’n Mens kan nie genoeg verwonderd staan oor die nuwe mensheid wat in Christus sigbaar word, nie. Mense wat mekaar voorheen nie geken het nie, omhels mekaar nou (Rom 16:16). Hulle wat voorheen mekaar nie kon verdra nie, dra nou mekaar se laste.  Hulle wat mekaar gehaat het, bid nou vir mekaar. En hulle wat bang was vir die onbekende, vind rus in die wete dat Christus Self vir Hom ’n volk vergader. ’n Nuwe mensheid wat saam alles van Christus as die Weg, die Waarheid en die Lewe verwag.

Een van die mees treffende voorbeelde hiervan sien ons in die ontmoeting van Saulus (Paulus) en Ananias. Nadat Saulus tot bekering gebring is, en Ananias hiervan vertel is deur die Here, ontmoet die kerk-moordenaar en die dissipel vir die eerste keer. En ondanks alles wat Saulus in die verlede aan Ananias se geliefdes en medegelowiges gedoen het, is die eerste woorde wat ons van Ananias hoor: “Saul, broeder, ...” (Hand 9:17). Dadelik die aanspraak “broeder”. Dadelik ’n nuwe eenheid, ’n liefdesband wat bo alles uitstyg. Ondanks die verlede, hier is een wat by my hoort: broeder.  Dit wat nooit in die gedagte van mense sou opkom nie, is die werklikheid wat die Gees van Christus hier op aarde doen.

“Die vroeë kerk van Antiochië het Jode en heidene ingesluit, en het gereik van Herodes se pleegbroer tot die onbelangrikste slawe; en die dikwels trotse Griekse Christene van Masedonië het sigbaar omgegee vir die materiële behoeftes van die Christen Jode in Jerusalem. Die sigbare en praktiese liefde tussen ware gelowiges vandag (waarop die wêreld ’n reg het om dit by ons te sien!) moet sekerlik en sonder voorbehoud verby die grense van taal, nasionaliteit, ouderdom, kleur van ons vel, vlak van opleiding en inkomste,  aksente, klasverskille in die samelewing, kleredrag en kulturele verskille strek”. 

F Schaeffer, in: The Church at the end of the Twentieth Century