van die verhouding tussen Christus en sy kerk nie. Die standhoudendheid van eersgenoemde verhouding onderskryf die waarheid omtrent Christus se verhouding met sy kerk. Onwilligheid om te verander, onderskryf dit egter nie.

In Christus se verhouding met sy kerk, is dit duidelik dat Hy sy bruid tot volmaakte sedelike en geestelike skoonheid wil herskep. Sondag sal ons dit in diepte betrag aan die hand van Efesiërs 5:26-27. Dit hou in dat die man, wat sy vrou moet liefhê soos Christus die gemeente liefhet, ‘n unieke verantwoordelikheid het om sy vrou sedelik sowel as geestelik te laat groei, sodat sy mettertyd sal verander.

As ‘n man liefdevol en verstandig optree, sal hierdie leiding vir ‘n nederige vrou laat voel dat hy haar dien, en nie dat sy verneder word nie. Christus het gesterf om sy bruid te reinig. Meer nog, Christus het nie net gesterf om sy bruid te reinig nie, maar Hy gaan voort om haar te onderrig deur sy Woord sodat sy offer ook tot haar heiligmaking sal dien. So probeer die wyse en liefdevolle man op so ‘n manier met sy vrou te praat dat dit haar meer en meer gelykvormig sal laat word aan Christus.

Onderwerping, soos later beredeneer, beteken nie dat ‘n vrou nie ook die heiligmaking van haar man nastreef nie, selfs al respekteer sy hom as haar hoof – haar leier, beskermer en versorger. Daar is verskeie redes waarom ek so sê. Een hiervan is dat gebed ‘n handeling is wat die kerk deur Christus tot God rig met die oog daarop om Hom te vra om sekere dinge op ‘n sekere manier te doen. As ons siek is, vra ons Hom om ons te genees. As ons honger is, vra ons ons daaglikse brood. As ons verdwaal het, vra ons Hom die regte koers, en so kan ons voortgaan. Aangesien ons glo in die algehele soewereiniteit van Christus om alle dinge te regeer, beteken dit dat ons na die huidige situasie wat Hy beskik het, kyk en Hom vra dat Hy dit sal verander.

Daar is net ‘n gedeeltelike ooreenkoms tussen die optrede van die vrou teenoor haar man en die optrede van die kerk teenoor Christus. Ons kan nooit vir Jesus “konfronteer oor sy onvolmaaktheid” en probeer om Hom te verander nie. Hy het geen onvolmaakthede nie. Ons bid egter tot Hom dat Hy ‘n verandering sal teweegbring in die omstandigheid waarin ons ons met sy toelating, bevind. Maar dít is ‘n smeekgebed. Dienooreenkomstig sal vroue hul mans vra om die manier waarop hulle optree, te verander.

Die hoofrede waarom ons egter kan sê dat die vrou se nastrewe van haar man se groei in heiligmaking, verskil van die kerk se optrede teenoor Christus, is dat haar man net ‘n soortgelyke posisie as Christus beklee. Hy ís nie Christus nie. En een van die grootste verskille lê daarin dat dit vir die man noodsaaklik is om te verander, maar nie vir Christus nie. Wanneer Paulus (in Efesiërs 5:23) sê:

Die man is die hoof van die vrou, soos Christus die hoof van die kerk is,

beteken die woord ‘soos’ nie dat die man gelykwaardig is aan Christus ten opsigte van volmaaktheid of wysheid of goedgesindheid nie. Hy is nie “gelyk aan” Christus nie, maar beklee in die vergelyking  ‘n “soortgelyke posisie” as Christus. Hy is, anders as Christus, sondig en beperk en feilbaar. Dit is noodsaaklik dat hy verander.

Die vrou se rol is nie beperk tot onderdanigheid nie. Sy is ook ‘n liefdevolle suster. Op ‘n heel unieke manier tree die onderdanige vrou soos ‘n sorgsame suster teenoor haar onvolmaakte broer-eggenoot op. Sy moet hom volgens Galasiërs 6:1 “in ‘n gees van sagmoedigheid reghelp” as dit nodig sou wees. Dit is wat sy vir hom moet doen.

Albei van hulle moet, wanneer nodig, gehoorsaam wees aan die bevel soos uiteengesit in Matteus 18:15, elkeen op unieke gepaste wyse: hy vanuit sy posisie as hoof en sy vanuit haar posisie as onderdanige vrou. Die Skrifgedeelte lui soos volg:

As jou broer verkeerd opgetree het teen jou, gaan wys hom tereg waar julle eenkant alleen is. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen.

Ek vertrou dat hierdie opmerkings wat ek uit die Nuwe Testament voorhou, dit vir u duideliker sal maak dat die huwelik nie net bestaan uit ‘n proses van vergifnis en verdraagsaamheid nie. Dit impliseer ook konfrontasie – op ‘n liefdevolle en verstandige manier volgens elkeen se roeping, óf as manlike hoof óf as vroulike onderdanige. Dit is waaroor my volgende boodskap sal handel. Ek maak ‘n beroep op u om vir my te bid.