Opvoeding is moeilik. Dit voel dikwels asof ’n mens kan praat en praat, maar dit maak nie ’n verskil nie. Dit is net asof die woorde geen effek het nie. Asof ons kinders dit nie verstaan nie. Hulle bly eintlik maar net hulle eie kop volg.

Ja, natuurlik het dissipline ook nog sy plek in hierdie hele proses om ons kinders te leer wat dit beteken om die Here te dien, maar dissipline beteken nog nie dat ons kinders dit alles werklik begin glo nie. Hoeveel gesag ’n ouer ook al het, ons kan dikwels maar baie magteloos voel as dit kom by die opvoeding van ons kinders. Ons besef maar net weer dat daar werklik ’n werk van bo nodig is om ons kinders op God se weë te laat gaan. Maar somtyds kom die Gees ons ook op ’n ander wonderbaarlike manier te hulp – ’n weg waardeur ons nuwe geleenthede kry om te praat oor die Here en sy verbond met ons.

 Ons lees daarvan in Deuteronomium 6. Die bekende gedeelte wat gaan oor die opvoeding van ons kinders. Ons ken dit almal, die belangrike woorde oor hoe ons met ons kinders moet praat oor die weë van die Here, of ons nou sit of staan, op reis is of gaan lê. Maar onthou ons ook wat aan hierdie woorde voorafgaan? Want in die woorde vooraf gaan dit nie oor wat ons vir ons kinders moet vertel nie, maar allereers oor dit wat in ons eie lewe moet sigbaar word. Allereers moet hierdie wonderlike genade van die Here ons hart vervul en in ons dade sigbaar word. Dit wat ons so aanhoudend ons kinders moet bybring, moet allereers in ons eie hart wees (6:6).

Wanneer dit waar is, dan sien ons iets wonderliks gebeur! Deuteronomium 6 eindig immers met ons kinders wat begin vrae vra (6:20). Die kinders begin vra wat dit alles beteken.  Dit is die werklikheid wat die Gees bewerk as hierdie geloof in ons eie hart lewe. Waar ons self soveel geleenthede soek om aan ons kinders te verduidelik wat die lewe met die Here inhou, en ons voel ons kom nêrens met hierdie gesprekke nie, maak die Gees self deure vir ons oop. Kinders wat vra omdat hulle wil weet. Tien keer het ek al met my kind oor die saak gepraat (en ons moet!), en skielik vra hy my daaroor, asof dit die eerste keer is dat hy daarmee in aanraking kom.

Ja, die Gees draai dinge skielik om. Kinders wat self dinge by pa en ma raaksien, en wil hoor wat dit inhou. Kinders wat iets van die vreugde en rykdom van die lewe met God sien by hul ouers, hul grootouers, hul medegelowiges in die kerk, en wil weet wat die geheim van so ’n wonderlike lewe is.

 En dan is dit opvallend wat die seun in Deut 6 vra. Hy vra nie: hoe lyk ’n Christen se lewe nie. Hy vra nie na die inhoud van die gebooie en die weg van die Here nie. Hy ken dit reeds. Hy sien dit immers in sy ouers se huis! Nee, hy vra na die betekenis van dit alles. Hy vra die “hoekom”-vrae. Die vrae wat diep delf na wat die diepste oorsaak is hoekom so ’n weg gevolg word. Hy vra die vraag wat ons dadelik uitbring by kern van ons geloof: Wie ons God is, en sy magtige dade in ons lewe. ’n Heerlike geleentheid om oor ons God te kan getuig!

 Die Gees wek vrae by kinders wat leef by opreg Christelike ouers. Die Gees ken ons swakhede, en kom ons op ’n wonderlike manier, heel onverwags te hulp.