2 bladsye.

VDM / FDM

Begrafnis

Tydens ’n onlangse begrafnisdiens verklaar ’n (Gereformeerde) predikant: ‘dit is vandag my taak om troos te fasiliteer’. Dit is ’n eienaardige uitdrukking, wat onmiddellik vrae wek. Wat beteken dit om troos te fasiliteer? Hoe doen ’n mens dit? Hoe verskil dit van verkondiging van troos – soos wat ons dit al die jare gewoond is? En grondliggend aan al dié vrae: is dit rég om troos te wil fasiliteer?

Merkwaardige Woord🔗

Die begrip ‘fasiliteer’ het die laaste jare taamlik gevestig geraak in ons daaglikse woordgebruik. Veral in besigheidsgesprekke, toerustingsgeleenthede, bosberade, dinkskrums, spanbou aksies, konferensies en kursusse word van ’n fasiliteerder gebruik gemaak. Van so ’n persoon word verwag om te sorg dat die program vlot, die gesprek in ’n rigting gestuur word, teenoorgestelde partye mekaar vind. Verkieslik moet dit met die minste dwang gedoen word. ’n Goeie fasiliteerder – so word gesê – behoort die verskillende (en dikwels uiteenlopende) menings van die kursusgangers alleen maar te klankbord en in ’n netjies saamgevatte vorm vir die gehoor terug te gee.

Dit is die kursusgangers se saak wat hulle met die samevatting van die fasiliteerder maak. Van ’n fasiliteerder word beslis nie verwag om standpunt in te neem of kant te kies nie. Die oomblik as dit wel gebeur, is die grens van fasiliteer oorskry.

In die Handboek vir die Afrikaanse Taal kom die woord fasiliteer nie voor nie. Fasiliteit wel. ’n Fasiliteit is ’n ‘maklikheid, tegemoetkoming’. Handelsbanke staan fasiliteite aan kliënte toe, wat in praktyk beteken dat kliënte geld by die bank kan leen om hulle verpligtinge mee na te kom. Die werkwoord ‘fasiliteer’ sou dan neerkom op die praktiese toepassing van die tegemoetkoming. Die Engelse facilitate kom in die prentjie. Dit beteken: vergemaklik, voorthelp.

Predikant as Fasiliteerder🔗

Terug by die begrafnisdiens. Die predikant kondig homself as fasiliteerder aan. Hy beskou dit as sy taak om troos aan die bedroefde familie en vriende te fasiliteer. Onmiddellik impliseer dit ten minste twee dinge (bes moontlik meer). As predikant moet hy die treurende agtergeblewenes voorthelp, sodat hulle leed verlig kan word. Hy mag egter nie betrokke wees by die fasiliteit wat hy fasiliteer nie. Hy staan as ’t ware op die kant, en poog om ’n brug tussen God die Trooster en die familie as troos soekendes te bou.

Die verloop van die betrokke begrafnisdiens het getoon dat die fasiliteerder-dominee hom knap van sy fasiliteer-taak gekwyt het. Daar is Bybel gelees. Daarna is die oorledene se lewe (met hier en daar ’n kwinkslag tussen-in om die spanning te verlig) in die Bybelverhaal ingeweef, tot so ’n mate dat elke teenwoordige sou kon dink dat die name wat in die Skrifgedeelte voorkom net so wel met die naam van die oorledene vervang kon word. Dit word in die teologie inlegkunde en eksemplarisme genoem. Die troos wat gefasiliteer is, het daarop neergekom dat die agtergeblewenes baie van die oorledene gehoor het. En min van God. Bitter min.

Predikant as Dienaar🔗

Johannes die Doper het verkondig: ‘Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!’ (Johannes 1:29) … ‘Hy moet meer word, maar ek minder’ (Johannes 3:30). Johannes fasiliteer nie. Hy verkondig. Hy spreek met gesag. Hy wys weg van homself na die Een wat by verre sy meerdere is. Hy bedien die Woord van God. As bedienaar van God se Woord is hy self vol van dit wat hy verkondig. Hy kan onmoontlik nie betrokke wees oor dit wat hy verkondig nie. Hy glo elke woord wat hy bedien.  In die proses van Woordbediening het hy op die agtergrond verdwyn. As vriend van die Bruidegom vestig hy alle aandag op die Bruidegom (Johannes 3:29). Daarin vind hy self troos, en vertroos hy sy luisteraars. Alles draai om God in Christus.

Predikant

Vóór Johannes is daar talle bedienaars deur God geroep en gestuur om die verbondswoord aan die verbondsvolk te bedien. Dit word in die Ou Testament bekend gemaak. Ná Johannes sou daar ’n menigte Woordbedienaars volg. Van hulle lees ons in die Nuwe Testament. Elkeen is VDM: Verbi Dei Minister – bedienaar van God se Woord. Bediening van die Woord het alles te doen met eerbiedige luister na die Woord, gretige inneem van die Woord, gegryp wees deur die Woord, suiwer uitleg en toepassing van die Woord. Die bedienaar van die Woord is geheel en al deur die Woord in beslag geneem. Só, vol van Gods Woord en Gees, bestyg hy die kansel. Nie om met veelheid van woorde (en kwinkslae) ’n fasiliteit aan die luisteraars te bemark nie. Wel om die HERE Here te verkondig: die HERE se verbondsgenade en verbondseise. Ook sy verbondsoordele. Dit alles word met gesag gedoen. Die gemeente word geroep om met ontsag te luister. Die gemeente se troos lê daarin om vol te word van die heerlikheid van God, sodat elke luisteraar met oortuiging kan sê: ‘Hoe groot is God; hoe klein is ons’.

FDM – Facilitator Dei Ministerii (dit is: fasiliteerder van die Goddelike bediening)? Nee. Nee. Nogmaals nee. Dit is nie die predikant se roeping nie. VDM – bedienaar van God se Woord: dit ís die predikant!  Daartoe word hy bekwaam gemaak en geroep. Predikante wat VDM is, rus die gemeente daadwerklik vir hulle dienswerk tot opbouing van die liggaam van Christus toe (Efesiërs 4:12).