Wat maak van ʼn gesprek ʼn pastorale gesprek? ʼn Ouderling of dominee wat met iemand oor die geloof wil praat, vind dikwels dat dit moeilik is om dit goed te doen. Die Nederlands Hervormde predikant, ds. C Bregman skryf hieroor die volgende.

Daar klink soms die versugting om meer inhoud in die geloofsgesprek te bring; om die saak van die evangelie self ter sprake te bring; om nie óór geloof te praat nie, maar vanuit die geloof. Om te luister en mee te leef is goed en wel, maar daaragter skuil nog iets. Hoe kan ons by dié diepte kom om mekaar ook dáárin te dien?

  Die geloofsgesprek het vir my al hoe meer die hart van die pastoraatsgesprek geword — dat ons in die gemeente oor die kern van die geloof met mekaar praat. Nie oor die kerk nie; nie oor bepaalde probleme nie; selfs nie oor die leer nie, maar oor God self en oor ons persoonlike omgang met Hom. Dit is nie in die praktyk eenvoudig om tot so ʼn gesprek te kom nie. Stille omgang met God is ʼn intieme saak en ʼn groot geheimenis. Dit vereis baie vertroue om met mekaar daaroor in gesprek te tree. Dit is dikwels ook moeilik om sulke persoonlike en diepgaande gedagtes behoorlik onder woorde te bring. Lang stiltes duik op en trane sit soms vlak in die oë.

Tog kan die wonder in so ʼn gesprek gebeur, dat iets van die Gees ervaar word in werklike bevryding, in egte gebedsgemeenskap. Sovele in die kerk verlang daarna.

Sleutelwoorde: 
geloofsgesprekke pastoraat