Bron: Kerk en Woord. 4 bladsye.

Hebreers 6:9-10 - Gemeenskap van die Heiliges

Heb 6: 9, 10🔗

Wanneer ons Heb 6: 9 en 10 lees, is dit asof die geïnspireerde bybelskrywer baie goed geweet het dat hierdie verkondiging sy hoorders kan ontstel. Ons moet die verkeerde gebruike van sy verkondiging vermy en seker maak dat ons dit wel op die regte manier tot ons saligheid gebruik.

In hierdie skrifoordenking wil ons kyk na allerlei verkeerde gebruike van hierdie wraakverkondiging en aantoon waarom dit afgewys moet word. Dan sal ons by die skrywer self verneem hoedat ons dan wel hierdie skrifgedeelte tot ons salige troos moet gebruik. Want daar gebeur een van paar dinge.

Wegskram - afgewys🔗

Die een ding wat moontlik gebeur is dat hoorders hulself hoegenaamd nie deur die vermaning laat aanspreek nie. Intussen begin dink hulle aan ander mense wie dit moontlik sou oorgekom het. Net soos wat baie mense die boek Spreuke lees, die een spreuk pas jy op die een persoon toe en die ander weer op iemand anders. Gevolglik tref dit nie die eintlike regte persoon, naamlik jouself nie.

Maar dit is ongelukkig baie keer die manier hoedat ons na sekere skrifgedeeltes kyk: ons sê: dis te moeilik, of ons sê: maar dis tog heeltemal onmoontlik, of die ergste ons sê: Dis op iemand anders van toepassing. En dan oordink ons hierdie boodskap deur aan die ander persone te dink op wie dit van toepassing is. Nou kortweg gestel: Hierdie skrifgedeelte is nie vir die ander mense gepreek nie. Dis vir die Hebreërgemeente en vir die kerk van alle eeue, ook vir ons.

Elkeen van ons wat dit aanhoor, word opgeroep om ernstig selfondersoek te doen. ’n Dringende gewetensvraag lê hiermee op die tafels van ons harte: Watter groei het daar in ons geloofsbouwerk plaasgevind in die afgelope paar jaar? Want as ons steeds maar nog by die sentimentele elementêre waarhede bly vassteek het, moet hierdie vermaning van Hebr 6 ons ernstig tot stilstand en nadenke ruk.

Die vermaning dat dit onmoontlik is om ’n uitgevallene weer tot bekering te vernuwe, is dus nie in die eerste plek van toepassing op ander mense nie, maar vir elkeen van ons om te hoor en daarmee te werk.

Wanhoop - afgewys🔗

Maar so is ons tegelyk ook by ’n tweede moontlike reaksie - dat iemand hierdie vermaning dan weer op so ’n wyse ter harte neem dat hy/sy in die hewigste angs verval. Benoudheid en vrees: Sê nou net ek het al moontlik uitgeval uit die genade. Sê nou net ek en my huisgesin het hierdie tragiese lot getref. Sê nou net ek was deur my optrede regstreeks die oorsaak vir iemand anders se veragting van die Evangelie o wee my dan, want dan is alles verlore!

Dit is ook ’n verkeerde reaksie op hierdie skrifgedeelte. Dit is verkeerd omdat dit nie die bedoeling van die Hebreërskrywer was om ons in wanhoop te dompel nie. Die hele brief, die paragrawe voorafgaande sowel as die paragrawe wat volg wil juis die gemeente optel en aanvuur tot sterker vasgryp aan die genade van God.

Mislukte evangelisasiedogma - afgewys🔗

’n Derde verkeerde reaksie op hierdie skerp vermaning is wanneer ons wel bewus is van iemand wat so geheel en al uit die genade weggeval het, en wat die genadeverbond verag het, en nou lui die teks dat dit onmoontlik is om so iemand weer tot bekering te vernuwe. Ons maak nou daarvan ’n mislukte evangelisasie-dogma en sê: Dus sal dit nie help om verder met so een te praat of vir so een te bid nie.

Ons lees hierdie uitspraak en dink aan iemand wat ons as ’n verlorene bejammer en sê by onsself: Dit sal dus net ’n vermorsing van kragte en woorde wees om vir daardie persoon verder te bid of te skryf of te praat.

Weereens: as dit die manier is hoedat ons hierdie skrifgedeelte moes gebruik het, sou die Hebreërbrief ook net hier geëindig het. Dan sou hy oor sy teleurstelling met die melkkos-afhanklike Hebreërs geen toekoms verder gesien het nie en alle verdere verkondiging gestaak het. Maar nou is dit nie die geval nie.

Hierdie uitspraak gee aan ons ’n verduideliking waarom sommige verbondskinders as ongelowiges in die graf ingaan, en so gee hierdie vermaning vir ons ’n kykie in daardie deel van God se ewige raadsplan waarin ons geen kennis of seggenskap het nie.

Hierdie doem-uitspraak lê welbewese in die res van die Skrif - maar dit is niks anders as ’n verduideliking aan ons hoe God se verborge raadsplan van sy uitverkiesing en sy verwerping op die grond realiseer nie.

Hierdie uitspraak vertel nie vir ons dat ons dus die reg het om by onsself te besluit wanneer dit met iemand neusie verby is nie. Daarom sien ons dat die Hebreërskrywer dit nie hier waag om enkelinge se name daar in die gemeente te noem nie. Hy beskrywe ’n beginsel van God se koninkryk.

Hierdie uitspraak vertel nie vir ons dat ons maar kan ophou bid en pleit en preek nie. Ons opdrag wat die Here vir ons gegee het en wat ons verantwoordelikheid is, sal altyd onverswak bly staan dat ons die evangelie aan alle mense moet bly verkondig, tydig en ontydig.

Ook dat ons eerste na die verdwaalde huisgenote van Israel moet gaan, en dat ons die verdwaalde skape moet gaan opsoek. Ons mag dus nie hierdie mededeling en waarskuwing gebruik om die onveranderlike opdrag wat die Here aan ons gegee het nietig te maak nie.

Ook hierdie derde misbruik van hierdie teks om dit as ’n soort mislukte sendingbeleid te gebruik, is dus hoege­naamd nie in lyn met die bedoeling van die teks hier nie.

Goed dan. Ons mag onsself nie aan die teks afsmeer nie, ons moet dit ook nie opvat as dat ons dus outomaties veroordeeld staan nie, en ons mag dit ook nie as ’n soort mislukte sendingbeleid misbruik nie. Wat is dan wel die bedoeling en waarvoor bied die Hebreërbriefskrywer dit aan?

Teks en sy konteks🔗

Die Hebreërskrywer het verwag dat sy lesers beangs sal wees wanneer hulle hierdie verdoemende vermaning hoor. Maar dit was nie sy doel om sy lesers met wanhoop plat te slaan nie. Hy wou immers aan hulle die ewige hoop bring en aan hulle salige geloofsopbou werk tot hulle behoud.

Nou is dit ten enemale ’n onveranderlike waarheid wat in geen opsig teruggeneem kan word nie, dat iemand wat teen God in opstand is geen salige troos kan hê nie. So is dit eenmaal en ons kan nie die Skrif in hierdie opsig verander nie. Ook nie al gaan dit oor iemand vir wie ons innig lief het nie. Die Woord van die Here is in hierdie opsig ook ewig en waaragtig.

Ons lees immers in die Bybel van Esau, en van Judas Iskariot wat onberoulik in hulle sonde was. Ons gaan ook iewers in hierdie dae weer die geskiedenis van Hofni en Pinehas die priesters behandel wat God met verbondsveragting vertoorn het nadat hulle al die heerlike gawes van die genade gesmaak het.

Ons het ook al ’n preek gehoor oor die dwase ryk man met die naam Nabal, wat veragtelik teenoor God en teenoor Dawid opgetree het. Ons het al van koning Agab gehoor wat deur die Baäldiens weggesleep en verlok is uit die heerlike genade van die verbond van God en wat nooit weer tot bekering vernuwe kon word nie.

Dus: Sy lering in hierdie verse bly onverswak. Dit is ’n waarheid waarvan die bewyse in die verbondsgeskiedenis die een na die ander opgenoem kan word.

Maar ons moet ook sy vermaning hier in Hebreërs goed lees. Hy bied dit nie as ’n getuigskrif van die Hebreërgemeente aan nie. Hy sê nie vir hulle dat hulle dus eintlik ook geen salige geleentheid meer het nie omdat daardie gemeente dus ook soos Esau, Judas Iskariot, Agab of Hofni is nie.

Dis nie ’n beskuldiging nie, en dit is ook nie ’n getuigskrif van die gemeente nie. Dit is ’n waarskuwing, ’n baie ernstige waarskuwing waarvan die inhoud waaragtig en werklik is. Maar ’n waarskuwing (soos al die profete met hulle verdoemende wraakverkondiging in die Ou Testament) is altyd juis bedoel om aan iemand hoop te gee wanneer daar gehoor gegee word. (Dink net aan die wyse waarop Jona tot Nineve gepreek het en die mense se reaksie daarop.)

So is hierdie verkondiging ook ’n waarskuwing wat op gehoorsame reaksie aan sy lesers wil hoop gee. Daarom laat weet hy nou onmiddellik in vers 9 dat hy - wat hulle betref - van beter dinge oortuig is, oortuig van dinge wat met die saligheid saamhang.

Met hierdie duidelike toegewing wil hy verder ook hê dat ons moet weet hoe hy die gemeente van Christus beskou, selfs al is daar baie swakhede, sonde en gebreke by hulle aanwesig. Dit is die benadering wat die Here ook het wanneer Hy met ons as gemeente praat, trouens, as Hy met enige gemeente praat, en met enige verbondskind praat - is dit die basiese vertrekpunt - Hy praat met mense waarvan hy oortuig is dat daar by hulle dinge aanwesig is wat met die saligheid saamhang.

Laat dit dan ook ons vertrekpunt wees wanneer ons hierdie ernstige vermaning en bedreiging lees, as ons hoor wat sal gebeur met mense wat geheel uit die genade uitval. Ons moet altyd weet dat die Here ons eerste aanspreek en benader omdat ons verbondsmatig aan die saligheid deelname verkry het.

Daar is niks wat meer morbied is om na te luister as wanneer die waarheid van God se raad op so ’n manier vir ons aangebied word dat daar geen hoop op uitkoms meer vir ons is nie. En die Here doen dit ook nie op hierdie manier nie.

Maar daarom val die geïnspireerde Hebreërskrywer homself onmiddellik in die rede. Hy weet dat hy met die Hebreërs van beter dinge oortuig is, dinge wat met die saligheid saamhang. Dit is vers 9.

Wat is die dinge wat met die saligheid saamhang?🔗

En nou gaan hy met hierdie salige erkentlikheid in vers 10 selfs verder en hy dui aan waar hy aan hierdie oortuiging kom - dat hulle salig is. Watter bewyse voer hy aan dat hulle sal weet dat hy nie nou maar net so sê om hulle swaar belaste gemoed bietjie te paai nie? Sy bewys is: hy sien dat die verbondsgemeenskap by die Hebreërs funksioneer. Hulle onderlinge liefdesbetoon, hulle barmhartigheidsdiens, die wyse waarop hulle die heiliges - die gemeentelede versorg.

Dit is ’n duidelike bewys in die oog van die Hebreërskrywer dat die saligheid daar in die gemeente werksaam is. En hierdie bewys moet ons ook met ’n soekvraag op ons gemeente toepas. Ons moet die soekvraag vra: Hoe funksioneer ons onderlinge diensbetoning aan die huisgenote van die geloof?

Hoe dien ons die heiliges? Hoe lyk by ons die gemeenskap van die heiliges?

Dit is die toetsvrae wat hierdie skrifgedeelte by ons moet ontlok. Hoe herken ons dat hulle in die diens van die heiliges werksaam is? Al is dit ook nog met baie gebreke en tekortkominge.

Die dienswerk is immers nie ons verdienstes om die saligheid van God af te eis nie. Nee - maar ons dienswerk is die kentekens, die vrugte wat mense dra omdat God sy saligheid in hulle werk. Ons weet dat God nie sy werke laat vaar nie. Hy wat sy saligmaking in mense begin, voer dit ook voluit uit.

Waar God die vrugte van sy saligmakende werking in ’n gemeente waarneem, is Hy nie onregverdig om dit te vergeet nie. God is immers ’n jaloerse God wat aan die eenkant die misdade besoek van almal wat Hom haat, maar Hy bewys ook barmhartigheid aan duisende van die wat Hom liefhet en sy gebooie onderhou.

Lees met die oog hierop 1 Thes 1 saam. Paulus wat pas nadat hy die gemeente gestig het, vir sy lewe moes vlug, het op sy vlugtog by die ander dorpe en stede van Macedonië aangekom. En orals waar hy aangekom het, het hy ook die berigte teëgekom dat die Thessalonicense kragtig tot geloof gekom het en dat daar ’n aktiewe onderlinge werksaamheid is; die werk van hulle liefde en die arbeid van hulle geloof en die volharding van hulle hoop.

Wanneer hy hieroor met blydskap aan hulle skrywe, sê hy dat hy God elke keer dank as hy aan hulle dink, want hierdie dinge wat hy hoor maak dat hy weet van hulle salige verkiesing. Deur die dinge wat hy van hulle hoor, is hy by hulle oortuig van dinge wat met die saligheid saamhang.

Dan kan ons dit ook hoor uit die mond van die Here wat nie net aan die Hebreërs nie, maar ook aan by voorbeeld die sewe gemeentes van Klein Asië in die boek Openbaring en ook so aan alle kerke van alle eeue duidelik laat weet dat Hy hulle werke ken.

Die Here Jesus is die Hoof van sy kerke; Hy beweeg as die groot visitator tussen die sewe kandelaars deur en Hy ken ook hierdie gemeente se werke. Hy weet wat in Die Kandelaar aangaan. En dit is met dankbaarheid in die Here dat ons van huisbesoekpunte rapport kan ontvang hoedat in hierdie gemeente vir siek lidmate kos gemaak en kinders versorg word. Dit is met dankbaarheid dat ons verneem hoedat weduwees en oudstes deur mede-gemeentelede besoek word en versorg word.

Dit is met dankbaarheid dat ons nog hoor hoedat lidmate van hierdie gemeente besorg is oor hulle medebroeders en susters wat afdwaal en hulle gaan vermaan. Dankbaar vir die roepingsbewuste wyse waarop offers gebring word om die skoolonderrig in die vrese van die Here te laat plaasvind.

Dit is die dinge waarvan die Hebreërskrywer hier praat as die diens van die heiliges. O daar is nog oneindig baie gebreke, en ons behoort ons te skaam waar ons nog onbetrokke is, maar hierdie dinge, waar dit aanwesig is, is die bewyse dat God ook die saligheid in ons midde laat werk. En dit mag die troosryke uitgangspunt in ons denke wees wanneer ons hoor dat ons met dringende erns vermaan word om op hierdie wyse voort te gaan na die volmaaktheid en nie te verslap nie.