Die plek wat ons as Christene in die samelewing moet hê, is iets wat ons gedagtes behoort besig te hou. Reeds in die vroeë kerk het Christene uitgestaan vir hulle diens, en so hulle Heer nagevolg en hul Koning verheerlik. Hier is ‘n gedeelte wat Justinus geskryf het, waarskynlik rond 155 nC:

Ons wat vroeër ons vreugde in hoerery gevind het, omhels nou alle kuisheid;

ons wat voorheen gebruik gemaak het van magiese middels, wy ons nou volledig aan die goeie en ongebore God;

die versameling en vermeerdering van geld en goed was voorheen vir ons die mees belangrike ding op aarde, nou leef ons met gemeenskaplike goedere en deel uit aan alle behoeftiges;

ons wat mekaar gehaat en mekaar se lewens verwoes het, en wat weens hulle ander gewoontes nie met mense van ‘n ander ras wou saamleef nie, leef nou, sins die koms van Christus, op goeie voet met hierdie mense en bid vir ons vyande;

ons span ons in om hulle wat ons haat te oortuig om volgens die goeie voorskrifte van Christus te leef sodat hulle ons deelgenote sal word - deelgenote in dieselfde blye hoop wat God, die Koning van alle mense, vir ons weggelê het.