Bron: Kerk en Woord. 3 bladsye.

Matteus 21:5 - Jerusalem, kyk, jou Koning kom na jou toe!

Matthéüs 21:5🔗

Die Here Jesus se intog in Jerusalem was sy eerste voetstappe op die lydingspad. In Caesarea-Filippi (Matt 16) het Hy vir sy dissipels gesê dat dit die pad vir die Christus is. Op die berg van verheer­liking (Matt 17) het die Vader uit die hemel met sy eie stem en die verskyning van Moses en Elia (die Ou Testament) die dissipels laat hoor en laat sien dat hulle na sy Seun moet luister as Hy dié pad inslaan.

Daarom is die koninklike intog in Jerusalem nie iets wat die volk organiseer nie. Die Here word nie in die rol van die Messias ingedwing nie. Hy is glad nie die slagoffer van omstandighede nie. Hy neem die leiding: Hy berei die intog voor. Hy voer dit enduit.... sodat hulle in Hom en in sy optrede die Messias van die profesieë moes herken.

So bewys Matthéüs aan die Jode: Jesus van Nasaret is met sy gewillige lyding die vervulling van die Messiasprofesieë. Die mense van Jerusalem sal nooit kan ontken dat Hy Hom as sulks openbaar het nie!

Christus openbaar Hom as Messias🔗

In Jerusalem moes die Messias sterwe. Daarom gaan Jesus daarheen. Jesus het sy dissipels attent gemaak daarop, Matt 20:17,18 en 19.

Sy opgang het ’n beslissende betekenis! Hy kies die Paasfees, wanneer duisende Israeliete in Jerusalem is.

Die tweede waarop gelet moet word: Hy kies nou die hoofroete, die pad wat deur die meeste Paasfeesgangers gebruik is. Hy onttrek Hom nie meer aan die menigtes, soos voorheen sy gebruik was nie.

Die derde opmerklike is: By Bétfage gee Hy twee van sy dissipels uitdruklik bevel: “Gaan na daardie dorp reg voor julle en dadelik sal julle ’n eselin vind, wat vasgemaak is, en ’n vul by haar. Maak haar los en bring hulle vir My. En as iemand vir julle iets sê, moet julle antwoord: Die Here het hulle nodig; En dadelik sal hy hulle stuur” (vs 6) Dit is duidelik: Dit is die Koning wat praat. Vir sy koninklike optog lê Hy beslag op die gewenste voertuig.

Die Here (Gr: Kurios) eis met gesag vir sy Middelaarswerk die rydier op. Aan die Koning moet alles gehoorsaam as Hy sy ampsdiens verrig.

Sagaria het immers gesê: Van die Olyfberg af sou die Messias na Jerusalem kom, (Sag 4:14). En Bétfage lê aan die Olyfberg. Sagaria se woorde was verder: “Verheug jou grootliks, o dogter van Sion! Juig, o dogter van Jerusalem! Kyk, jou Koning kom na jou; regverdig en ’n oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op ’n esel, die vul van ’n eselin.” (Sag 9:9)

Jesus sou elke detail van die profeet se profesie vervul: Hy kies nie net ’n donkie nie, nee, die vul van ’n donkiemerrie, waarop niemand nog gery het nie. Die merrie vergesel die vulletjie dat hy nie verbouereerd raak nie. Maar die rit op ’n donkievulletjie was nie teken van Christus se vernedering nie. Christus wou nie so sy koningskap wegsteek nie.

Nee, hierdie eenvoudige rytuig was teken dat Hy na Jerusalem kom as VREDESKONING. Hy kom nie op ’n perd - teken van stryd - soos oud-Israelitiese heersers gedoen het nie, bv. Jehu (2 Kon 9), maar as vredevors, volgens die belofte van Sag 9:10: Strydwaens en perde en die strydboog sou Hy verbreek.

Christus se intog in Jerusalem eindig nie op die troon in die koninklike residensie nie, maar aan die kruis op Gólgota. Daar maak Hy vir goed ’n einde aan die vyandskap tussen God en die sondaar, deur alle sonde en opstand te betaal. Hy is “oorwinnaar”, die “nederige” oorwinnaar, waarvan Sagaria praat.

Matthéüs praat van “sagmoedig”. Sagmoedig is nie saggeaard nie. Hardhandig het Christus die tempel opgeruim. Hy is nie die skugter en geweldlose van die pasifiste, wat daarmee alle oorlog veroordeel nie. Sagmoedig en nederig beteken dat Hy nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe vir baie as losprys te gee. (Matt 20:28)

Die volk se reaksie🔗

Skynbaar het die Here Jesus volkome in sy opset geslaag: Die dissipels het hulle klere op die donkievulletjie se rug gelê, om as saal te dien. Hulle erken Hom as Koning. Ook die skare. Hulle het as’t ware die rooi tapyt vir die Here oopgerol, deur hul klere op die pad oop te gooi en takke van die bome af te kap en op die pad te strooi.

Soos ’n veldbrand het die entoesiasme oor die Koning wat na sy stad toe kom, versprei. Al harder het hulle geroep: “Hosanna vir die Seun van Dawid! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! Hosanna in die hoogste hemele!”

Hosanna... die Hebreeuse welkomsgroet uit Ps 118:25 en 26 vir elke Jerusalem­ganger. Dit beteken: Bewaar tog, of gee tog heil en voorspoed.

’n Welkomsgroet aan DIE SEUN VAN DAWID, dit is die Messias. Dit was ook ’n huldigingsroep! Hosanna vir die Seun van Dawid, wat kom in die Naam van die Here.

Daarmee wou hulle sê: Hy wat deur die Vader gestuur is om sy beloftes uit te voer. Hosanna in die hoogste hemele... Selfs die engele in die hemel moet God loof vir die verlossing wat hulle nou sien kom.

In hierdie huldigingsroep was iets goeds. Die klippe sou uitroep as die skare geswyg het, sê Christus later vir die Fariseërs. Maar het die volk hulle God se verlossingsprogram verstaan? Helaas, nee! Al haal die volk Ps 118 se welkomsgroet aan, was hulle nog steeds vasgevang in hul lieflings-denkbeeld dat die Messias ’n aardse kragfiguur sou wees, dat Hy hulle met geweld van die Romeinse juk sou verlos. So sou Hy na hulle oortuiging die troon van Dawid in sy ou glorie herstel.

Ondanks Hy op ’n donkievulletjie gery het, het hulle Hom al as oorwinnaar op sy strydros deur Jerusalem se strate sien gaan. En dit moes die lyding van die Here Jesus verskerp het! In sy lewe het dit tog al die tyd gegaan oor die verlossingsplan van sy Vader! En betaling aan God se reg het daarin voorop gestaan.

Alleen so kon versoening tot stand kom, die gebroke verbond herstel word, kon daar vrede op aarde kom vir die mense in wie God 'n welbehae het, en sou God die eer ontvang in die hoogste hemele.

Dink aan die engellied by sy geboorte.

En daarom was die huldigingskrete van die skare vir die Christus so ontsaglik teleurstellend. Hulle het in Hom ’n totaal ander soort Vredekoning gesoek as wat Hy in werklikheid wou wees.

Hulle het totaal niks verstaan van hul eie nood en die wêreld se nood nie.

Glo ons in die Vredekoning wat met sy lyding die groot offer gebring het wat ons sondes versoen? Soek ons dié vrede vir onsself en vir die hemel en die aarde? Of is ons in ons diens van God nog altyd besig met ons vleeslike denkbeelde oor Christus en sy koningskap? Alleen wie Hom erken as die Borg wat Hom in ons plek tot in die dood gegee het, sal Hom kan ontmoet as Hy terugkom na die aarde - dan nie meer as die nederige Vrede-koning op die donkievulletjie nie, maar as die Seëvierende, in heerlikheid.