Dit bly maar altyd ’n moeilike ding om antwoorde uit te Skrif te kry oor sake waarin die Skrif nie duidelike voorskrifte gee nie. Ek het onlangs op ’n paar mooi riglyne afgekom wat ons hierin kan help. Die skrywer (B Gritters) het eers oor die gelowige se vryheid in Christus gepraat. Christus het ons vrygekoop, en dit beteken dat ons nie onder mense se juk leef nie. Menslike voorskrifte en idees het geen gesag oor ons nie. Maar hoe moet ons nou met hierdie vryheid omgaan wat Christus vir ons aan die kruis verwerf het? Gritters gee vir ons hierdie riglyne.

Bykans op elke punt waar die Skrif ons leer oor die vryheid wat ons in Jesus het as dit gaan oor die middelmatige dinge (= die dinge waaroor die Skrif nie direkte voorskrifte gee nie), is daar ‘n duidelike waarskuwing om nie die vryheid te verkrag nie. Hierdie waarskuwings roep ons op om ons volwassenheid uit te leef deur sekere belangrike vrae oor hierdie middelmatige dinge aan onsself te vra.

Eerstens, wanneer Paulus verklaar: “Alles is my geoorloof,” voeg hy vinnig by ter wille van ons volwassenheid, “maar nie alles is nuttig nie” (1 Kor. 6:12; 1 Kor. 10:23). Uit liefde vir God en die naaste, is die volwasse kind van God in staat om die volgende vraag te beantwoord: “Is my gebruik van die ding lonend vir my en vir ander?”

Tweedens sê Paulus: “Alles is my geoorloof, maar ek sal my nie deur iets laat oorheers nie” (1 Kor 6:12). Beide Luther en Calvyn waarsku dat, omdat ons heer is van die goeie gawes van God, moet ons nie toelaat dat hulle meester word oor ons nie. Drank, tabak, kos, sport – dit alles het daardie gevaarlike krag. Christene is vry. Moenie slaaf van hierdie dinge word nie.

Derdens waarsku Paulus: “Maar pas op dat hierdie vryheid van julle nie miskien ‘n struikelblok word vir die wat swak is nie” (1 Kor 8:9). Ons gee om vir ons naaste; ons bewys hulle liefde. Dit maak dus saak wie raaksien wat ons doen, of wanneer ons ons daarvan weerhou om iets te doen. Omdat ons lief is vir ons naaste, wil ons nie graag hê dat hy moet struikel nie.

Vierdens vra die Woord van God dat enige iets wat ons doen, gedoen word “tot eer van die Here” (Rom 14:6). Is die saak suiwer en wettig vir my? Dan, as ek klaar is, sal ek vir God kan sê: “Dankie Here, vir daardie goeie gawe” (1 Kor, 10:30, 1 Tim. 4:4, 5). Doen dit “tot eer van die Here.” “Doen alles tot verheerliking van God” (1 Kor. 10:31).

Vry, met die skitterende vryheid van Jesus Christus, sal ons niemand toelaat om dit van ons te steel nie. Ons hou vas aan Calvyn se advies (soos hy in sy kommentaar oor 1 Korinthiërs 10:29 skryf): “Die godvresende mens rig hom volledig op die troon van God, het geen agting vir mense (se wysheid) nie, is heeltemal tevrede met die seën van vryheid wat deur Christus vir hom veilig gemaak is, is nie gebonde aan mense nie, ook nie gebonde aan situasies (voorskrifte) van sekere tye of plekke nie”. (Uit: Not commanded, not forbidden – Standard Bearer 1992).

Wanneer ons ons dus deur iets laat “bind”, dan doen ons dit omdat ons daarvan oortuig is dat die saak of daad tot eer van God en tot heil van ons naaste is.