Bron: Die Kerkblad, 2000. 4 bladsye.

Die Here Verhoor op die Regte Tyd

Daarna het God weer gebede vir die land verhoor.

2 Samuel 21:14

Lees 2 Samuel 21:1-14🔗

Dis ʼn aangrypende geskiedenis wat hier beskryf word. ʼn Geskiedenis vol onreg en wreedheid, maar ook vol deernis. ʼn Geskiedenis waaruit ons die Here God leer ken as die God van reg en geregtigheid en van genade.

Immers, dit gaan in alles wat ons in die Bybel lees, mos daaroor dat ons die Here beter sal leer ken, nie waar nie? Dat ons in sy Vaderhart al hoe dieper sal inkyk, en dat Hy deur al die bladsye van die Bybel, al die beskrywings van wat gebeur het, en al die profesieë en die Psalms, dat Hy deur dit alles ons wil leer om Hom werklik te kan ken. So wil Hy ook by 2 Samuel 21 deur sy Gees ons oë en harte oopmaak dat ons sal weet: die Here God praat ook in hierdie deel van sy Woord met my oor Homself. Wat leer ons hier van Hom?

Dit lyk dikwels of die Here ons nie verhoor nie. Ons vra byvoorbeeld dat daar weer liefde in ons huise sal kom, en dit gebeur soms nie! Ons bid vir ouers of kinders en hulle
omstandighede bly dieselfde! Waarom? Waarom kom daar nie ʼn einde aan die haat en veragting tussen ons mense nie? Waarom hou die plaasmoorde en motorkapings nie op nie, en waarom is daar nog so baie miljoene armes, ongeletterde mense, so baie mense wat werk soek en nie kry nie? Dit lyk of die Here nie verhoor nie! Ons bid tog gereeld en aanhoudend daarvoor. Hoe moet ons dit verstaan?

Uit 2 Samuel 21 leer ons die Here ken as God wat op die regte tyd gebede verhoor. Aan die begin lees ons: "Daar was hongersnood in die tyd van koning Dawid", en in ons teksvers lees ons: "Daarna het God weer gebede vir die land verhoor." So leer ons die Here hier ken: Die Here verhoor op die regte tyd! Ons moet rekening hou met die volgende:

Hy oordeel oor ongeregtigheid🔗

ʼn Mens skrik as jy lees wat hier gebeur het.

Lank voor die tyd van Dawid en Saul, in die tyd toe die volk Israel in Kanaän ingetrek het, het hulle ʼn ooreenkoms aangegaan met die Gibeoniete dat hulle hulle nie sal doodmaak nie. Ons lees in Josua 9 dat die Israeliete ʼn eed afgelê het dat hulle die Gibeoniete sal spaar. Hulle het so voor die Here gesweer. En die Gibeoniete het toe die houtkappers en die waterdraers vir Israel geword, die mense wat die harde werk moes doen.

Maar jare later is hierdie eed verbreek. Ons het hier in 2 Samuel 21 gelees: Saul het die Gibeoniete probeer uitroei in sy geesdrif vir die saak van Israel en Juda. Toe dit vir Saul gelyk het dis vir sy eie mense voordelig dat daar liewer nie meer Gibeoniete in die land moet wees nie, het hy die eed wat sy voorouers afgelê het, verbreek en die Gibeoniete probeer uitroei.

Dit gebeur meermale! Dis tragies dat deur die loop van die eeue regerings, wat eintlik dienaars van God moet wees, wat moet sorg dat reg en geregtigheid geskied, ter wille van eiebelang en groepsbelange self onreg gepleeg het — mense laat vermoor het om hulle eie doel te kan bereik, mense verneder en emosioneel vernietig het omdat hulle nie by die planne van die regering ingepas het nie.

Dawid en Gibeoniete

Dit het in alle tye en in baie lande gebeur ook in ons land, baie keer — aan die begin van die eeu met die Anglo-Boereoorlog en ook gedurende die apartheidsjare, en vandag nog! Saul was sekerlik nie die laaste koning wat mense uit die samelewing laat verwyder het nie!

En Dawid kom agter dat die Here die land nie met reën seën nie, omdat Hy oordeel oor die onreg wat Saul gepleeg het.

Dit moet ons vashou: die Here verdra geen onreg nie. Hy oordeel oor die onreg wat mense mekaar aandoen. ʼn Mens moenie dink jy kan jou voorspoed en geluk bou op ongeregtigheid, op onreg wat jy ander mense aandoen, op leuens en bedrog en moord en geweld nie. Ons het te doen met ʼn lewende God. Dis ons troos! Maar dis ook vir ons ʼn waarskuwing. Vir elkeen van ons, ook vir elke regering: moenie eers probeer om ander te verdruk en te benadeel ter wille van eie belange of belange van jou eie groep nie! Saul het gedink hy kan dit maar doen, want dit gaan tog oor die volk van die Here, Israel en Juda — maar die Here sê: Ek haat onreg!

Wat moet Dawid nou doen? Hy doen presies wat ons ook dikwels probeer, en waarteen die Here ons hier waarsku.

Ons probeer dikwels onreg regstel deur nuwe onreg🔗

Dawid laat twee seuns van Saul en vyf van Saul se kleinseuns oorlewer aan die Gibeoniete, en die Gibeoniete vermoor hulle en laat hulle ophang op die berg Gibea. Hier staan in vers 9: "Die sewe manne is gedood en voor die Here op die berg Gibea opgehang." Jy kan sommer hoor die mense het gevoel: Hier voor die Here stel ons die onreg van die verlede weer reg — die sewe lyke wat daar hang, wys dat die onreg van die verlede nou weer reggestel is.

Dink jy dit werk so? Nee, dit kan mos nie reg wees nie! Dis mos weer nuwe ongeregtigheid. Sewe mense wat geen deel gehad het aan die uitmoor van die Gibeoniete nie, moet met hulle lewe boet vir Saul se sonde. Koning Dawid laat dit toe. Dis hoe dinge in sy tyd gedoen is!

En dit pas koning Dawid goed! Dit wys vir almal dat Saul nou nie meer koning is nie; Dawid regeer nou en hy stel die onreg wat Saul gepleeg het, reg. Hulle lyke moet daar bly hang — hulle word nie afgehaal en begrawe nie — wreedheid word met verskriklike wreedheid beantwoord

Die meeste van ons het seker al beleef watter skade dit in ʼn gesin aan-rig as ouers en kinders mekaar wil terugbetaal vir wat verkeerd gedoen is. En dink net hoe gaan dit in ʼn huwelik as man en vrou die ander een wil laat boet vir foute wat begaan is: "As jy ontrou was, sal ek nou ook ontrou wees!" "As jy nie aandag gee nie, probeer ek ook nie meer nie!"

En dis seker ook een van die ernstigste bedreigings op die oomblik in ons land: vir baie jare is met die beleid van apartheid miljoene mense veronreg, net maar omdat hulle nie blankes was nie. Geen mens kan ooit goedpraat dat soveel mense amper twee geslagte lank verneder en benadeel is, onreg gely het en emosioneel en geestelik afgebreek is nie.

En ons weet: later is die gewelddadige verset teen die beleid onderdruk met militêre geweld en met geheime optredes wat mense uit die gemeenskap verwyder het deur gruweldade wat nou eers ten volle bekend geword het. Dit het in ons land gebeur — of jy nou daaronder gely het of daarmee saamgestem het of nie — die feit is: dit het gebeur!

En nou het ons te doen met die gevaar dat mense in ons nuwe situasie met ander metodes tog eintlik dieselfde gaan probeer bereik: om terug te betaal, om vergeld, om ander te laat boet: ander vorme van diskriminasie, en vernedering en onreg!

Wat moet ons as Christene doen? Wat vra die Here van ons in hierdie tyd in hierdie land met al die geweld en bedrog en korrupsie en haat en ontering van mense? Wat moet ons doen?

Daar is eintlik ʼn beter vraag om te vra. Die vraag: Wat doen die Here. in ons in so ʼn situasie?

Rispa🔗

Hy lei ons deur rou en berou tot die belewing van sy genade🔗

Ons lees in 2 Samuel 21 dat dit die hele tyd nog nie begin reën het terwyl koning Dawid met die Gibeoniete onderhandel het en hulle toelaat om wraak te neem, en hulle die seuns en kleinseuns van Saul doodmaak en hulle lyke daar ophang op die berg nie. Die droogte en hongersnood hou aan. Die oordeel van die Here laat die hele land nog steeds ly.

Maar toe gebeur iets wat die situasie verander! Rispa, die ma van Saul se twee seuns wat opgehang is, gaan sit daar op die rots waar hulle en die ander vyf kleinseuns hang. Sy rou oor hulle wrede dood en oor al die onreg van Saul en die onreg van Dawid en van die Gibeoniete, en sy gooi haar rouklere oor die rots en gaan sit daarop, en elke keer as ʼn roofdier of ʼn roofvoël naderkom, jaag sy hulle weg — dae lank, weke lank — ons weet nie presies hoe lank nie!

Sy gaan nie maar sommer net voort met haar lewe, ten spyte van die onreg, soos ons dikwels doen nie! Sy is in rou oor die wreedheid van mense wat ander nie eers ʼn waardige begrafnis gun nie.

Haar rou en deernis bring verandering! Mense gaan vertel toe vir koning Dawid wat Rispa doen, en hy besef wat hy gedoen het, is verkeerd. En hy laat die beendere van Saul se seuns en kleinseuns daar afhaal en laat hulle begrawe saam met Saul en Jonatan se beendere in die graf van Saul se pa.

Toe het die Here weer gebede vir die land verhoor!

Toe die onreg betreur is en koning Dawid berou gehad het oor die onreg wat hy toegelaat het.

So beleef ons weer die genade van God! En dis waarby ons moet uitkom; dis God se plan met jou en my lewe. Al is ons lewens hoe vermink deur ons eie optrede of deur ander se boosheid, al is jou huwelik hoe ongelukkig en al is jou kinders opstandig en verbitterd teen jou — Hy wil ons daarby bring dat ons aan sy genade sal vasgryp, aan Jesus Christus in geloof sal vasgryp, want God het in sy genade Jesus aan ons gegee as die Here wat ons weer heelmaak.

By Jesus Christus wat op Gólgota al ons ongeregtigheid op Hom geneem het, beleef ons weer die genade van God! Hy verbreek die wrede ketting van wraak en weerwraak. Ons beleef weer sy genade as ons van harte treur oor die ongeregtigheid en as ons nie maar aangaan met ons lewe asof daar niemand is wat seerkry nie.

  • Ons leef mos maar voort asof daar nie miljoene mense is wat reeds VIGS het of op pad is daarheen nie.
  • Ons gaan mos maar aan met ons eie drome en planne, terwyl daar miljoene is wat ongeletterd en verarmd is, baie is wat hulle werk verloor en nie weer werk kan vind nie!

Rispa het nie daardie sewe manne vermoor nie, maar sy los alles en gaan sit op haar rouklere hulle liggame en bewaak. Het ons al regtig begin rou oor die baie onskuldiges wat vermoor word? Het ons al begin rou oor die onreg van ons verlede? Ook die onreg van ons apartheidsverlede? Het jou rou al oorgegaan in berou wat lei tot bekering, tot dade wat getuig van reg en geregtigheid?

Ons sal weer agterkom ons het ʼn lewende God wat hoor as ons bid vir ons land, en wat weer sy genade aan ons gee, en seën en lewe en ʼn toekoms — as ons net eers bereid is om die roete te volg wat Hy vir ons wys: droefheid en berou oor ons ongeregtigheid en bekering en vasgryp aan sy genade wat Hy in Jesus kom wys het, en dan ook doen en lewe soos mense wat berou het!

gebed

Daarom: kom ons rou oor ons liefdelose verlede, die onreg en die bitterheid, en kom ons rou oor die wreedheid en gevare van ons tyd kom ons treur oor die ellende! Kom ons treur saam, Christene uit al die dele van die bevolking! Kom ons treur saam oor mekaar se swaarkry! Kom ons soek saam genade by God!

Mag God gee dat daar geregtigheid sal geskied — en dat ons al hoe meer die ontferming van die Here sal beleef!