Bron: De Reformatie Vertaal deur Nic Grobler.

Een is julle Leermeester

Dit gebeur gereeld dat ernstige siek mense nie kan wag totdat nuwe medisyne vrygestel word nie. Hoekom moet dit so lank vat?

Omdat die medisyne eers uitvoerig getoets moet word. Eers is deur allerlei deskundiges ondersoek gedoen. Want mens bring nie sommer nuwe medisyne op die mark nie. Die volksgesondheid mag nie in gevaar kom nie.

Hoe gaan ons in die kerk om met nuwe idees? Oorweeg ons hulle net so sorgvuldig?

Gebondenheid aan die belydenis: afwesig🔗

Gebonde wees aan die belydenisskrifte. ʼn Ondertekeningsformulier met sanksies vir oortreding. Is dit nog in ons tyd so? Die feit is dat ons as gereformeerdes al hoe meer deel word van die uitsonderings.

Daar is sogenaamde “vrye” gemeentes wat dit nie ken nie. As gemeente het hulle naas die Skrif ʼn soort grondslag-verklaring met kernpunte waarby hulle hul hou. Dié is baie meer beknop as die drie formuliere van eenheid. En ʼn kerkverband om oor nakoming daarvan toesig te hou, is daar nie.

Die kerke van die Reformasie het nog wel belydenisskrifte, maar om streng daaraan gebonde te wees, bestaan in die meeste kerke nie. In elk geval word gebondenheid nie afgedwing nie. Sanksies word nie toegepas nie.

Gebondenheid aan die belydenis: omstrede🔗

Hoe staan die saak in ander gereformeerde kerke? Nie almal is gelukkig met streng gebondenheid aan die belydenis nie. Mense ervaar dit as dwang, daar is dan nie meer bewegingsvryheid nie. As jy jou streng bind, kom daar bowendien net stryd en ongelukkigheid. Dan word die belydenisskrifte formuliere van “ón-enigheid”.

By samesprekings tussen die Nederlands Gereformeerde Kerken en die Gereformeerde Kerken (vrijgemaakt) is daar aan gebondenheid aan die belydenis op die oomblik (1998 - RSS) punte in geskil. Die vernaamste rede is dat die Nederlands Gereformeerde Kerken die ondertekeningsformulier vir predikante wel aanbeveel, maar die gebruik daarvan is nie verpligtend nie. Daar is naamlik ernstige beswaar in die Nederlands Gereformeerde Kerken teen die verpligte voorskryf van ʼn bepaalde formulier.

Teen die agtergrond van hierdie uiteenlopende stand van sake is daar dus rede om die afspraak tussen kerke oor gebondenheid aan die leer onder oë te neem. Is dit nodig, en verantwoord, om vas te hou aan duidelik omskrewe gebondenheid?

Waaroor gaan dit?🔗

Die eerste vraag wat gevra moet word, is oor die wesenlike van gebondenheid aan die leer. Gaan dit oor ʼn ordemaatreël om te voorkom dat dit in die kerk ʼn normlose gedoente word, deurdat allerlei mense hulle eie menings verkondig? Is dit die bedoeling om dié moontlikheid toe te maak?

Nee. Dit gaan daaroor dat die gemeente van Christus aan niks anders as aan haar Here en aan die Woord van die waarheid gebonde is nie. Paulus beklemtoon dit soos volg: ʼn opsiener is

een wat vashou aan die betroubare woord wat volgens die leer is, sodat hy in staat kan wees om met die gesonde leer te vermaan.

Titus 1:9; vgl. 2:1, 7, 10

Dit is die groot doel. Ek neem aan dat daar baie opregte Christene sal wees wat met dié doel nie ʼn probleem het nie.

Maar nou: hoe bereik jy die doel in die praktyk? Wie bepaal wat die gesonde leer is?

Die Pous as leidsman🔗

Eeuelank is daar gesê, dat die Pous bepaal wat die leer is. Hy bepaal dit in samewerking al dan nie met die biskoppe wat in konsilies byeen kom. Die kerk het in der waarheid die beheer oor die waarheid en die formulering van die leer uitbestee aan ʼn magsinstansie wat bokant die lewensfeer van die plaaslike gemeente van Christus swewe. Die gemeente self het daarby min of geen inspraak nie. Wat die geestelikes amptelik as gesonde leer vasgestel het, geld voortaan as die ‘waarheid’. Dit lyk asof die voordeel van so ʼn struktuur kan wees dat daar ʼn bepaalde objektiewe instansie is. Die deurslaggewende nadeel is egter dat so ʼn magstruktuur geheel in stryd is met die Woord van Jesus,

want een is julle leermeester: Christus, en julle is almal broeders.

Matteus 23:8

Mag maak korrup. Dit bederwe die mense wat in die mag is. Daarom moet niemand homself meester, of vader, of leidsman laat noem nie. Ook nie ‘papa’ Johannes Paulus II nie.

Die voorganger as leidsman🔗

Maar hoe dan? Wie bepaal wat die gesonde leer is? Moet die plaaslike voorganger van ʼn gemeente dit dan maar doen? Na die mate van sy persoonlike insig in die Skrif en sy verstaan van die Bybel?

Dit lei tot allerlei besware. Die uitdra van die leer sou heeltemal ʼn subjektiewe aangeleentheid word.

Die een Pous sou ingeruil word vir meerdere plaaslike pousies. Hulle sou as deskundiges gevaarlik baie mag in hulle gemeentes kry. Dan kry jy die evangelie, soos verklaar volgens die insig van ds. A of voorganger B; en dit naas die woord van die waarheid volgens die persoonlike weergawe van professor X of doktor Y.

Die middel sou erger wees as die (Roomse) kwaal.

Die Leermeesterskap van Christus kan in die wiele gery word deur ʼn oppermagtige Pous; maar net sowel deur oënskynlik beskeie voorgangers wat, ongehinder deur enige binding, die kansel of hulle leerstoel bestyg om hulle eie insigte uit te stal.

Die gereformeerdes van die sestiende eeu het hierdie gevaar raakgesien: dat die diktatuur van die Roomse geestelikheid in al die kerke vervang sou word deur die diktatuur van die plaaslike voorganger van die gemeente. Hulle het met hulle oë gesien hoe ʼn verwoestende uitwerking die mag van enkelinge kan hê. En altoos moet die gemeente vir die dwaasheid boet.

In hierdie strik wou gereformeerdes nie weer trap nie.

Christus en sy Woord alleen🔗

Daarom het die gereformeerdes afsprake geformuleer waaraan nie net enkelinge nie, maar ook plaaslike kerke en die meerdere kerkvergaderings hulle vrywillig bind. Dié word in die kerkorde gevind. Die heersende beginsel van die afsprake is dat, by verskille in insig, altyd teruggegaan word na die Woord van die Leermeester. Nie die heerssug van mense en groepe nie, maar Christus is die enigste skeidsregter met absolute gesag. Ons moet saam luister om vas te stel wat die strekking van sy Woord is. Niemand moet dit op sy eie doen nie. Net saam met al die heiliges is ons in staat om Christus en sy liefde te ken.

Dus nie ʼn geestelike alleen nie.
Nie ʼn voorganger alleen nie.
Nie ʼn gemeente alleen nie.
Nie ʼn algemene sinode alleen nie.
Nie die kerke van die twintigste eeu alleen nie.
Alleen maar saam met al die heiliges; ook dié van vroeër. Dít is in ooreenstemming met die Skrif.

Wanneer die gemeente van Korinthe ʼn afwykende standpunt inneem insake die plek van die vrou, word Paulus baie ernstig. Hy verwyt hulle dat hulle hul van die ander Christene losmaak. Wat in al die gemeentes gebruiklik is, kan jy nie maar net verbygaan nie. “Of het die woord van God van julle uitgegaan, of het dit tot julle alleen gekom?” (1 Korintiërs 14:36).

Teen dié agtergrond het die gereformeerdes in die sestiende eeu hulle afsprake gemaak. Één daarvan is gebondenheid aan die gesonde leer van die Woord van God, wat deur die kerke gesamentlik verwoord en vasgelê is in belydenisskrifte. Deur ondertekening daarvan belowe ampsdraers om daaraan gebonde te wees en afwykende mening wat hulle later kon vorm, nie uit te dra nie, maar eers vir ondersoek aan kerklike vergaderings voor te lê.

Dwangbuis of beskerming?🔗

Is dit só vreemd? Moet jy dit beskou as ʼn harnas wat jou persoonlike vryheid as voorganger onnodig aan bande lê?

Terug na die nuwe medisyne: op gevaar van professionele tug sal geen apteker dit waag om ʼn nuwe medisyne te bemark voordat dit ná wetenskaplike prosesse getoets en goedgekeur is nie. As dit ter wille van die beskerming van ons liggaamlike gesondheid geld, dan geld dit tog seker des te meer vir die geestelike gesondheid en die ewige lewe van die kinders van God? Verdien dit nie beskerming teen ongesonde nuwighede nie?

Die ondertekeningsformulier bind ampsdraers aan ʼn toetsproses wanneer hulle nuwe insigte, wat van die geldende afwyk, ontdek. Moenie dit sonder meer bemark nie; al is dit hoe fassinerend en al sou jy daarmee sommige mense groot vreugde verskaf. Lê dit eers aan jou kerkraad voor; of anders aan ʼn meerdere vergadering. Is dit so vreemd?

Nederigheid en beskeidenheid🔗

Baie Christene beskou gebondenheid aan sulke prosesse as beperkings op hulle vryheid. Ek vra myself af of daar nie ʼn naïewe, romantiese en optimistiese benadering tot die werklikheid hieruit spreek nie; ʼn oppervlakkige besef van die verdorwenheid wat nog in ons, mense, aanwesig is:

God waaragtig ... en elke mens leuenagtig…
Romeine 3:4

Dit moet ons beskeie en versigtig maak om sonder meer nuwe idees in te voer sonder dat hulle vooraf deur ander getoets en goedgekeur is. “...een is julle leermeester: Christus, en julle is almal broeders”. Jy neem onaanvaarbare risiko’s deur jou van jou broeders los te maak.

Ek kan my ook nie voorstel dat gemeentelede dit op prys stel dat hulle in die kerk aan die nuutste bevindinge van hulle predikant blootgestel word nie. Of dat hulle kinders onderrig word in die afwykende menings van die kategeet, in plaas van die leer van die kerk. Voor jy weet, het jy ʼn diktatortjie op die kansel.

Vreugde binne perke🔗

Wat het van ootmoed by voorgangers van die gemeente van Christus geword? Jy kan kla oor krampagtigheid en om meer vryheid vra. Jy kan dit selfs opeis deur maar die afwykende insigte te bevorder. Maar dan moet jy jouself afvra: bly ek op dié manier dienaar van Christus, die enigste Leermeester? Gedra ek my nog soos dit ʼn kneg pas? Slaan ek myself nie te hoog aan ten opsigte van die ander dienaars én ten opsigte van Hom in wie ek glo nie?

Dit moet juis ʼn verligting wees dat die bewaring van die gesonde leer nie ʼn verantwoordelikheid is wat op jou skouers alleen rus nie. Wie homself ken, sal tog seker graag die verantwoordelikheid met ander Christene wil deel? Daarom pleit ek dat ampsdraers nie met teësin na die ondertekeningsformulier sal kyk nie. Wees liewer bly oor so ʼn vrywillige gedragskode wat bedoel is om die ewige lewe van die gemeente te beskerm. Jy kan reken op die ondersteuning van ander, wat jou sal beskerm teen jou eie ontydige idees. Jy wil tog nie daarmee saamleef dat jy deur jou eiesinnigheid die geestelike gesondheid van die gemeente van Christus ondermyn nie?