Bron: Die Kerkblad. 3 bladsye.

Ds. Dirk Postma,Een Vriend van het Zendingswerk

Dirk Postma was bekend as ’n kalme, bedaarde en rustig redenerende mens. Maar dit was juis die saak van die sending wat hom op ’n bepaalde geleentheid met groot drif en animo laat spreek het en hom tot ’n uitbarsting laat kom het. Die geleentheid: ’n Ont­moeting van Postma en die kerk­raad van Burgersdorp met die gemeente op 25 November 1870. ’n Hele drama is besig om af te speel ... gesindhede en standpunte staan lynreg teenoor mekaar.

Besluite oor die sending🔗

’n Jaar tevore reeds het die Alge­mene Vergadering van Kaapland besluit dat in elke gemeente “zal gesproken worden over de zaak der zending”. Die kerkrade rapporteer dan 16 Mei 1870, maar vir Postma was dit ’n bitter skok om te hoor dat die meeste van hulle “voor het tegenwoordige geene kans zien om na buiten te werken.” Op advies van Postma het die Algemene Ver­gadering toe onder andere besluit dat elkeen wat die naam Christen wil dra, en met die Gees vervul is, uit liefde die sendingbevel sal wil nakom. Elke gesinshoof moet by ongelowige wittes en swartes in sy huis en diens met woord en voorbeeld die evangelie verbrei.

Die Algemene Vergadering het ’n omvattende besluit geneem en dit - ook in druk onder die gemeentes versprei - waarin ’n hele sendingbeleid as’t ware uitgestippel word en, wat selfs rekening hou met die moontlikheid dat sending buitelands aangepak kan word. Postma se visie is in hierdie besluit beliggaam. Skerp reaksie vanuit sekere kringe binne die gemeentes is egter hierteen ontketen. Trouens, hierdie be­sluit sou in die komende maande en jare vir Postma baie spanning en ellende besorg.

25 November 1870🔗

Dit bring ons by die vergadering van 25 November 1870 van Postma en die kerkraad met die gemeente van Burgersdorp. Lidmate en predi­kante van elders het ook hierdie be­langwekkende vergadering byge­woon. Postma spreek die gemeente toe. Eers herinner hy hulle dat die stigting van die Gereformeerde Kerk die sending as newedoel gehad het. Dan wys hy op die wye ontevredenheid oor die besluit van die Algemene Vergadering, sommige is selfs “zeer gestoord tegen ons bedienaren des Woords en tegen allen die dat antwoord met Gods Woord in de hand verdedigen.” Profeties waarsku hy daarteen, “want gij zoudt u alzoo stellen niet slechts tegen ons maar tegen God zelven. En hoe hard zal u dat vallen de ver­zenen tegen de prikkels te slaan, nl. tegen God te strijden.” Postma kom tot ’n uitbarsting. Hy het lank ge­noeg mooi gepraat, lank genoeg gesluk, lank genoeg die vrede en eenheid van die kerk probeer be­waar. Langer kan dit nie! As die Algemene Vergadering in sy besluit dwaal, moet die teëstanders dit uit Gods Woord aantoon. Na ’n ernstige woord van waarskuwing doen hy dan 'n apostolies bewoë beroep op die gemeente: “Mijne Geliefden! Laat ons alzoo Christi bevel vol­voeren opdat wij ook aan Christi belofte mogen deelhebben!”

Postma -  ‘Een vriend van het zendelingswerk’🔗

Dat Postma ’n vurige pleitbesorger vir die saak van die sending sou wees, kon in sy afskeidstoesprake en preke in Nederland al beluister word. Dit sien ons ook in sy eerste optredes na hy in Suid-Afrika aange­kom het. Postma is met reg voor­gestel as die roepingsbewuste idealis wat diep onder die indruk was van die hoë roeping om die evangelie aan alle volkere te bring.

Na sy aankoms in Kaapstad toon Postma groot belangstelling in die sendingaksies van die Nederduits Gereformeerde Kerk en ander Sendinggenootskap­pe. By sy eerste besoek aan ’n sendinggemeente kom hy diep onder die indruk van “hoe één geloof ons één maakt in Christus onzen Heer, ons Hoofd en Koning.” In die omge­wing van Stellenbosch het hy ’n sendingskool besoek. Dit was vir hom “een heerlijke dag, als ik nog zelden in mijn leven gesmaakt heb.”

In Transvaal aangekom, bring hy spoedig ’n besoek aan die Tswana­kaptein, Magato, naby Rustenburg. Ook hier is sy verwagting dat die Here hulle nog bereid sal maak vir die gawe van die evangelie.

Postma bereik dus die land van sy bestemming, die terrein van sy arbeid, met ’n idealisme wat, ten opsigte van sy sendingtaak, hoë vlugte geneem het. Spoedig (na 11 Februarie 1859) sou sy aandag só in beslag geneem word deur die vesti­ging en uitbou van die verskillende gemeentes, dat hy nouliks nog in­tensiewe aandag aan die sending kon gee. Nietemin het dit nooit uit sy belangstellingsveld verdwyn nie en in De Zuid-Afrikaan van 7 April 1859 word vermeld: “De eerwaarde Postma is een vriend van het zen­delingswerk onder de heidenen, ja een sterke voorstander daarvan.”

Die eerste daadwerklike sendingwerk🔗

Later, as predikant te Burgersdorp en tegelyk belas met die opleiding van predikante, het Postma twee­weekliks op Sondae - tussen die eredienste – ’n diens in die tronk vir gekleurde gevangenes gaan hou. Sover bekend was dit die eerste daadwerklike poging in die Gerefor­meerde Kerk, van die kant van ’n kerkraad, om iets aan die sending te doen. Die vrugte op hierdie eerste poging van Postma het nie uitgebly nie. Die voorbeeld het intussen deurgewerk en die Almanak van 1872 vermeld dat nou ook eenmaal ’n maand diens gehou word in die gevangenis te Colesberg en dat te Philipstown elke Sondagaand vir die Kleurlinge ’n diens gehou word. En in 1877 meld die Almanak dat naas die vorige plekke nou ook dienste vir Kleurlinge gehou word in Barkly-Oos, Steynsburg en Venterstad. Ds. Postma se geringe poging om iets daadwerkliks te doen, het tog aan­steeklik gewerk.

Agtergrond en motiewe vir die antipatie teen sending🔗

Postma het nooit die diepte en reg van die Boeremense se verset teen die ‘sending’ gepeil nie. Hy kon dit ook moeilik doen. Self is hy sterk beïnvloed deur die gees van die Reveille en Piëtisme wat veral ge­durende die eerste helfte van die 19e eeu sterk in Europa was. Hy bena­der dan ook die sending soos ’n Europese idealis en koester geen beswaar waar kerstening die in­heemse kulture afbreek en na ver-Europesing van Afrikavolke lei nie. Alhoewel Postma spoedig by die lidmate in Transvaal en die Vry­staat geleer het om meer genuan­seerd oor sending te dink en te praat, het sy sterk sendingmotief en filantropiese ideale die Gerefor­meerde lidmate verkeerd opge­vrywe. Postma was ook onbewus van die jarelange kerklike span­ninge en stryd teen ‘gelykstelling'.

Die Gereformeerde lidmate weer was mense wat oor die sending baie sterk oortuigings gekoester het en wat hulle teen enigiemand tot die uiterste sou verdedig. Hierdie oor­tuigings het hulle oorsprong by die konserwatiewe en eenvoudige Boeremense van die eerste helfte van die 19e eeu wat met die vyand­skap van ’n Britse imperialisme te doene gekry het, wat in ’n bondge­nootskap met die Londense Sendinggenootskap ’n beleid van gelykstel­ling toegepas het. Die sendelinge van die LSG het ook geen geheim gemaak van hulle afkeer van die Boerebevolking nie. Die berugte Swarte Ommegang van 1812, waarin sendelinge op hoorsê-klagtes en valse getuienis ’n groot aantal Boere voor die hof gesleep het, is ’n duide­like voorbeeld hiervan. Daarteenoor het die ledige, sede- en bandelose lewe, en by name die dronkenskap en veediefstalle by en vanuit sendingstasies, die Boeremense diep geskok en oortuig dat hierdie sen­ding pêrels voor varke gooi.

Dat die Boere - teen hierdie ag­tergrond gesien – ’n weerstand ont­wikkel het teen die (Genootskaplike) sending, is te begrype. Dit is van hierdie Boere en hulle nageslag wat met die Groot Trek, en later as veeboere, die binneland ingetrek het, wat nou behoort het aan die Gereformeerde Kerk en deur ds. Postma gekonfronteer is met hulle sendingroeping. Dit is dan ook die rede waarom daar so ’n skerp reak­sie vanuit sekere kringe binne die gemeentes daarteen ontketen is. Tog is dit ’n bedroewende feit dat baie lidmate as gevolg van hulle antipatie teen misbruike in die sen­ding, nou ook vyandig gesind geraak het teen die sending as sodanig.

Postma se besondere verdienste🔗

Dit was dan ook die besondere ver­dienste van Postma dat hy met sy sendingliefde en -ywer voortgegaan het om teen hierdie sterk stroom op te roei. Hy het met ’n hoogs ontplof­bare en spanningsvolle situasie te doen gekry en tog geslaag om oor jare heen vooroordele uit die weg te ruim. Sonder om sy standpunte te verswyg en hoewel hyself op ’n keer tot uitbarsting kom en tug op die anti-sendingmense wou toepas - het Postma se deurgaans kalme, besadigde optrede, die gemoedere grootliks gekalmeer en geleidelik die mense oortuig.

Só was Postma se arbeid en stryd dan nie tevergeefs nie. Met sy liefde en ywer het hy grondliggende oor­tuigingswerk gedoen. Omdat hy die toekomstaak helder gesien het, kon hy die weg vir die kerke aanwys.