Bron: Kerk en Woord. 6 bladsye.

Psalm 81:13 - As My Volk maar na My wou Luister

Ps 81: 13🔗

Psalm 81 is by menige Gereformeerde gesin geliefd. Hoe dikwels hoor ons dit nie in die aande rondom die etenstafel opklink hoedat ouers en kinders saam sing:

Open julle mond
  Eis van My vrymoedig
 Op my trouverbond
  Al wat jul ontbreek
 Skenk Ek as jul smeek
Mild’lik en oorvloedig.

Selfs in tye van nood, diepe worsteling, bestaansnood, oorlewingsnood.

Kyk na die hele Psalm, dan hoor en sien jy ’n slawevolk in Egipte, met harde slawewerk onder die geklap van swepe. Met swaar vragte op die rug, met mandjies in die hande (vers 7). Dit is ’n kermende volk wat smag om bevryding. En ons sien ’n sterke God. Hulle het God om hulp geroep en Hy het hulle gehoor. Hy het hulle verlos. En dit is wat die volk met die fees van die Nuwemaan en die Volmaan moes vier, met jubelgeskal: die gittiet, die tamboeryn, die lier, die siter, die harp. Hulle moet fees tot eer van God vier.

Op die fees moet Psalm 81 gesing word en dit moet die volk ingeskerp word dat godsdienstige feesvierings sonder bekering en gehoorsaamheid nie tot redding lei nie. Dat ’n gedissiplineerde onderhouding van die kultusdiens niks help as dit nie gedra word deur ’n lewe van gedissiplineerde moraliteit nie.

Uitwerking🔗

Kom kyk nou hoe werk Asaf hierdie argument in Psalm 81 uit.

Verse 1 - 8 is ’n oproep om God met jubelsang en musiekinstrumente te loof. Die ramshoring moet met die opkoms van die Nuwemaan die begin van die fees aankondig (vers 4) en weer so twee weke later wanneer dit Volmaan is. Met die uittog uit Egipte het die HERE hierdie fees ingestel. Israel moet bly dink aan hoe God hulle van die slawewerk verlos het en hoe Hy vir hulle gesorg het.

In die Psalms lees ons dit oor en oor dat die HERE mense in blydskap en gejubel voor sy aangesig soek. Dit is nie vir mense snaaks dat die HERE dit so soek nie, want by al die nasies was dit bekend dat hulle nie met morbiede en suur gesigte voor hoë gesagsdraers mog verskyn nie.

Een van die bekendste voorbeelde hiervan is Nehemia wat as wynskinker voor koning Artasasta verskyn het. Dit was verbode om bedroef voor die koning te verskyn. Trouens, dit kon jou dood beteken. Daarom het Nehemia vooraf gebid en gepleit dat God hom in hierdie saak ter wille sal wees.

Ook in teëspoed🔗

Wanneer ons voor die almagtige God van hemel en aarde verskyn, voor die Verbondsgod, die God van Jakob soos vers 1 sê, dan is dit soveel te meer waar dat ons in blydskap en in dankbaarheid voor Hom moet verskyn. Ook in ons diepste nood en ellende. Ook al is ons lewe in repe geskeur, wanneer ons voor onse Verbondsgod, ons Verlosser, ons Sterkte verskyn, dan moet dit met dankbare blydskap wees.

Dan is ons ook waarlik bly by Hom, omdat geen menslike dinge ons sterkte is nie. Dit is nie deur mensevernuf nie, nie deur menslike insig nie, nie deur ons eie bydrae dat dinge hier tussen ons uitwerk soos dit uitwerk nie. Dit is alleen maar omdat die God van Jakob ons sterkte is, die God wat Homself onder die volk as die God van Abraham en Isak en Jakob wil laat ken, en sy naam is: Ek is wat Ek is, Jahwe, troue Verbondsgod. En Hy is ontsagwekkend sterk, Hy wat aan Jakob trou belowe het en sy woord gestand gedoen het.

Ons steroïde🔗

Hy wat die Sterke is, het Homself met die swakkelinge kom bemoei. Hy wat almagtig is, het Hom met die onaansienlike, die skame en teruggetrokkene, die uitgeworpene, die lelike eendjie kom bemoei. En net soos wat steroïde aan mense wat uit hulle gewone natuur onbekwaam is, ongekende vermoëns gee, en soos wat stimulante aan mense wat uit hulle gewone natuur teruggetrokke is, ongekende moed en durf gee, so is dit nie ons gevalle sondige natuur nie, hoe goed ons ookal ons gevalle natuur ontwikkel het, nie dit nie, maar die God van Jakob in ons, Hy oor ons.

U sluit my in van agter en van voor en U hou u hand op my. U is my sterkte. Net soos wat Simson se sterkte was, soos wat Hy Dawid se vernuf was, soos wat Hy Salomo se wysheid was, soos wat Hy die Gideonsbende se gevegsvernuf was, so is Hy ook ons Sterkte.

Daarom moet die musiekinstrumente sy lof bespeel op die fees van die Nuwemaan en die Volmaan. Daarom moet ons die roetine, die daaglikse seremonie, die godsdienstige kultus, ja ons hele handel en wandel as ’n lofsang, as ’n lewende en aan God welgevallige offer aan Hom toebring.

Die moederbelofte daar diep in die oergeskiedenis, die eerste glim van die komende lig in die wêreld. Die nasaad uit die vrou wat sal kom en die kop van die slang vermorsel. En deur die heilsgeskiedenis skrefie vir skrefie helderder en groter breek die lig deur totdat eenmaal in Betlehem, die maagd wat swanger geword het, ’n Seun in die wêreld bring. In Hom is die Lig wat vir die duistere wêreld lewe gee. Evangelie. Verlossingsboodskap.

Nuwemaan🔗

Die HERE het dit as ’n insetting vir Israel gegee, die fees van die Nuwemaan, as ’n verordening - ’n getuienis in Josef toe hy uitgetrek het teen Egipteland. Daar het Asaf die taal van verlossing gehoor wat hy tevore nie geken het nie. Was dit dan nie Josef wat gedroom het van die son en die maan en elf sterre wat hulle voor hom sou neerbuig nie. Josef se lewe en bestaan het die betekenis gehad dat God deur sy hand die hongersnood van sy kerkvolk opgeklaar het, dat hy vir hulle ’n ligbewerker geword het in Egipte, dat hy deur God se toedoen weer ’n lewende hoop aan Jakobs nageslag gegee het, en dat hulle in die beste deel van Egipte, in Gosen gaan bly het.

Dat die fees van die Nuwemaan bedoel is as God se getuienis in Josef, beteken dus dat die Verbondsgod op die fees getuig van die reddingsmag wat Hy in en deur Josef aan sy kerk bewys het. Dat Hy sy kerk vir Hom behou, bewaar. En honderde jare later steeds in Egipte, nadat die volk in die uiterste bestaansnood geraak het, het God dit weereens gedoen.

Presies soos wat Hy dit tevore in sy profesie aan Abraham belowe het. Hy het Israel se skouer van die slawelas bevry. Hy het dit bewerk dat Israel die mandjie waarmee sy haar slawewerk verrig het, kon neersit.

Toe sy kerk se toekoms in bedreiging was, toe sy in haar doodsnikke was, in die nood, het sy geroep en die troue Verbondsgod het uitgered - daar diep in die skuilplek van die donder.

Telkens weer🔗

Hierdie reddingsdade om sy kerk altyd steeds te vergader, te beskerm en te onderhou, het nooit opgehou nie. Dit was vir Israel beskore, wat altyd weer deur hulle eie toedoen in lewensnood en versterwing geraak het, dat God hulle telkens weer uitgered het. Nadat Hy hulle swaar getugtig het, het Hy hulle weer uitgered. So deur die geskiedenis van die rigters, so deur die geskiedenis van die konings en die profete, so deur die geskiedenis van die ballingskap en die terugkeer uit die ballingskap.

En so ook dwarsdeur die Nuwe Testamentiese kerkgeskiedenis. Oomblikke van nood en krisis was daar dikwels, deur vervolging van buite, of verderwing van binne, deur verleiding van buite of deur losbandigheid van binne. En na hartgrondige bekering en reformasie het Hy altyd weer sy kerk bewaar en gereinig.

Die vervolging van die kerk onder die Romeinse juk het tot ’n einde gekom toe Keiser Konstantyn ’n Christen geword het.

Die verderflike verval onder die Roomse hiërargie het tot ’n einde gekom met die reformasie van die 16e eeu.

Vervolging op die Protestante het tot ’n einde gekom namate algaande die owerhede die protestantse geloof aanvaar het.

Dwaalleer en verval🔗

Deur dwaalleer en morele verval is die kerk se voortgang voortdurend bedreig. Die Montaniste, die Pelagiane, die Fariseïsme.

In allerlei nuwer baadjies soos die Roomse kerk, die Wederdopers, die Geesdrywers en kultusleiers, die Remonstrante en die Charismatiese afgodsdienste. Telkens het die HERE sy gelowige kinders hierteen opgeskerp. Hy het Bybelgehoorsame profete verwek wat die eenvoud van die geloof en die suiwer evangelie weer verkondig het. En sy kerk het in haar nood die HERE aangeroep en Hy het haar uitgered.

Die kerk was dikwels is fisiese gevaar, politieke vervolging, Sinodokrasie, sy is beroof en het gebuk gegaan onder aggressors van wetteloosheid. Baie soos die gelowiges in die annale van Hebr 11: Hulle is in stukke gesaag en het in dierevelle geloop, hulle was verag en is die lewe nie waardig geag nie. Ja soortgelyk aan Israel die kerk van die Ou Testament asook die kerk van die vroeë Nuwe Testament.

So het dit dwarsdeur die geskiedenis gegaan.

Suid-Afrika🔗

In ons eie voorgeskiedenis in SA was dit dikwels ook die geval. Dink aan die wilde vestigingsjare onder aan die Kaap, die gebed van Jan van Riebeeck dat God mag gee dat hier ’n gelowige nasie op die Suidpunt van Afrika mag wees.

Dink aan die aankoms van die godsdiensvlugtelinge uit Frankryk, die Franse Hugenote en hul bestaansnood, om as gereformeerdes te mag glo.

Dink aan die stryd en politieke teenstand wat die grensboere destyds beleef het, die weiering van die owerheid met die swaardmag om wetteloosheid en roof en moord van die heidene op die grensboere hok te slaan.

Dink aan die bestaansnood van die Voortrekkers wat na ’n heenkome van vrye bestaan en godsdiens gesoek het, hoedat hulle bykans op dieselfde wyse as die vervolgde kerk van Jerusalem die binneland ingevaar het op soek na ’n heenkome.

Telkens het ons gelees hoedat die kerkmense, die gelowiges op die woorde van vers 7 in hulle nood die God van Jakob aangeroep het, en in afhanklikheid erken het dat Hy hulle Sterkte is. En Hy het sy gelowige pleitende kinders weereens vergader en beskerm en onderhou.

Hulle het Hom in hulle nood aangeroep en Hy het hulle uitgered. Hy het hulle geantwoord in die skuilplek van die donder.

Europa🔗

Soortgelyk hieraan sien ons ’n verwoeste Europa na die Tweede Wêreldoorlog in 1945 en hoedat baie gelowiges in Nederland in hulle hongersnood, hulle maatskaplike nood, hulle bestaansnood, die God van Jakob aangeroep en erken het dat Hy alleen hulle Sterkte is.

Toe het tientalle Nederlandse gesinne op bote by Suid-Afrikaanse hawens aan wal gegaan en met hulle bietjie goedjies hier en daar by mense tuis gegaan en ’n karige bestaan begin maak.

Ons hoef nie te wonder nie: Dit was waarlik die vraagstukke en die worstelinge van die vrygemaakte gereformeerdes, hulle wou leef en kerk wees. En hier sit ons almal vandag as bewyse van hierdie strewe en die HERE se beskermende hand.

Daarom is die kerkvolk opgeroep om op die Nuwemaansfees Psalm 81 te sing en voor te dra. En ons weet dat ook hierdie seremonie eenmaal in Christus vervul is. Hy is die Lig wat in die wêreld gekom het. Dit is deur sy Verlossingswerk dat ons mag hoor en bely dat die onderhouding van die seremonies verval het. In Kol 2: 16 e.v. lees ons:

16. Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ’n fees of nuwemaan of sabbat nie,
17. wat ’n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus.

En hierin sit die oproep van hierdie Psalm, dat ons ons in Christus ons Ligbewerker moet verlustig. Ons het steeds die roeping om lewende en heilige offers aan God toe te bring wat vir Hom welgevallig is. Daarvoor het ons in die Nuwe Testamentiese tyd eredienste, gemeentelike samekomste, toerustingsgeleenthede, die daaglikse gebede, huisgodsdiens en so meer.

Ook vandag🔗

Die gevolg is dat ons ook vandag nog voortdurend die tamboeryn, die siter en harp en die basuin moet blaas as deel van ons jubeling oor ons verlossing uit die mag van die duisternis en geroep na sy wonderbare lig, om sy deugde te verkondig. Ja ons word juis vermaan om nie die onderlinge byeenkomste te versuim soos sommige die gewoonte het nie.

Ons kan tog immers selfs uit ons eie lewensgeskiedenis ook elkeen getuig van hoe dikwels ons of ons ouers of bekendes reeds in hulle nood die HERE aangeroep het, en Hy het ons telkens weer lewe gegee. Hoeveel keer uit ernstige siekte of uit benarde finansiële nood of ook uit ernstige huweliks-gesinsnood gebid nie, en die HERE red telkens weer op sy wonderbare wyse.

Tweede deel🔗

Daarom is die belangrike tweede helfte van die Psalm vir ons opgeskrywe.

Hy wat alleen ons verlos het, met middele, sonder middele of selfs ten spyte van middele, ja teen middele in, Hy eis onverdeelde trou van ons. Hy wat ons Verlosser is, eis absolute lojaliteit - en dit is nou net hier waar al die groot godsdiensvraagstukke na vore kom.

Hoe moet ons Hom dien? Ons bely byvoorbeeld in art 7 NGB dat die hele wyse waarop ons Hom moet dien in die Bybel breedvoerig en genoegsaam beskrywe word. En almal wat eenmaal belydenis van hulle geloof doen, wat hulle kinders ten doop voorhou of wat in ’n besondere amp bevestig word moet in hulle gelofte voor die HERE bevestig en bely dat die Ou en Nuwe Testament die Woord van God is en dat dit die volkome leer van die saligheid bevat.

En dit is dan dat mense met volle oortuiging die vinger na verse 1 - 5 wys. Ons moet Hom dien soos wat verse 1 - 5 dit beveel, sê hulle.

En ja hulle is ook reg. Ons moet dit doen. Ons moet ons musiekinstrumente uithaal. Ons moet die feesklere aantrek. Ons moet in die feestelike stemming kom. Ons moet bymekaar kom as gemeente. Ons moet die Nuwe-testamentiese seremonies onderhou. Ja hierdie hele ruimte moet in sy volheid gevul word en die lieflike geur en die lofklanke moet oprys tot hoër tone en opklink tot God in sy allerheiligste. Dit moet ons doen, voluit, aanhoudend, gereeld, getrou.

Angel🔗

Kyk nou weer na verse 8 - 12, want daar sit tog ’n gevaarlike angel in die standpunt van mense wat met die vinger na verse 1 - 5 wys en niks verder nie.

Verse 8 - 12 bring ons met ons gewetens, ons harte, ons liggame, ons totale bestaan voor die aangesig van die enige ware God. Ons moet die seremonies en gesamentlike kultusdiens onderhou ja, maar as ons nie ook met ons hele lewe gehoorsaam aan die HERE leef nie, is ons offerdiens leeg. Spreuke 28:9 stel dit skril skerp: Wie sy oor wegdraai om nie na die wet te luister nie, selfs sy gebed is ’n gruwel.

Hoe hartseer dat Israel nooit hierdie weg kon volhou nie, en dat ons vandag ook nog voortdurend met die Israelitiese ontrouheid sit. Hulle hou aan die eenkant wel gehoorsaam nooit op om die nuwemaansfees te vier nie, o nee, hulle gaan voluit en uitbundig daarmee voort, maar wanneer die nuwemaansfees afgehandel is, dan gaan buig hulle weer voor Baäl, en as hulle met Baäl klaar is, gaan staan hulle op hulle dakke en buig voor die sterre en die maan en die son.

Helder klink die stem van die eerste gebod op: Daar mag geen vreemde god by jou wees nie en voor 'n uitlandse god mag jy jou nie neerbuig nie. Ek is die HERE jou God wat jou laat optrek het uit Egipteland. (verse 9 - 10) Ek alleen is die een wat jou seën, wat jou kos op tafel sit. Dit is Ek alleen wat jou gee wat nodig is om te leef en te oorleef. Dit is Ek wat werk gee, wat geleenthede gee, wat liggaamskragte gee, dit is Ek wat jou brood in jou mond sit en geen ander God nie, maak tog jou mond oop dat Ek jou dit kan bewys. Maar Israel stribbel teë soos ’n lekkerbekkige kleuter wat nie die lepel pap wil hap nie.

Wat ’n geweldige verwyt van verbondsverbreking hoor ons in vers 11! My volk het nie na my stem geluister nie en Israel was vir My nie gewillig nie. Toe het Ek hulle oorgegee aan die verhardheid van hulle hart, dat hulle in hul eie planne kon wandel. So beskou die HERE dit: getroue offerdiens sonder gehoorsame moraliteit is vir Hom ’n gruwel, dis vir Hom soos die oortreding van die eerste gebod.

Eiesinnigheid🔗

Jy mag nie die naam Christen dra en die christelike jaarkalender naleef, maar intussen weier om die Karakter van Christus deelagtig te raak nie. Om uitwendige offers aan God te bring en intussen jou eie verharde hart te dien, is so goed as om ’n ander god as die enige ware God te dien. Dis Fariseïsme. Dit is afgodery en beeldediens.

Eiesinnigheid is om soos die moderne Charismate te sê “ons is bemagtig om selfs groter dinge as Christus te doen, ons kan die duiwel en die demone bevele gee, ons kan die engele ontbied, ons kan sê wat ons wil en dis goddelik, want ons is met goddelike mag beklee.”

So het Saul ook maar geredeneer oor die opdrag wat God aan hom gegee het. Ek is nou bemagtig. Enigiets wat ek nou doen is goddelik en reg... intussen was dit eiesinnigheid. En eiesinnigheid is afgodery en beeldediens. Dit is vir God ’n gruwel. So een se gebed sal nie eers die plafon bereik nie.

Dien🔗

Hoe moet ons God dien wat ons verlos het uit ons nood, en wat sy kerk getrou in stand hou? Wys met jou vinger gesamentlik na verse 1 - 5 en 8 - 12. Met jou lippe en met jou hart. Met jou musiekinstrumente en met jou voetstappe. Met jou eredienste en met jou werk in die sweet van jou aanskyn. In werkstyd en vakansietyd. Sondag en Maandag.

Want die bedreiging van vers 12 is angswekkend: Hy het hulle oorgegee in die verhardheid van hulle hart dat hulle in hul eie planne kan wandel. Hy laat jou die gevolge van jou immorele lewe dra. Ons het nie alleen in die Ou-Testamentiese geskiedenis gesien hoedat die HERE sy kerkvolk oorgegee het aan die heidennasies wie se gode hulle wou dien nie, maar ons lees ook in die Nuwe Testament dat Hy hardnekkige en onberoulike sondaars aan hulself oorgee. Dit het Hy volgens Romeine 1 gedoen met die mense wat hulle seksueel vergryp het, en dit sal Hy ook volgens 2 Thessalonicense 2 doen aan die mense wat die leuenevangelie aanhang sodat hulle hulleself in die ewige verderf stort.

Hy sal hulle aan hulself oorgee. Laat ons pleit en bid dat die HERE dit nooit met ons doen nie. Dat Hy ons sal vasgryp en terugruk. Dat Hy ons sal bekeer en tugtig, maar nooit aan ons eie planne oorgee en aan ons verharde harte nie.

En die HERE wys ons wel die pad. Hy doen dit in verse 13 - 16 met ’n klagrede: Ag as my volk maar na My wou luister. As Israel maar in my weë wou wandel! Dit is die onwerklike AS. As my volk maar na My wou luister.... maar sy wou nie. Sy het nie. Hoe pas hierdie klag op ons lewens? Is dit ook ’n onwerklike AS? Die HERE bly egter positief... sy beloftes is nie leeg nie.

Kyk watter seëninge sou dan die volk se deel wees: Hulle vyande onderwerp - Hy sou sy hand teen hulle uitstrek. Al die haters van die HERE sou na Hom toe kruip, maar Israel sou vir ewig wees. Voed met beste koring en heuning uit die rots... lewe, volheid, soos konings en priesters en profete van die Allerhoogste. Ja hulle tye reik uit tot in die verste toekoms, tot in die nuwe bedeling, na die verre ewigheid. Erfgename van die hemelse Kanaän, burgers van die nuutgemaakte aarde en nuwe Jerusalem, inwoners van die Paradys van God. Hoe kan ons so ’n evangelie verontagsaam?

Onse God is ons Sterkte. En sy Gees by ons en in ons is ons lewewekkende Sterkte. Hy het ons menigmaal verlos. Hy het ons van die duiwel en sy magte, van ons sonde en sondeskuld, en van die ewige verdoemenis verlos. Hy het ons deur Jesus Christus uitgelei uit die duisternis na sy wonderbare lig. Onse God is angswekkend sterk. Hy is ons Sterkte! Laat ons Hom dan met ons offerdiens verheerlik en ook met ons gehoorsame lewenswandel.