Bron: Die Kerkblad. 3 bladsye.

Wat Bedoel ons met Die Kerk

Hier het ons een van die terme wat die meeste ge­bruik word. Die persmedia is vol daarvan. In radio­ en TV-onderhoude word dit baie gebesig. Ons praat van 'die kerk'. 'n Vooraanstaande teoloog vertel van 'die kerk'. 'n Woordvoerder van 'n sinode sê: 'Die kerk' het besluit. 'n Joernalis van 'n koerant skryf: "Die kerk staan voor sy grootste uitdaging". Iemand gee 'n lesing oor "Die kerk in die jaar 2 000". 'n 'Kerkleier praat namens 'sy kerk' en dan bedoel hy 'n landswye permanente struk­tuur waarvan die gemeentes onderafdelings is. 'n Sekere godsdiensgroep beweer dat sy organisasie 'die kerk' is terwyl hulle die godheid van Christus loën. 'Die kerk' gaan samesprekings met die rege­ring voer, ens., ens.

Ja, wat is 'die kerk'?

Die term het 'n afgeslete muntstuk geword. Dit wat daarop staan, word nie meer duidelik gesien nie.

Die uitdrukking 'die kerk' het 'n cliché geword — 'n afgesaagde, holruggeryde term.

Die eenvoudige katkisasievraag🔗

Elke kind wat in 'n Gereformeerde kerk (hier is dit die gemeente op 'n bepaalde plek) belydenis van die geloof afgelê het, moes (selfs met herhaling) hierdie duidelike, eenvoudige vraag beantwoord: Wat is die kerk?

Maar let wel, dit is 'n vraag van die geloof: "Wat glo jy van die heilige, algemene Christelike kerk?" (Vr. 54, Heidelbergse Kategismus).

Ook artikel 27 van die Nederlandse Geloofs­belydenis (NGB) wat handel oor die kerk, begin met die woorde "Ons glo en bely 'n enige katolieke of algemene kerk…"

En ook elke Sondag bely die gemeente: "Ek glo aan 'n heilige, algemene, Christelike kerk…" Juis oor die kerk gaan dit nie oor verstandskennis nie, maar oor geloofskennis. Ons kry nie ons antwoord uit die geskiedenis van die kerk nie. Dit is ook nie een of ander groot teoloog of kerkleier wat uit sy eie kennis en ervaring vir ons die antwoord kan gee nie. Dit is 'n geloofsbelydenis wat die Heilige Skrif, die Woord van God, aan ons geleer het.

Slegs die een kerk🔗

Die Gereformeerde Belydenis (die Drie Formulie­re) praat nêrens van verskillende kerke nie, maar slegs van die een "heilige, algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges" (12 Artikels).

As die Heidelbergse Kategismus hierdie geloof­stuk wat ons elke Sondag in die erediens bely, verklaar, dan praat hy ook nie van verskillende gemeentes nie, maar van die een "gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is" (Sondag 21). Let wel, dit is nie maar slegs indiwidue wat uitverkies is nie, maar 'n gemeente!

Net so spreek art. 27 van die NGB nie van verskil­lende kerke nie, maar van die "enige katolieke of algemene kerk, 'n heilige vergadering van almal wat waarlik in Christus glo…"

In art. 28 word van dieselfde kerk gepraat as daar gesê word dat "daarbuite geen saligheid is nie", en juis daarom "almal verplig (is) om daarby aan te sluit en hulle daarmee te verenig om die eenheid van die kerk te bewaar deur hulle almal — as lede van een en dieselfde liggaam — aan sy leer en tug te onderwerp".

Die kerk op 'n bepaalde plek🔗

Hierdie aansluiting by die een algemene Christe­like kerk, is nie vaag en sonder adres of selfs 'n soort 'onsigbare lidmaatskap' nie. Nee, dit is 'n daad wat werklik kan gesien en beleef word. Art. 28 van die NGB sê duidelik dat dit die "plig van alle gelowiges (is) … om hulle by dié vergadering aan te sluit, waar God dit ook al gevestig het".

Hier staan ons by een van die allerbelangrikste waarhede wat ons bely: Dieselfde een heilige, algemene Christelike kerk, word deur God op ver­skillende plekke in die wêreld gevestig.

Nie onsigbaar nie, maar onoorsienbaar🔗

Hierdie een heilige, algemene, Christelike kerk "waar God dit ook al gevestig het", kan op daardie plek gesien word, maar kan nie in sy geheel oorsien word nie. (Met opset gebruik ons nie die begrippe 'sigbaar' en 'onsigbaar' wat soms verwar­rend is nie.) Die mensheid is bv. nie onsigbaar nie, maar onoorsienbaar.

Hierdie kerk (soms genoem 'plaaslike gemeen­te') is die kerk. Dit is nie 'n ander kerk as die een heilige, algemene Christelike kerk nie. Dit is die­selfde kerk. Hierdie kerk kan uitgeken word. As die Woord daar suiwer gepreek word, die sakra­mente bedien word soos wat Christus dit ingestel het en as die tug volgens God se Woord toegepas word, dan is hierdie kerk die ware kerk.

Dit is nie 'n uiterlike georganiseerde struktuur met 'n 'topbestuur' waarvan die gemeentes maar net onderafdelings of 'lede' is wat 'die kerk' is nie. Maar elke gemeente wat getrou is aan die Woord is 'die kerk', dieselfde een heilige, algemene Christelike kerk.

Die enigste ander 'kerk'🔗

In art. 29 gaan die NGB voort deur te waarsku teen die valse kerk. Die enigste ander kerk is die valse kerk en, so sê die artikel: "Hierdie twee kerke kan maklik uitgeken en van mekaar onderskei word".

Die valse kerk "skryf aan homself en sy besluit meer mag en gesag toe as die Woord van God; dit wil homself nie aan die juk van Christus onderwerp nie; dit bedien die sakramente nie soos Christus dit in sy Woord beveel het nie, maar neem weg en voeg by na eie goeddunke; dit vertrou meer op mense as op Christus".

Hoe word die ware kerk geregeer?🔗

Met art. 30 van die NGB bely die Gereformeerde kerke hoe dat die een heilige, algemene Christelike kerk wat "daar van die begin van die wêreld af tot aan die einde daar (sal) wees" en "oor die hele wêreld versprei en verstrooid" is (art. 27), "waar God dit ook al gevestig het" (art. 28), gere­geer moet word. Dit moet geregeer word "ooreen­komstig die geestelike bestuurswyse wat ons Here ons in sy Woord geleer het".

Jesus Christus is die enigste Hoof! (art. 29). En vir sy regering gebruik Hy "dienaars of herders om die Woord van God te verkondig en die sakramen­te te bedien". Christus gebruik ook "ouderlinge en diakens om saam met die herders die kerkraad te vorm".

Daar is geen sprake van 'n pous of enige mens wat die hoof van die kerk is nie.

Daar is ook geen sprake van 'n groep 'kerkleiers' buite die gemeente wat hulle moet regeer nie.

Daar is ook geen permanente kerkvergadering of sinode of enige bestuursliggaam wat van buite af die kerk moet regeer nie. 'n Sinode is nie 'die kerk' nie. Dit is 'n vergadering van plaaslike kerke wat as dit verdaag het, nie meer bestaan nie.

Ook mag die kerk nie deur 'n kommissie, of 'n deputaatskap of 'n 'kollege' van kerkamptenare geregeer word nie. Dit is onbybelse hiërargie (= 'priesterlike' heerskappy).

As ons tog maar eers weer 'n slag seker maak wat met 'die kerk' bedoel word en God se Woord soos wat ons Belydenis dit vertolk weer met groot erns bely en bestudeer, dan sal baie verwarring en misverstande in die gewone spreek- en skryftaal opgeruim word. Dan sal daar ook nie so maklik van 'die kerk' se beleid gepraat word nie, maar van die een heilige, algemene Christelike kerk se belyde­nis oor Jesus Christus.