“Ons verstaan dat die mense in Europa bang is vir vlugtelinge, maar ek hoop dat julle nooit sal veralgemeen en in elke vlugteling ‘n verdagte sien nie.” Dit is woorde van Edward Awabdeh (59), predikant uit die Siriese Damaskus. Hy was, op uitnodiging van die sendingsorganisasie CAMA, ‘n paar dae in Nederland om Christene te vertel van die situasie in die oorloggeteisterde Sirië. Saterdag het hy met omtrent honderd mense in die Chinese ABC-gemeente in Zoetermeer gepraat. 

Dit is donker in Sirië. Baie donker. Awabdeh draai nie doekies om nie. Hy wys ’n satellietfoto van sy land in die nag. Slegs hier en daar is ’n ligpuntjie. In 83 persent van die land is daar nie meer lig nie; in Aleppo is dit selfs 97 persent. Hierdie foto wys deur watter lyding die volk gaan. Meer as die helfte van die bevolking het gevlug na ander dele van die land of oor die land se grense. Die helfte van hulle is onder sewentien jaar. Drie miljoen kinders gaan nie skool toe nie.

Die predikant vertel wat hy alles ervaar. Een van die jongmanne uit die kerk van Aleppo is sedert 2012 vermis. Sy ma weet nog steeds nie wat met Rafi gebeur het nie. ’n Meisie uit ons gemeente het nog met palmpaasfees in die kerk gesing. Die dag daarna is haar skool gebombardeer en het sy beide haar voete verloor. Awabdeh is egter nie ’n man sonder hoop nie. Die oorlog in Sirië leer ons dat die kwaad ‘n realiteit is. Ons voel dit elke dag. Maar Jesus is ook baie eg én Hy is die oorwinnaar. Hy lees uit Jesaja 60 waar daar staan dat die duisternis die aarde bedek en donkerte die nasies. Daar staan egter ook dat jy moet opstaan, omdat jou lig gekom het; die luister van die Heer skyn oor jou. Ons kan as kerk, met God se genade, die lig terugbring in ons land. Soms is daar vrae waarop ons geen antwoorde het nie, maar ons vertrou op die hand van die lewende God.

Bekering is aan die orde van die dag. Hy skat dat 60 tot 70 persent van die kerkmense gevlug het, maar – prys God – daar kom meer mense kerk toe as ooit. Die kerk is nog steeds vol. Ons hou twee doopdienste per jaar. Die afgelope tyd het ons honderd mense per jaar gedoop. Die kerk van Awabdeh bestaan uit ongeveer driehonderd lidmate, maar hulle bereik meer as tweeduisend gesinne. Die kerk bied mense ’n luisterende oor, help gestremde kinders, weeskinders, vroue en studente. Elkeen in die gemeente is aktief.

Baie Siriese vlugtelinge kom met ’n ver ompad na Nederland. Awabdeh en sy vrou, Rana (51), het ‘normaal’ met ’n vliegtuig na die land gekom. Dit was nie maklik nie. Hulle woon in Damaskus, maar daar is omtrent geen vlugte wat meer daarvandaan vertrek nie. Hulle het dus deur Beiroet in Libanon na Parys gevlieg en daarvandaan na Nederland. Gelukkig kon hulle ’n visum kry.

Vandag gaan die Awabdehs al weer huistoe – sonder enige huiwering. Hulle dink nie aan wegvlug nie. Natuurlik is dit menslik, maar dit is ook kortsigtig. Hulle voel dat hulle ’n onderdeel is van God se plan en instrumente in sy hand. Dit is hulle land en hul mense en hul kerke, maar dit is ook hul God en sy plan. Dit is ’n voorreg om tans in Sirië te mag werk. Dit wil nie sê dat dit altyd maklik is nie. Dit is emosioneel baie moeilik in Sirië. Hulle moet konstant voorbereid wees vir verskriklike nuus. Hulle leef daagliks met gebroke gesinne en neerslagtigheid.

Edward Awabdeh is bly dat hy ’n paar dae in Nederland kon deurbring. Nie net om te vertel van die situasie in Sirië nie, maar ook om Siriese Christelike leiers wat na Nederland gevlug het te bemoedig en op te roep om te help waar hulle kan. Hy bedank die Nederlanders vir hul hulp wat hulle verleen aan Siriese vlugtelinge. Hy deel dan ook ten slottle die volgende uit sy ervarings: “Om te leef vir iets wat vernietig kan word deur die dood, is ’n vermorsing. ’n Vermorsing van jou lewe.”

(Bron: Nederlandse Dagblad)