2 bladsye. Vertaal deur Nic Coetzee.

Hebreers - Die Opperheerskappy van Christus

Ek wonder of dit gepas is om ʼn “gunstelingboek” in die Bybel te hê. Die gedagte krap soos vingernaels op ʼn swartbord. Wat sou ons aanspoor om een deel van God se Woord bo ʼn ander te verkies? Dit moet tog wees dat om God enigiets te hoor sê so ʼn vreugde vir die siel behoort te wees dat elke woord wat uit Sy mond uitkom die siel tot dieselfde mate sal opwek.  Wanneer ons die saligheid bereik, sal miskien ons vreugde in Hom en Sy Woord so groot wees dat daar nie grade van vergelyking sal wees nie.

Ondertussen het ons egter  ons verskillende neigings. As ek dink aan “gunstelingboeke” van die Bybel, plaas ek Hebreërs altyd naby bo-aan die lys. Hoekom? In die eerste plek verbind hierdie boek die Ou Testament en Nuwe testament meesterlik met mekaar. Augustinus het die waarheid gepraat toe hy gesê het: “Die Nuwe is in die Oue versteek, die Oue is in die Nuwe ontbloot”. Hebreërs is die brug tussen hierdie twee.

Hebreërs is ʼn boek van vergelykings en kontraste. Die Nuwe Verbond word gesien teen die agtergrond van die Oue. Die Nuwe word as beter beskou. “Beter” is die deurslaggewende woord. Die Nuwe Verbond is beter want dis meer omvattend (dit sluit onbesnedenes in); dit het ʼn beter Middelaar; ʼn beter Hoëpriester; ʼn beter Koning; en ʼn beter openbaring van God.

Wat die Nuwe Verbond  bevat wat nie in die Ou Verbond vervat was nie, is die vervulling van die beloofde Messias. Kortom, ons het Jesus – die Woord wat vlees geword het.

Inderdaad, namate die skrywer van Hebreërs (wat ek dink Paulus was, moontlik met die hulp van ʼn assistent) die persoon en werk van Jesus beskryf, skakel die vergelykende baie vinnig oor na die oortreffende. Dit is nie genoeg om Jesus as net “beter” te sien in vergelyking met die verlede nie. Hy is meer as beter; Hy is die beste.

Hebreërs fokus op die opperheerskappy van Christus. Om van “opperheerskappy” te praat beteken om te praat van dit wat “verhef bo” of “bokant” iets anders is. Dit bereik die vlak van “opper” of “boonste”. In ons gebruik verwys dit na iets (of iemand) wat die grootste is in mag, gesag of rang. Dit word ook gebruik om dit (of iemand) wat die grootste is in belangrikheid, betekenis, karakter of prestasie – die “uiterste” – te beskryf.

In al die areas onder bespreking tel Jesus as die uiterste of hoogste – die hoogste in mag, rang, heerlikheid, gesag, belangrikheid, ens.

Die hoë Christologie van Hebreërs speel af teen die agtergrond van die Ou Testament. Hebreërs begin met die bevestiging van Christus as die uiterste openbaring van God: “In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam gemaak. Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur Sy magswoord in stand” (Heb. 1: 1-3a).

Hier is die opperheerskappy van Christus te sien in sy voortreflikheid bo die Ou Testamentiese profete. Daardie profete het die Woord van God verkondig – maar Christus is die Woord van God. Hy is nie maar net nog ʼn profeet in ʼn lang ry van profete nie. Hy is die Profeet by uitnemendheid. Hierdie uiterste openbaring kom van Hom af, die Een wat meer as ʼn profeet is – die ware Seun van God. In die openingsgedeelte van Hebreërs is daar genoeg gewigtige Christologie om die slimste teoloë hul hele lewe lank besig te hou sonder om die volle rykheid daarvan te deurgrond. Hier word Christus gesien as as die Skepper van die wêreld en die Een wat dit deur sy mag in stand hou. Hy is die Skepper van alle dinge en die Erfgenaam van alle dinge. Hy is die skitterende vergestalting van die heerlikheid van God. Weereens: dit is nie voldoende om te sê dat Hy die uiterste afspieëling van die goddelike heerlikheid is nie. Nee, Hy is die vergestalting van daardie heerlikheid. Hy is die uitdruklike beeld van God se persoon, die een wat die imago dei (goddelike beeld) tot die uiterste dra.

Vervolgens verduidelik Hebreërs die verskille tussen die persoon en funksies van engele in vergelyking met Jesus. Geen engel styg tot die vlak van die eniggebore Seun van God nie. Engele moet nie vereer word nie – maar engele word die opdrag gegee om Christus te vereer.  Die Koninkryk word nie aan engele gegee nie; dit word slegs aan Christus gegee, en slegs Hy sit aan die regterhand van God die Vader in ʼn posisie van wêreldmag. Christus is in elke opsig verhef bo die engele en Hy moet nie in verwarring as een van hulle gesien word nie.

Vervolgens bespreek die skrywer van Hebreërs die heerskappy van Christus oor Moses. Moses, in sy rol as Middelaar van die Wet, is  sekerlik die mees verhewe persoon in die Ou Testament. Ons lees: “Daarom, broers wat vir die Here afgesonder is en deelgenote is van die hemelse roeping, moet julle noukeurig let op Jesus, die Apostel en Hoëpriester van die geloof wat ons bely. Hy is getrou aan God wat Hom aangestel het, soos Moses ook getrou was in die hele huis van God. Maar Jesus is groter heerlikheid waardig geag as Moses, net soos die een wat die huis bou, meer eer waardig is as die huis. Elke huis word deur iemand gebou, maar God is die Een wat alles gebou het. Moses was as dienaar getrou in die hele huis van God en moes getuig van die dinge wat God nog sou sê. Christus is daarenteen getrou oor die huis van God. En ons is sy huis ........” (Heb. 3: 1-6a).

Die kontras hier is tussen die dienaar van die huis, die bouer van die huis, en die eienaar van die huis. Die bouer en eienaar is verhewe bo die dienaar van die huis. Moses kon die volk na die aardse beloofde land lei, maar kon hulle nie na hul ewige rus lei nie.

Vervolgens word Christus gesien as die verhewe Hoëpriester. Die hoëpriesters van die ou bedeling was net ʼn afskaduwing van die werklikheid wat moes kom. Die offers in die ou bedeling moes gereeld geoffer word – Christus het die ware offer gebring, eens en vir altyd. Hy is beide die onderwerp en voorwerp van die hoogste boete-offer.

Laastens, Christus se priesterskap verskil van die oue daarin dat Christus as beide Hoëpriester en Koning gedien het. In die Ou Verbond moes die koning uiteindelik uit die stam van Juda kom. Die priesters moes gewy word uit die stam van Levi (na Aaron). Maar Jesus was nie ʼn Leviet nie.  Sy priesterskap was van ʼn ander orde – die orde van Melgisedek. Melgisedek het ʼn vreemde verskyning as beide koning en hoëpriester aan Abraham gemaak en Abraham het aan hom hulde gebring. Hebreërs argumenteer dat Abraham groter is as Levi, en Melgisedek groter as Abraham, sodat Melgisedek dus groter as Levi is. Die ewige hoëpriesterskap en koningskap is aan Christus gegee as vervulling van Psalm 110.

Hierdie verwysings is maar net ʼn paar van die rykdomme, wat die opperheerskappy van Christus bekend stel, wat in Hebreërs voorkom.